Jakob, jy moet ’n bietjie hieroor gaan nadink. Israel, jy moet onthou dat jy aan My behoort. Jy moet My dien. Ek sal jou nooit in die steek laat nie, Israel. Ek het jou oortredings soos mis voor die son laat verdwyn. Ek het jou sondes soos ’n wolk laat verdamp. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos. Die lug daar bo moet uit volle bors sing oor wat die Here gedoen het. Selfs in die laagste plekke onder op die aarde moet daar hardop gesing word. Die berge met die bosse en bome daarop moet juig. Die Here het Jakob vrygemaak. Die Here het vir Israel gewys hoe groot Hy is. Die Here wat jou vrygemaak het, wat jou van kleins af sy volk gemaak het, sê: Ek is die Here wat alles gemaak het. Ek het die blou lug daar bo oopgespan. Ek laat die aarde uitstrek na alle kante toe. Ek het dit gemaak sonder dat iemand My gehelp het. Ek wys hoe verkeerd mense is wat die toekoms voorspel. Ek maak die fortuinvertellers belaglik. Ek wys vir dié wat dink dat hulle verstandig is hoe dwaas hulle eintlik is. Ek laat dié wat dink dat hulle slim is, insien hoe dom hulle werklik is. Ek laat die dinge gebeur wat my dienaar vir julle sê nog gaan gebeur. Ek laat dit waar word wat my boodskapper vir julle gesê het. Ek sê vir julle dat daar weer mense in Jerusalem sal bly. Die dorpe in Juda sal herbou word. Ek sal die bouvalle van Jerusalem weer opbou. Ek beveel die see om droog te word en die riviere om te gaan staan. Ek beveel Kores om koning te wees. Hy moet alles laat gebeur wat Ek wil hê. Hy moet opdrag gee dat Jerusalem weer opgebou word en dat die tempel se fondament weer gelê moet word.
Lees Jesaja 44
Deel
Vergelyk alle weergawes: Jesaja 44:21-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's