“ Onthou die volgende, Jakob,
ja, Israel,
want jy is my dienskneg:
Ek het jou gevorm,
my dienskneg is jy.
Israel, vir My is jy nie vergete nie.
Ek het jou oortredings soos 'n newel,
jou sondes soos 'n wolk weggevee.
Keer terug na My,
want Ek het jou losgekoop.”
Jubel, hemel,
want die HERE het opgetree!
Juig, dieptes van die aarde!
Breek uit in jubelkrete, berge,
bosse en elke boom daarin;
want die HERE het Jakob losgekoop,
in Israel sy heerlikheid getoon!
So sê die HERE, jou losser,
Hy wat jou in die moederskoot
al gevorm het:
“Ek is die HERE
wat alles gemaak het,
wat alleen die hemel oopspan,
wat die aarde uitbrei
– wie was by My? –
wat die voortekens
van orakelpriesters verydel,
wat van voorspellers gekke maak,
wat wyses laat terugdeins
en hulle kennis belaglik maak,
wat die woord
van sy dienskneg bevestig,
wat die plan
van sy boodskappers uitvoer,
die Een wat oor Jerusalem sê,
‘Sy sal bewoon word,’
en oor die dorpe van Juda,
‘Hulle sal herbou word,
Ek sal sy puinhope weer oprig,’
die Een wat vir die diepsee sê,
‘Word droog!
Jou seestrome gaan Ek drooglê,’
die Een wat oor Kores sê,
‘Hy is my herder;
en alles wat Ek wil, sal hy uitvoer,’
deur oor Jerusalem te sê,
‘Sy sal herbou word,’
en die •tempel –
‘sy fondament sal gelê word.’ ”