Jesaja 10:18-34

Jesaja 10:18-34 DB

Ook Assirië se magtige leër, wat soos ’n magtige bos is wat op vrugbare grond geplant is, sal vernietig word. Die Here sal hulle laat agteruitgaan soos iemand wat deur ’n ongeneeslike siekte aangetas is. Daar sal so min bome in hierdie magtige bos wat Assirië was, oorbly dat selfs ’n klein kindjie hulle sal kan tel. In daardie tyd sal die klein groepie Israeliete wat uit die nageslag van Jakob oorgebly het, nie meer hulp gaan soek by Assirië wat hulle in die grond in vertrap het nie. Nou sal hulle net op die Here, die heilige God van Israel, vertrou. ’n Klein groepie van die nageslag van Jakob sal na hulle magtige God toe terugkom. Alhoewel die bevolking van Israel nou so baie is soos die sand van die see, sal net ’n klein groepie van hulle oorbly en terugkom na hulle land toe. Die Here het klaar besluit om hulle te vernietig en dit is hulle verdiende loon. En dit wat die Here, die Almagtige, besluit het, doen Hy; Hy verander nie van plan nie. Daarom, so sê die Here, die almagtige God, vir sy volk wat in Jerusalem woon: Moenie bang wees vir die Assiriërs nie, selfs al laat hulle julle swaarkry soos destyds toe julle slawe in Egipte was. Dit sal nie te lank aanhou nie, en dan sal Ek al my woede op hulle uithaal en hulle vernietig. Ek, die Here die Almagtige, sal hulle met ’n sweep slaan, soos toe Gideon die Midianiete by die rots van Oreb verslaan het. Ek sal hulle vernietig soos toe Ek die Egiptenaars in die see laat verdrink het toe Moses sy kierie uitgesteek het. Daardie dag sal Ek julle uit die mag van Assirië bevry en die juk van slawerny wat so swaar op julle skouers druk heeltemal wegvat. Kyk, hier kom die Assiriese leër aan! Hulle oorval Aja en Migron en bêre hulle voorrade in Mikmas. Hulle trek oor die bergpas en slaap die nag in Geba. Daar is paniek in Rama, en in Saul se stad, Gibea, slaan die mense op die vlug. Skree van vrees, inwoners van Gallim! Lajesa se inwoners hoor dit en weet wat kom. Die arme Anatot is volgende. Die mense van Madema is aan die vlug en dié van Gebim soek wegkruipplek. Die Assiriërs sal vandag nog in Nob kamp opslaan en van daar af bal hulle dreigend die vuis vir Sion, die berg waarop Jerusalem gebou is. Maar dit is die Here, die almagtige God, wat Jerusalem sal laat omval soos ’n boom waarvan die takke met kragtige houe afgekap word. Hy sal die hoë bome afkap en hulle in die stof laat lê. Die Here sal hulle uitkap soos mens ’n hele bos met ’n byl uitkap, selfs die Libanon se mooiste bome sal voor Hom val.