JESAJA 10:18-34

JESAJA 10:18-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit sal die geëerdes van sy bos en wingerd vernietig – siel sowel as liggaam. Dit sal wees soos 'n invalide wat wegkwyn. Wat oorbly van die bome van sy bos, sal so min wees dat 'n kind dit sal kan neerskryf. Op daardie dag sal hulle wat oorgebly het van Israel, en hulle van die huis van Jakob wat vrygekom het, nie verder steun op die een wat hulle slaan nie, maar met getrouheid steun op die HERE, die Heilige van Israel. 'n Oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die Magtige God. Ja, al was jou volk, Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel daarvan sal terugkeer. Vernietiging is bepaal, in geregtigheid stroom dit – ja, volslae vernietiging is wat bepaal is. My Heer, die HERE, Heerser oor alle magte, gaan dit midde-in die hele land voltrek. Daarom, so sê my Heer, die HERE, Heerser oor alle magte: “My volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir Assirië nie! Hy slaan jou met 'n stok; hy lig 'n staf op teen jou, op dieselfde manier as Egipte. Ja, nog net 'n rukkie, dan sal die vervloeking tot 'n einde kom, en my toorn sal gerig wees op hulle uitwissing.” Die HERE, Heerser oor alle magte, sal 'n sweep oor hom swaai soos met die aanval op Midian by die rots van Oreb. Sy staf sal oor die see wees; Hy sal dit ophef op dieselfde manier as in Egipte. Op daardie dag sal Assirië se las van jou skouer val, sy juk van jou nek, ook die strop van die juk voor die skof. Hy het teen Aja opgetrek, hy het by Migron verbygegaan; by Migmas het hy sy toerusting geberg. Hulle trek oor die pas: “Geba is ons oornagplek.” Rama is vreesbevange, Gibea van Saul vlug. Skreeu hardop, dogter van Gallim! Luister mooi, Lajesa! Magtelose Anatot! Madmena vlug weg; die inwoners van Gebim soek skuiling. Vandag nog roep hy halt in Nob. Hy beduie met sy hand na die berg van die dogter van Sion, die heuwel van Jerusalem. Kyk, die Heer, die HERE, Heerser oor alle magte, gaan met skrikwekkende krag die blaredak wegkap; dié wat hoog uitgegroei het, word afgekap, die hoës sink neer. Hy sal die struikgewas in die bos uitkap met 'n ysterwerktuig, en die Libanon, die magtige, sal val.

JESAJA 10:18-34 Die Boodskap (DB)

Ook Assirië se magtige leër, wat soos ’n magtige bos is wat op vrugbare grond geplant is, sal vernietig word. Die Here sal hulle laat agteruitgaan soos iemand wat deur ’n ongeneeslike siekte aangetas is. Daar sal so min bome in hierdie magtige bos wat Assirië was, oorbly dat selfs ’n klein kindjie hulle sal kan tel. In daardie tyd sal die klein groepie Israeliete wat uit die nageslag van Jakob oorgebly het, nie meer hulp gaan soek by Assirië wat hulle in die grond in vertrap het nie. Nou sal hulle net op die Here, die heilige God van Israel, vertrou. ’n Klein groepie van die nageslag van Jakob sal na hulle magtige God toe terugkom. Alhoewel die bevolking van Israel nou so baie is soos die sand van die see, sal net ’n klein groepie van hulle oorbly en terugkom na hulle land toe. Die Here het klaar besluit om hulle te vernietig en dit is hulle verdiende loon. En dit wat die Here, die Almagtige, besluit het, doen Hy; Hy verander nie van plan nie. Daarom, so sê die Here, die almagtige God, vir sy volk wat in Jerusalem woon: Moenie bang wees vir die Assiriërs nie, selfs al laat hulle julle swaarkry soos destyds toe julle slawe in Egipte was. Dit sal nie te lank aanhou nie, en dan sal Ek al my woede op hulle uithaal en hulle vernietig. Ek, die Here die Almagtige, sal hulle met ’n sweep slaan, soos toe Gideon die Midianiete by die rots van Oreb verslaan het. Ek sal hulle vernietig soos toe Ek die Egiptenaars in die see laat verdrink het toe Moses sy kierie uitgesteek het. Daardie dag sal Ek julle uit die mag van Assirië bevry en die juk van slawerny wat so swaar op julle skouers druk heeltemal wegvat. Kyk, hier kom die Assiriese leër aan! Hulle oorval Aja en Migron en bêre hulle voorrade in Mikmas. Hulle trek oor die bergpas en slaap die nag in Geba. Daar is paniek in Rama, en in Saul se stad, Gibea, slaan die mense op die vlug. Skree van vrees, inwoners van Gallim! Lajesa se inwoners hoor dit en weet wat kom. Die arme Anatot is volgende. Die mense van Madema is aan die vlug en dié van Gebim soek wegkruipplek. Die Assiriërs sal vandag nog in Nob kamp opslaan en van daar af bal hulle dreigend die vuis vir Sion, die berg waarop Jerusalem gebou is. Maar dit is die Here, die almagtige God, wat Jerusalem sal laat omval soos ’n boom waarvan die takke met kragtige houe afgekap word. Hy sal die hoë bome afkap en hulle in die stof laat lê. Die Here sal hulle uitkap soos mens ’n hele bos met ’n byl uitkap, selfs die Libanon se mooiste bome sal voor Hom val.

JESAJA 10:18-34 Bybel vir almal (ABA)

Hy sal ook die mooi bosse en bome verbrand. Dit is al die Assiriërs, almal wat asemhaal en lewe. Hulle sal verdwyn soos iets wat niks beteken nie. Assirië is die bos, en daar sal min bome oorbly, 'n kind sal die bome kan tel. Daardie dag sal die Israeliete wat oorgebly het, die nageslag van Jakob wat nog lewe, ophou dink dat Assirië hulle kan help. Dit was Assirië wat slegte dinge gedoen het aan hulle. Hulle sal weet die Here kan hulle help, die Heilige God van Israel. Die mense wat oorgebly het, sal terugkom, die mense van die nageslag van Jakob wat oorgebly het. Hulle sal terugkom na die God wat oorlog kan maak. Israeliete, julle was so baie soos die sand by die see, maar min van julle sal oorbly en terugkom. Die Here het besluit baie van julle moet sterf, julle straf kom soos 'n watervloed wat oor alles stroom. Die Here wat oor alles regeer, het dit klaar besluit, en Hy sal nie sy plan verander nie. Hy sal al die mense van die land straf. Maar die Here wat oor alles regeer, sê: “My volk wat in Sion woon, julle moenie bang wees vir die Assiriërs nie. Hulle doen slegte dinge aan julle soos die Egiptenaars aan julle voorvaders gedoen het, maar dit sal nie lank aanhou nie. Dan sal Ek nie meer kwaad wees vir julle nie. Ek sal kwaad wees vir die Assiriërs en Ek sal hulle almal doodmaak. Ek, die Here wat oor alles regeer, sal hulle slaan met 'n sweep soos Ek die Midianiete by die Oreb-rots geslaan het. Ek sal my kierie oor die water uitsteek soos toe Ek die Egiptenaars laat sterf het. Wanneer Ek dit gedoen het, dan sal die Assiriërs julle nie meer laat swaarkry nie. Ek sal hulle juk wegvat van julle nek, dan sal julle nie meer hulle slawe wees nie.” Die Assiriërs kom om oorlog te maak. Hulle kom by die stad Aja, hulle gaan by Migron verby, hulle bêre hulle goed in Mikmas. Hulle gaan oor die berge om in Geba te slaap. Die mense van die stad Rama bewe, die mense vlug uit Gibea, die stad van Saul. Die mense van Gallim moet skree, die mense van Lajesa moet luister. Die mense van Anatot kan hulleself nie help nie. Die mense van Madmena vlug, die mense wat in Gebim woon, probeer wegkruip. Môre sal die Assiriërs in die stad Nob wees. Hulle sal met hulle vingers wys na die berg waar Jerusalem is, waar die tempel staan. Ja, die Here, die Here wat oor alles regeer, sal die takke afkap. Hy is sterk, Hy sal die groot, hoë bome afkap, dit is die mense wat dink hulle is belangrik. Die Sterk God sal die plante in die bos afkap met 'n byl. Hy sal die bome van die Libanon-bos laat omval.

JESAJA 10:18-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Ook sal Hy die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteboord verteer, van die siel af tot die vlees toe, sodat dit is soos wanneer 'n kranke wegkwyn. En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en 'n seuntjie sal hulle kan opskrywe. En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe. Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid. Want 'n verdelging wat vas besluit is, sal die Here HERE van die leërskare voltrek in die midde van die hele aarde. Daarom, so sê die Here HERE van die leërskare: O My volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir Assur wat jou met die staf slaan en sy stok teen jou ophef op die manier van Egipte nie. Want nog 'n baie kort rukkie, dan is die grimmigheid ten einde, en my toorn gaan uit om húlle te vernietig. En die HERE van die leërskare sal oor hom die gésel swaai soos Mídian verslaan is by die rots Oreb; en sy staf sal wees oor die see, en Hy sal dit ophef op die manier van Egipte. En in dié dag sal sy las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid. Hy oorval Ajat; hy trek deur Migron; in Migmas laat hy sy pakgoed agterbly. Hulle trek oor die nek. Laat Geba ons nagverblyf wees! Rama bewe, Gíbea van Saul vlug. Skreeu dit uit, dogter van Gallim! Luister, Lais! Arme Ánatot! Madména vlug, die inwoners van Gebim soek skuiling! Nog vandag staan hy in Nob, hy swaai sy hand teen die berg van die dogter van Sion, teen die heuwel van Jerusalem! Maar kyk, die Here HERE van die leërskare slaan met skrikwekkende geweld die takke af, en die hoog uitgegroeides word omgekap en die verhewenes neergegooi; en Hy sal die digte takke van die bos met die yster omkap, en die Líbanon sal val deur die Heerlike.

JESAJA 10:18-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig. Die bome wat in die bos, Assirië, oorbly, sal so min wees dat 'n klein seuntjie dit sal kan tel. In dié tyd sal dié wat in Israel, in Jakob oorgebly het en ontkom het, nie meer hulle vertroue stel in Assirië deur wie hulle vertrap is nie, maar hulle sal net op die Here, die Heilige van Israel, vertrou. Daar sal 'n oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob. Al sou jou mense, Israel, so baie wees soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel sal na die land toe terugkom. Maar die verdelging staan vas, die vergelding kom aan soos 'n vloed: Die Here ons God, die Almagtige, het vas besluit om die hele land te verdelg. Daarom, so sê die Here ons God, die Almagtige: My volk wat op Sion woon, moenie bang wees vir die Assiriërs nie, vir dié wat vir julle vertrap het en slawe gemaak het van julle, soos Egipte gedoen het. My toorn teen julle sal nog net 'n kort rukkie duur, dan sal dit die Assiriërs uitroei. Die Here die Almagtige sal hulle met 'n sweep slaan, soos vir Midian by die Orebrots; Hy sal sy stok oor die water uitsteek en die Assiriërs tref soos Hy met die Egiptenaars gedoen het. In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word. Die Assiriërs oorval Aja; hulle trek deur Migron; in Mikmas bêre hulle hulle voorrade. Hulle trek oor die pas en sê: “Ons wil vannag in Geba kamp opslaan.” Die inwoners van Rama bewe, dié van Gibea van Saul slaan op die vlug. Skreeu, mense van Gallim! Luister, inwoners van Lajesa! Arme Anatot! Die inwoners van Madmena vlug, dié van Gebim soek skuiling! Nog vandag sal die Assiriërs in Nob kamp opslaan, en daarvandaan sal hulle beduie in die rigting van die Sionsberg, die heuwel waarop Jerusalem lê. Maar dan sal die Here ons God, die Almagtige, die takke van die bos, Assirië, met geweld afkap. Die hoë bome sal afgekap word, die grotes sal val. Die Here sal die digte takke van die bos met 'n byl afkap; die Libanon sal val voor die magtige God.

JESAJA 10:18-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

en sal die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteland verteer, siel sowel as liggaam, en hulle sal wees soos wanneer 'n vaandeldraer beswyk. En die oorblywende bome van sy woud sal min wees, sodat 'n seun dit kan opskryf. En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel, en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer bly op hom wat hulle verslaan het nie; maar sal in waarheid op die HERE, die Heilige van Israel, bly. Die oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die magtige God. Want al was u volk Israel soos die sand van die see, tog sal 'n oorblyfsel van hulle terugkeer; Want die HERE HERE van die leërskare sal 'n verbruik, ja, vasbeslote maak in die middel van die hele land. Daarom, so sê die HERE HERE van die leërskare, o my volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir die Assiriër nie; Want nog 'n baie kort tydjie, en die grimmigheid sal ophou, en my toorn in hulle vernietiging. En die HERE van die leërskare sal vir hom 'n gésel aansteek soos die Mídian verslaan is by die rots Oreb; en soos sy staf op die see was, so sal Hy dit ophef volgens die gebruik van Egipte. En dit sal gebeur in dié dag dat sy las van jou skouer af weggeneem sal word en sy juk van jou nek af, en die juk sal vernietig word weens die salwing. Hy het na Ajat gekom, hy het oorgegaan na Migron; by Migmas het hy sy waens neergesit. Hulle het deur die gang gegaan; hulle het in Geba gebly; Rama is bang; Gibea van Saul is gevlug. Verhef jou stem, o dogter van Gallim, laat dit hoor tot Lais, o arme Anatot! Madmena word verwyder; die inwoners van Gebim kom bymekaar om te vlug. Hy sal nog daardie dag in Nob bly; hy sal sy hand skud teen die berg van die dogter van Sion, die heuwel van Jerusalem. Kyk, die HERE, die HERE van die leërskare, sal die tak met skrik afbreek, en die hoës van gestalte sal afgekap word, en die hoogmoediges sal verneder word. En hy sal die bosse van die woud met yster afkap, en die Líbanon sal deur 'n held val.

JESAJA 10:18-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Assirië se groot leër is soos ’n groot woud en vrugbare landerye, maar dit sal vernietig word. Die HERE sal Assirië se soldate volledig verwoes, en hulle sal wegkwyn soos siek mense in ’n plaag. Net ’n paar van die groot leër sal oorleef, so min dat ’n kind hulle sal kan tel! HERE Ten einde laaste sal almal wat oor is in Israel en Juda die HERE, die Heilige Een van Israel, vertrou. Hulle sal nie meer staatmaak op Assirië, wat hulle kan vernietig nie. ’n Oorblyfsel van Israel sal terugkom na die magtige God. Selfs al is die volk van Israel so baie soos die sand op die strand, sal slegs ’n klein groepie daardie tyd terugkom. Die HERE het besluit om sy volk te vernietig en sy besluit is regverdig. Ja, die oppermagtige HERE, die Almagtige, het klaar besluit om hulle te verdelg. Daarom, so sê die oppermagtige HERE: “My volk in Jerusalem, moenie bang wees vir die Assiriërs wanneer hulle julle verdruk soos die Egiptenaars lank terug gedoen het nie. Dit sal nie lank aanhou nie. Binnekort sal my woede teen julle ophou, en dan sal my woede hulle vernietig.” Die HERE, die Almagtige, sal hulle met sy sweep slaan, soos Hy gedoen het toe Gideon die Midianiete by die Orebrots verslaan het, of toe die HERE sy kierie opgelig het en die Egiptiese leër laat verdrink het. In daardie dag sal die HERE die gevangenskap van sy volk beëindig. Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers aftel en dit stukkend breek. Kyk, die magtige leërs van Assirië kom! Hulle is nou by Aja, dan by Migron. Hulle bêre hulle voorrade by Mikmas. Hulle trek oor die pas en bly oornag by Geba. Angs tref die stad van Rama. Al die mense van Gibea, Saul se stad, hardloop vir hulle lewe. Ja, skreeu in angs, mense van Gallim! Waarsku die inwoners van Lajesa! Want die magtige leër kom. Arme Anatot! Watter lot wag vir jou. Daar vlug die inwoners van Madmena. Die inwoners van Gebim maak reg om te hardloop. Die vyand wag eers by Nob vir die res van die dag. Hy wys sy vuis vir Sionsberg in Jerusalem. Maar kyk! Die HERE, die Almagtige, sal elke groot boom afkap! Hy vernietig die hele leër van Assirië, saam met sy offisiere en bevelvoerders. Die Magtige Een sal die vyand verslaan, soos ’n byl die groot bome van die Libanon afkap.