JESAJA 10:18-34

JESAJA 10:18-34 NLV

Assirië se groot leër is soos ’n groot woud en vrugbare landerye, maar dit sal vernietig word. Die HERE sal Assirië se soldate volledig verwoes, en hulle sal wegkwyn soos siek mense in ’n plaag. Net ’n paar van die groot leër sal oorleef, so min dat ’n kind hulle sal kan tel! HERE Ten einde laaste sal almal wat oor is in Israel en Juda die HERE, die Heilige Een van Israel, vertrou. Hulle sal nie meer staatmaak op Assirië, wat hulle kan vernietig nie. ’n Oorblyfsel van Israel sal terugkom na die magtige God. Selfs al is die volk van Israel so baie soos die sand op die strand, sal slegs ’n klein groepie daardie tyd terugkom. Die HERE het besluit om sy volk te vernietig en sy besluit is regverdig. Ja, die oppermagtige HERE, die Almagtige, het klaar besluit om hulle te verdelg. Daarom, so sê die oppermagtige HERE: “My volk in Jerusalem, moenie bang wees vir die Assiriërs wanneer hulle julle verdruk soos die Egiptenaars lank terug gedoen het nie. Dit sal nie lank aanhou nie. Binnekort sal my woede teen julle ophou, en dan sal my woede hulle vernietig.” Die HERE, die Almagtige, sal hulle met sy sweep slaan, soos Hy gedoen het toe Gideon die Midianiete by die Orebrots verslaan het, of toe die HERE sy kierie opgelig het en die Egiptiese leër laat verdrink het. In daardie dag sal die HERE die gevangenskap van sy volk beëindig. Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers aftel en dit stukkend breek. Kyk, die magtige leërs van Assirië kom! Hulle is nou by Aja, dan by Migron. Hulle bêre hulle voorrade by Mikmas. Hulle trek oor die pas en bly oornag by Geba. Angs tref die stad van Rama. Al die mense van Gibea, Saul se stad, hardloop vir hulle lewe. Ja, skreeu in angs, mense van Gallim! Waarsku die inwoners van Lajesa! Want die magtige leër kom. Arme Anatot! Watter lot wag vir jou. Daar vlug die inwoners van Madmena. Die inwoners van Gebim maak reg om te hardloop. Die vyand wag eers by Nob vir die res van die dag. Hy wys sy vuis vir Sionsberg in Jerusalem. Maar kyk! Die HERE, die Almagtige, sal elke groot boom afkap! Hy vernietig die hele leër van Assirië, saam met sy offisiere en bevelvoerders. Die Magtige Een sal die vyand verslaan, soos ’n byl die groot bome van die Libanon afkap.