Jesaja 10:18-34

Jesaja 10:18-34 AFR20

Dit sal die geëerdes van sy bos en wingerd vernietig – siel sowel as liggaam. Dit sal wees soos 'n invalide wat wegkwyn. Wat oorbly van die bome van sy bos, sal so min wees dat 'n kind dit sal kan neerskryf. Op daardie dag sal hulle wat oorgebly het van Israel, en hulle van die huis van Jakob wat vrygekom het, nie verder steun op die een wat hulle slaan nie, maar met getrouheid steun op die HERE, die Heilige van Israel. 'n Oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die Magtige God. Ja, al was jou volk, Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel daarvan sal terugkeer. Vernietiging is bepaal, in geregtigheid stroom dit – ja, volslae vernietiging is wat bepaal is. My Heer, die HERE, Heerser oor alle magte, gaan dit midde-in die hele land voltrek. Daarom, so sê my Heer, die HERE, Heerser oor alle magte: “My volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir Assirië nie! Hy slaan jou met 'n stok; hy lig 'n staf op teen jou, op dieselfde manier as Egipte. Ja, nog net 'n rukkie, dan sal die vervloeking tot 'n einde kom, en my toorn sal gerig wees op hulle uitwissing.” Die HERE, Heerser oor alle magte, sal 'n sweep oor hom swaai soos met die aanval op Midian by die rots van Oreb. Sy staf sal oor die see wees; Hy sal dit ophef op dieselfde manier as in Egipte. Op daardie dag sal Assirië se las van jou skouer val, sy juk van jou nek, ook die strop van die juk voor die skof. Hy het teen Aja opgetrek, hy het by Migron verbygegaan; by Migmas het hy sy toerusting geberg. Hulle trek oor die pas: “Geba is ons oornagplek.” Rama is vreesbevange, Gibea van Saul vlug. Skreeu hardop, dogter van Gallim! Luister mooi, Lajesa! Magtelose Anatot! Madmena vlug weg; die inwoners van Gebim soek skuiling. Vandag nog roep hy halt in Nob. Hy beduie met sy hand na die berg van die dogter van Sion, die heuwel van Jerusalem. Kyk, die Heer, die HERE, Heerser oor alle magte, gaan met skrikwekkende krag die blaredak wegkap; dié wat hoog uitgegroei het, word afgekap, die hoës sink neer. Hy sal die struikgewas in die bos uitkap met 'n ysterwerktuig, en die Libanon, die magtige, sal val.