Genesis 47:13-31

Genesis 47:13-31 DB

Intussen het die hongersnood so erg geword dat daar nêrens meer kos te koop was nie. Die mense van Egipte en Kanaän het al hoe swakker van die honger geword. Josef het al die geld in Egipte en Kanaän waarmee die mense vir die koring betaal het, in die paleis bewaar. Naderhand het die mense van Egipte en Kanaän nie meer geld gehad nie. Hulle het alles op koring en kos bestee. Die Egiptenaars het toe vir Josef gesê: “Asseblief, Meneer, gee tog net vir ons kos. Ons het niks om u mee te betaal nie, want al ons geld is op. Moet tog net nie dat ons van die honger doodgaan nie.” “Goed,” het Josef geantwoord, “as julle geld op is, bring dan julle veekuddes. In ruil daarvoor sal ek vir julle kos gee.” So het hulle dan hulle kuddes vir Josef gebring. In ruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies het Josef vir hulle kos gegee. In daardie jaar het Josef kos vir die mense se vee begin ruil. Die volgende jaar het dit nog slegter gegaan en die mense het vir Josef gesê: “Meneer, ons kan dit nie meer wegsteek nie en daarom wil ons eerlik vir Meneer sê dat ons niks het nie. Al ons geld is op en al ons vee behoort aan u. Al wat ons nou nog het, is ons liggame en ons grond. Meneer, moet tog nie dat ons van die honger doodgaan nie. En moet tog nie dat ons landerye onbewerk en vol onkruid lê nie. Koop dan liewer vir ons en ons landerye en betaal ons met kos. Ons kan maar die koning se werkers word en hy kan maar ons grond besit. As Meneer net vir ons saad kan gee, sal ons bly leef en ons grond sal ook nie verwoes word nie.” Josef het al die grond in Egipte vir die koning opgekoop. Omdat die hongersnood so groot was, het die Egiptenaars geen ander keuse gehad as om hulle grond te verkoop nie. Al die grond het toe die koning se eiendom geword. Al die mense van Egipte het toe die koning se slawe geword. Slegs die priesters se grond het Josef nie opgekoop nie. Hulle het ’n toelaag en kos van die koning ontvang en dit was nie nodig om hulle grond te verkoop nie. Josef het vir die mense gesê: “Ek het julle en al julle grond vir die koning opgekoop. Hier is saad waarmee julle julle landerye kan bewerk. Wanneer die oestyd kom, moet julle ’n vyfde daarvan vir die koning gee. Die res is julle s’n. Julle kan dit as saad gebruik of vir julle gesinne en veral vir die kinders kos maak daarvan.” Hulle het geantwoord: “Meneer, u was baie goed vir ons en u het ons lewe gered. Ons sal graag vir die koning wil werk.” Josef het dit ’n landswet gemaak dat ’n vyfde van die oes aan die koning behoort. Dit is vandag nog in Egipte so. Net die priesters se tempelgronde het nie die koning se eiendom geword nie. So het Jakob en al sy mense toe in Egipte gaan woon. Hulle het in Gosen gebly en baie grond en diere gekoop. In die nuwe land het hulle kort voor lank ’n groot klomp mense geword. Jakob het nog sewentien jaar in Egipte geleef. Hy het 147 jaar oud geword. Toe Jakob naby sy einde was, het hy Josef laat roep. “Josef,” het hy gesê, “as jy my werklik gelukkig wil maak, moet jy my iets beloof. Kom, sit jou hand hier op my heup en gee my jou woord dat jy my nie in Egipte sal begrawe nie. As jy dit beloof, sal dit vir my ’n teken van jou liefde vir my wees. As ek dood is, moet jy my liggaam uit Egipte wegneem en my in Kanaän by my eie mense gaan begrawe. Ek vra jou mooi, Josef, doen dit vir my.” Josef het geantwoord: “Dit is goed so. Ek sal doen wat Pa vra.” “Nee, jy moet my jou erewoord gee,” het Jakob aangedring. Josef het sy pa weer beloof dat hy hom in Kanaän sal begrawe. Jakob het langs sy bed gebuig en die Here gedank.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid