GENESIS 47:13-31

GENESIS 47:13-31 Bybel vir almal (ABA)

Daar was baie min kos in die hele land, die hongersnood was baie swaar. Al die mense in Egipte en Kanaän het honger gely. Josef het koring aan die mense van Egipte en Kanaän verkoop, en hy het al die geld gekry wat die mense gehad het. Hy het die geld na die farao se huis geneem. Toe daar nie meer geld oor was in Egipte en Kanaän nie, het die mense van Egipte na Josef toe gekom en vir hom gesê: “Gee asseblief vir ons kos. Ons het nie meer geld nie. As Meneer nie vir ons kos gee nie, dan sal ons hier by jou sterf.” Josef het gesê: “As julle geld op is, bring julle diere vir my, dan kan ons ruil. Gee vir my julle diere, dan sal ek vir julle kos gee.” Hulle het toe hulle diere vir Josef gebring en Josef het vir hulle kos gegee. Hy het dit geruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies. Hy het daardie jaar vir hulle kos gegee. Hy het dit geruil vir hulle diere. Die volgende jaar het hulle weer na Josef toe gekom en vir hom gesê: “Meneer, jy weet dat al ons geld op is en dat al ons diere nou aan Meneer behoort. Ons het niks oor om vir Meneer te gee nie. Ons het net ons lewe en ons grond, dit is al wat ons het. Hoekom moet ons hier by Meneer sterf? Hier is ons en ons grond. Vat ons en ons grond en gee vir ons kos. Ons sal die farao se slawe wees, en ons grond sal aan hom behoort. Gee vir ons kos sodat ons kan lewe, want as ons dood is, dan sal niemand op ons grond kan werk en saai nie.” Josef het al die grond in Egipte vir die farao gekoop. Almal in Egipte moes hulle grond verkoop omdat hulle nie kos gehad het om te eet nie. So het dit gebeur dat die hele land die farao se grond geword het. Al die mense in die hele land het die farao se slawe geword, en hy het hulle in stede laat woon. Josef het al die grond gekoop, maar nie die grond van die priesters nie, want die farao het altyd vir die priesters betaal en vir hulle kos gegee. Daarom het die priesters nie hulle grond verkoop nie. Josef het vir die volk gesê: “Ek het julle en julle grond nou vir die farao gekoop. Hier is saad vir julle. Saai dit in die grond. Maar wanneer julle die koring afsny, dan moet julle een vyfde daarvan vir die farao gee. Vier vyfdes van die koring-oes mag julle hou. Dit is julle saad om te saai sodat julle kos kan hê om te eet, julle en julle kinders en al die mense in julle huise.” Hulle sê toe vir Josef: “Jy het ons lewe gered. Jy was goed vir ons, en ons sal die farao se slawe wees.” Josef het 'n nuwe wet in Egipte gemaak wat tot vandag toe daar is. Een vyfde van alles wat die mense afsny, behoort aan die farao. Maar die priesters se grond het nie die farao se grond geword nie. Jakob en sy familie het in Egipte in die land Gosen gewoon. Hulle was vrugbaar, hulle het baie geword. Hulle het 'n groot en sterk volk geword. Jakob het 17 jaar lank in Egipte gewoon. Toe hy 147 jaar oud was, het hy gevoel sy dood kom nader. Jakob het sy seun Josef geroep en vir hom gesê: “Sal jy my asseblief help en iets vir my doen. As jy lief is vir my, sit dan jou hand onder my heup en belowe dat jy sal doen wat ek vra. Jy moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie. Wanneer ek sterf, dan moet jy my liggaam uit Egipte neem en jy moet dit gaan begrawe by my voorvaders in ons familiegraf.” Josef het gesê: “Ek sal doen wat Pa gevra het.” Toe sê Jakob: “Belowe dit.” Josef het vir Jakob belowe dat hy dit sal doen. Toe het Jakob op sy bed gekniel en hy het vir God dankie gesê.

GENESIS 47:13-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar, sodat Egipteland en die land Kanaän uitgeput was weens die hongersnood. En Josef het al die geld versamel wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die paleis van Farao gebring. En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän op was, het al die Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor u oë sterwe, want die geld is gedaan? En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee as die geld gedaan is. Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle dié jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee. Toe dié jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom gesê: Ons kan dit vir my heer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die besitting aan vee is my heer s'n. Daar het niks vir my heer oorgebly nie as net ons lyf en ons grond. Waarom moet ons voor u oë te gronde gaan, ons sowel as ons landerye? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees; en gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes word nie. So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword. En wat die volk betref — hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan. Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het 'n vaste inkomste van Farao ontvang en van hulle vaste inkomste geëet wat Farao hulle toegestaan het. Daarom het hulle hul grond nie verkoop nie. Toe sê Josef aan die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao gekoop: daar is saadkoring vir julle, dat julle die grond kan besaai. En by die insameling moet julle 'n vyfde deel aan Farao afgee, en die ander vier dele sal julle eiendom wees, as saad vir die land en as voedsel vir julleself en die wat in julle huise is, en as voeding vir julle kinders. En hulle antwoord: U het ons lewe gered. Laat ons guns mag vind in die oë van my heer, dan sal ons die dienaars van Farao wees. En Josef het dit 'n wet gemaak tot vandag toe vir die saaigrond van Egipte — die vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen het nie die eiendom van Farao geword nie. So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder. En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd-sewen-en-veertig jaar was. En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou — begrawe my tog nie in Egipte nie. Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord. Toe sê hy: Sweer my dit tog. En hy het vir hom gesweer. Toe het Israel in aanbidding gebuig oor die koppenent van die bed.

GENESIS 47:13-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar was nêrens meer kos in die land nie, want die hongersnood was swaar. Al die mense van Egipte en Kanaän het daaronder gely. Josef het ál die geld van die land in die hande gekry toe die mense van Egipte en Kanaän daarmee kom graan koop het. Hy het die geld na die farao se paleis toe gevat. Maar toe die geld in Egipte en in Kanaän opraak, het al die Egiptenaars vir Josef kom sê: “U moet vir ons kos laat kry. Waarom moet ons hier voor u doodgaan net omdat ons nie geld het nie?” Josef het vir hulle gesê: “As julle geld op is, moet julle maar julle vee bring, dan gee ek vir julle kos in ruil daarvoor.” Toe bring hulle hulle vee vir Josef, en hy gee vir hulle kos in ruil vir perde en kleinvee en beeste en donkies. Daardie jaar het hy hulle van kos voorsien in ruil vir al hulle vee. Aan die einde van daardie jaar, en die volgende jaar, het die mense weer by Josef gekom en vir hom gesê: “Ons kan dit nie vir Meneer wegsteek nie: ons geld is op en u besit reeds al ons vee. Ons het niks meer oor om vir u te bring nie, net onsself en ons grond. Waarom moet ons voor u oë doodgaan? Hier is ons, en daar is ons grond. Koop ons en koop ons grond in ruil vir kos. Ons sal die farao se slawe word en ons grond sal syne wees. Gee vir ons saad dat ons aan die lewe kan bly. En as ons nie sterf nie, sal ons grond nie onbewerk bly lê nie.” So het Josef al die grond vir die farao opgekoop. Al die Egiptenaars het hulle lande verkoop, want die hongersnood het hulle swaar gedruk. Die land het aan die farao behoort, en die volk het van die een uithoek van Egipte tot by die ander uithoek na die stede toe gekom, na Josef toe. Hy het net nie die priesters se grond gekoop nie, want hulle het 'n vaste inkomste van die farao gekry en hiervan het hulle geleef. Daarom het hulle nie hulle grond verkoop nie. Toe sê Josef vir die volk: “Ek het julle en julle grond nou vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad. As julle dit nou op die lande saai, moet julle 'n vyfde van die opbrengs vir die farao afgee en vier vyfdes is julle s'n. Gebruik dit as saad vir die lande en as kos vir julle en vir wie in julle huise is en vir julle kinders.” Hulle het vir Josef gesê: “U het ons lewe gered. Meneer is ons goedgesind. Ons sal die farao se slawe wees.” Josef het hierdie reëling tot vandag toe 'n vaste instelling in Egipte gemaak: 'n vyfde van die opbrengs kom die farao toe. Net die priesters se grond is uitgesonder. Dit behoort nie aan die farao nie. Israel en sy seuns het in Egipte gebly, in die Gosenstreek. Hulle het dit as hulle eiendom ontvang en hulle was vrugbaar en hulle het baie geword. Jakob het sewentien jaar in Egipte gebly. Hy was dus toe honderd sewe en veertig jaar oud. Toe sy einde nader kom, het hy sy seun Josef geroep en vir hom gesê: “Bewys my nog 'n laaste guns. Sit jou hand onder my heup en beloof dat jy my met liefde en eerbied sal behandel en my nie in Egipte sal begrawe nie. Wanneer ek sterf, moet jy my uit Egipte wegvat en in die graf van my voorvaders gaan begrawe.” Toe antwoord Josef: “Ek sal doen wat Pa vra.” En Jakob het vir hom gesê: “Bevestig jou belofte met 'n eed.” Toe lê Josef vir hom 'n eed af, en Israel het daar op sy bed gebuig voor God.

GENESIS 47:13-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Kos was nêrens in die land te kry nie, want die hongersnood was baie erg. Egipteland en die land Kanaän het versmag van die honger. Josef het al die silwer wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, ingesamel in ruil vir die graan wat die mense kom koop het. Josef het die silwer na die farao se paleis geneem. Toe daar nie meer silwer in Egipteland en die land Kanaän was nie, het al die Egiptenare na Josef gekom en gesê: “Gee vir ons brood! Waarom moet ons hier voor u sterf omdat daar nie meer silwer is nie?” Josef het geantwoord: “Bring julle vee, dan gee ek vir julle brood in ruil vir julle vee, as julle nie meer silwer het nie.” Hulle het toe hulle vee na Josef gebring, en Josef het vir hulle brood gegee in ruil vir perde, kleinveekuddes, beeskuddes en donkies. Hy het hulle daardie jaar deurgehelp met brood in ruil vir hulle hele veestapel. Toe daardie jaar om is, kom hulle toe die tweede jaar by Josef aan en sê vir hom: “Ons kan dit nie vir my heer wegsteek nie, maar ons silwer is opgebruik en ons veekuddes is by my heer. Daar het niks vir my heer oorgebly nie, behalwe ons liggame en ons landerye. Waarom moet ons voor u oë omkom, ons en ook ons landerye? Koop ons en ons landerye met brood. Ons en ons grond sal in die farao se diens wees; en gee dan vir ons saad, sodat ons kan leef en nie sterf nie, en ons landerye nie verlate lê nie.” Josef het al die landerye in Egipte vir die farao opgekoop; ja, elke Egiptenaar het sy saailand verkoop, want die hongersnood oor hulle was straf. Die land het toe die farao se eiendom geword, en die mense het hy na die dorpe verskuif, van die een grens van Egipte tot die ander. Net die landerye van die priesters het hy nie gekoop nie, want daar was van die kant van die farao 'n vaste toelaag vir die priesters. Hulle het genoeg te ete gehad van die vaste toelaag wat die farao vir hulle gegee het. Daarom het hulle nie hulle landerye verkoop nie. Josef sê toe vir die volk: “Kyk, ek het julle en julle landerye vandag vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad, dan kan julle die landerye saai. Maar wanneer daar oeste is, moet julle 'n vyfde aan die farao afstaan. Die vier dele sal aan julle behoort as saad vir die saailand, en as julle kos, en ook vir dié wat in julle huise is, as kos vir julle afhanklikes.” Hulle sê toe: “U het ons aan die lewe gehou. As ons guns vind in die oë van my heer, sal ons die farao se slawe word.” Josef het dit toe 'n vaste reëling gemaak wat tot vandag toe geld vir die landerye van Egipte: 'n vyfde van die opbrengs behoort aan die farao. Net die priesters se landerye het nie die farao se eiendom geword nie. Israel het in Egipteland, in die Gosenstreek, gewoon. Hulle het erfgrond daar verkry; hulle was vrugbaar en het talryk geword. Jakob het nog sewentien jaar lank in Egipteland geleef, sodat die getal lewensjare van Jakob honderd sewe-en-veertig jaar was. Toe die tyd vir Israel nader kom om te sterf, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: “As ek guns vind in jou oë, plaas dan asseblief jou hand onder my heup. Bewys liefde en trou aan my: Moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie. Wanneer ek by my voorvaders gaan rus, moet jy my uit Egipte neem en my in hulle graf gaan begrawe.” Hy het geantwoord: “Ek sal maak soos pa sê.” Toe sê hy: “Lê vir my 'n eed af!” Hy het toe vir hom 'n eed afgelê. Israel het daarna in aanbidding gebuig by die koppenent van die bed.

GENESIS 47:13-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daar was geen brood in die hele land nie; want die hongersnood was baie swaar, sodat Egipteland en die hele land Kanaän beswyk het vanweë die hongersnood. En Josef het al die geld bymekaargemaak wat in Egipteland en in die land Kanaän gevind is, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die huis van Farao gebring. En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän ontbreek het, het al die Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood, want waarom sou ons voor U aangesig sterwe? want die geld misluk. Toe sê Josef: Gee julle vee; en Ek sal jou vir jou vee gee, as die geld ophou. En hulle het hulle vee na Josef gebring, en Josef het aan hulle brood gegee in ruil vir perde en vir die kleinvee en vir die beeste van die beeste en vir die esels; Toe daardie jaar verby was, het hulle in die tweede jaar na hom gekom en vir hom gesê: Ons sal dit nie vir my heer verberg hoe ons geld uitgegee is nie; my heer het ook ons troppe vee; daar bly nie iets oor in die oë van my heer nie, maar ons liggame en ons lande. Waarom sal ons voor U oë sterwe, ons sowel as ons land? koop ons en ons grond vir brood, en ons en ons land sal Farao se diensknegte wees; en gee ons saad, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, dat die land nie woes word nie. En Josef het die hele Egipteland vir Farao gekoop; want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood hulle oorweldig het, en die land het Farao s'n geword. En wat die volk betref, hy het hulle na stede toe verskuif van die een kant van die grense van Egipte tot die ander kant daarvan. Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het 'n deel van Farao aan hulle toegeken en hulle deel wat Farao aan hulle gegee het, geëet; daarom het hulle hulle grond nie verkoop nie. Toe sê Josef vir die volk: Kyk, ek het julle vandag en julle grond vir Farao gekoop; kyk, hier is saad vir julle, en julle moet die land saai. En in die vermeerdering moet julle die vyfde deel aan Farao gee, en vier dele sal aan julle behoort as saad van die veld en vir julle voedsel en vir hulle van julle huisgesinne en as voedsel vir jou kleintjies. En hulle het gesê: U het ons lewe gered; laat ons genade vind in die oë van my heer, en ons sal Farao se dienaars wees. En Josef het dit 'n wet gemaak oor Egipteland tot vandag toe dat Farao die vyfde deel moet hê; behalwe die grond van die priesters alleen, wat nie aan Farao s'n geword het nie. En Israel het gewoon in Egipteland, in die land Gosen; en hulle het besittings daarin gehad en gegroei en baie vermeerder. En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gewoon; so was die hele ouderdom van Jakob honderd sewe en veertig jaar. En die tyd het nader gekom dat Israel moes sterwe; en hy het sy seun Josef geroep en vir hom gesê: As ek nou genade in U oë gevind het, lê tog U hand onder my heup en handel vriendelik en getrou aan ek; begrawe my tog nie in Egipte nie. Maar ek sal gemeenskap met my vaders hê, en jy sal my uit Egipte weglei en my in hulle graf begrawe. En hy sê: Ek sal doen soos jy gesê het. En hy sê: Sweer vir my. En hy het vir hom gesweer. En Israel het hom op die kop van die bed gebuig.

GENESIS 47:13-31 Die Boodskap (DB)

Intussen het die hongersnood so erg geword dat daar nêrens meer kos te koop was nie. Die mense van Egipte en Kanaän het al hoe swakker van die honger geword. Josef het al die geld in Egipte en Kanaän waarmee die mense vir die koring betaal het, in die paleis bewaar. Naderhand het die mense van Egipte en Kanaän nie meer geld gehad nie. Hulle het alles op koring en kos bestee. Die Egiptenaars het toe vir Josef gesê: “Asseblief, Meneer, gee tog net vir ons kos. Ons het niks om u mee te betaal nie, want al ons geld is op. Moet tog net nie dat ons van die honger doodgaan nie.” “Goed,” het Josef geantwoord, “as julle geld op is, bring dan julle veekuddes. In ruil daarvoor sal ek vir julle kos gee.” So het hulle dan hulle kuddes vir Josef gebring. In ruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies het Josef vir hulle kos gegee. In daardie jaar het Josef kos vir die mense se vee begin ruil. Die volgende jaar het dit nog slegter gegaan en die mense het vir Josef gesê: “Meneer, ons kan dit nie meer wegsteek nie en daarom wil ons eerlik vir Meneer sê dat ons niks het nie. Al ons geld is op en al ons vee behoort aan u. Al wat ons nou nog het, is ons liggame en ons grond. Meneer, moet tog nie dat ons van die honger doodgaan nie. En moet tog nie dat ons landerye onbewerk en vol onkruid lê nie. Koop dan liewer vir ons en ons landerye en betaal ons met kos. Ons kan maar die koning se werkers word en hy kan maar ons grond besit. As Meneer net vir ons saad kan gee, sal ons bly leef en ons grond sal ook nie verwoes word nie.” Josef het al die grond in Egipte vir die koning opgekoop. Omdat die hongersnood so groot was, het die Egiptenaars geen ander keuse gehad as om hulle grond te verkoop nie. Al die grond het toe die koning se eiendom geword. Al die mense van Egipte het toe die koning se slawe geword. Slegs die priesters se grond het Josef nie opgekoop nie. Hulle het ’n toelaag en kos van die koning ontvang en dit was nie nodig om hulle grond te verkoop nie. Josef het vir die mense gesê: “Ek het julle en al julle grond vir die koning opgekoop. Hier is saad waarmee julle julle landerye kan bewerk. Wanneer die oestyd kom, moet julle ’n vyfde daarvan vir die koning gee. Die res is julle s’n. Julle kan dit as saad gebruik of vir julle gesinne en veral vir die kinders kos maak daarvan.” Hulle het geantwoord: “Meneer, u was baie goed vir ons en u het ons lewe gered. Ons sal graag vir die koning wil werk.” Josef het dit ’n landswet gemaak dat ’n vyfde van die oes aan die koning behoort. Dit is vandag nog in Egipte so. Net die priesters se tempelgronde het nie die koning se eiendom geword nie. So het Jakob en al sy mense toe in Egipte gaan woon. Hulle het in Gosen gebly en baie grond en diere gekoop. In die nuwe land het hulle kort voor lank ’n groot klomp mense geword. Jakob het nog sewentien jaar in Egipte geleef. Hy het 147 jaar oud geword. Toe Jakob naby sy einde was, het hy Josef laat roep. “Josef,” het hy gesê, “as jy my werklik gelukkig wil maak, moet jy my iets beloof. Kom, sit jou hand hier op my heup en gee my jou woord dat jy my nie in Egipte sal begrawe nie. As jy dit beloof, sal dit vir my ’n teken van jou liefde vir my wees. As ek dood is, moet jy my liggaam uit Egipte wegneem en my in Kanaän by my eie mense gaan begrawe. Ek vra jou mooi, Josef, doen dit vir my.” Josef het geantwoord: “Dit is goed so. Ek sal doen wat Pa vra.” “Nee, jy moet my jou erewoord gee,” het Jakob aangedring. Josef het sy pa weer beloof dat hy hom in Kanaän sal begrawe. Jakob het langs sy bed gebuig en die Here gedank.

GENESIS 47:13-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Intussen het die hongersnood al hoe erger geword. Die mense van Egipte en Kanaän het swaar daaronder gely. Josef het baie geld ingesamel in ruil vir graan. Hy het die geld na die farao se skatkamers gebring. Toe die geld van die mense van Egipte en Kanaän op was, het hulle kom pleit vir kos: “Ons geld is op,” het hulle gekla. “Gee ons asseblief kos om te eet. Hoekom moet ons dan sterf?” “Aangesien julle geld op is,” sê Josef, “moet julle vee gee in ruil vir kos.” Hulle het toe hulle vee gegee. In ruil vir hulle perde, kleinvee, grootvee en donkies kon hulle minstens genoeg kos kry vir daardie jaar. Die volgende jaar kom hulle weer en sê: “Ons kan dit nie vir u wegsteek nie: Ons geld is op en ons lewende hawe behoort nou ook aan u. Ons het niks meer oor nie as net onsself en ons landerye. Hoekom moet ons hier voor u oë doodgaan? Koop ons en ons landerye in ruil vir kos. Ons sal dan Farao se slawe word. Gee tog asseblief net vir ons saad sodat ons nie van honger doodgaan en die grond nie onbewerk lê nie.” Op hierdie manier het Josef die hele Egipte vir die farao gekoop. Al die Egiptenaars het hulle landerye verkoop as gevolg van die swaar hongersnood. Dit het die farao se eiendom geword. Die inwoners van Egipte, oor die lengte en breedte van die land, het na die stede toe verskuif. Die enigste landerye wat Josef nie opgekoop het nie, was dié van die priesters, want hulle het hulle kos van die farao gekry om van te leef sodat dit nie nodig was om hulle eiendom te verkoop nie. Josef sê toe vir die mense van die land: “Kyk, ek het julle en julle landerye vir Farao gekoop. Ek sal julle nou voorsien van saad sodat julle dit kan plant. Wanneer julle dan oes, sal een vyfde daarvan aan Farao behoort. Julle kan vier vyfdes vir julleself hou en dit gebruik vir saad vir volgende jaar en as kos vir julle, julle huismense en julle kinders.” “U het ons lewens gered!” sê hulle. “Laat dit wees soos u goeddink. Ons sal Farao se slawe wees.” Josef het toe vir die hele Egipte bepaal dat die farao een vyfde van die opbrengs op sy landerye moet kry. Dis ’n bepaling wat nog steeds geld. Omdat die farao nie die landerye van die priesters oorgeneem het nie, was hulle vrygestel van hierdie betaling. Die Israeliete het hulle in Egipte, in die Gosenstreek, gevestig. Hulle het eiendom daar verkry en hulle getalle het vinnig toegeneem. Jakob het nog sewentien jaar na sy aankoms in Egipte geleef. Hy het dus 147 jaar oud geword. Toe sy einde begin naderkom, laat roep hy vir Josef en sê vir hom: “Bewys my ’n laaste guns. Belowe my met ’n eed dat jy goed sal wees vir my en my nie in Egipte sal begrawe nie. Wanneer ek sterf, neem my liggaam uit Egipte weg en begrawe my by my voorouers.” Josef belowe toe dat hy dit sou doen. “Nee, lê ’n eed af dat jy dit sal doen,” dring Jakob daarop aan. Josef het hom toe met ’n eed beloof. Daarop het Jakob in aanbidding by die koppenent van die bed gebuig.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid