Genesis 47:13-31

Genesis 47:13-31 AFR20

Kos was nêrens in die land te kry nie, want die hongersnood was baie erg. Egipteland en die land Kanaän het versmag van die honger. Josef het al die silwer wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, ingesamel in ruil vir die graan wat die mense kom koop het. Josef het die silwer na die farao se paleis geneem. Toe daar nie meer silwer in Egipteland en die land Kanaän was nie, het al die Egiptenare na Josef gekom en gesê: “Gee vir ons brood! Waarom moet ons hier voor u sterf omdat daar nie meer silwer is nie?” Josef het geantwoord: “Bring julle vee, dan gee ek vir julle brood in ruil vir julle vee, as julle nie meer silwer het nie.” Hulle het toe hulle vee na Josef gebring, en Josef het vir hulle brood gegee in ruil vir perde, kleinveekuddes, beeskuddes en donkies. Hy het hulle daardie jaar deurgehelp met brood in ruil vir hulle hele veestapel. Toe daardie jaar om is, kom hulle toe die tweede jaar by Josef aan en sê vir hom: “Ons kan dit nie vir my heer wegsteek nie, maar ons silwer is opgebruik en ons veekuddes is by my heer. Daar het niks vir my heer oorgebly nie, behalwe ons liggame en ons landerye. Waarom moet ons voor u oë omkom, ons en ook ons landerye? Koop ons en ons landerye met brood. Ons en ons grond sal in die farao se diens wees; en gee dan vir ons saad, sodat ons kan leef en nie sterf nie, en ons landerye nie verlate lê nie.” Josef het al die landerye in Egipte vir die farao opgekoop; ja, elke Egiptenaar het sy saailand verkoop, want die hongersnood oor hulle was straf. Die land het toe die farao se eiendom geword, en die mense het hy na die dorpe verskuif, van die een grens van Egipte tot die ander. Net die landerye van die priesters het hy nie gekoop nie, want daar was van die kant van die farao 'n vaste toelaag vir die priesters. Hulle het genoeg te ete gehad van die vaste toelaag wat die farao vir hulle gegee het. Daarom het hulle nie hulle landerye verkoop nie. Josef sê toe vir die volk: “Kyk, ek het julle en julle landerye vandag vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad, dan kan julle die landerye saai. Maar wanneer daar oeste is, moet julle 'n vyfde aan die farao afstaan. Die vier dele sal aan julle behoort as saad vir die saailand, en as julle kos, en ook vir dié wat in julle huise is, as kos vir julle afhanklikes.” Hulle sê toe: “U het ons aan die lewe gehou. As ons guns vind in die oë van my heer, sal ons die farao se slawe word.” Josef het dit toe 'n vaste reëling gemaak wat tot vandag toe geld vir die landerye van Egipte: 'n vyfde van die opbrengs behoort aan die farao. Net die priesters se landerye het nie die farao se eiendom geword nie. Israel het in Egipteland, in die Gosenstreek, gewoon. Hulle het erfgrond daar verkry; hulle was vrugbaar en het talryk geword. Jakob het nog sewentien jaar lank in Egipteland geleef, sodat die getal lewensjare van Jakob honderd sewe-en-veertig jaar was. Toe die tyd vir Israel nader kom om te sterf, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: “As ek guns vind in jou oë, plaas dan asseblief jou hand onder my heup. Bewys liefde en trou aan my: Moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie. Wanneer ek by my voorvaders gaan rus, moet jy my uit Egipte neem en my in hulle graf gaan begrawe.” Hy het geantwoord: “Ek sal maak soos pa sê.” Toe sê hy: “Lê vir my 'n eed af!” Hy het toe vir hom 'n eed afgelê. Israel het daarna in aanbidding gebuig by die koppenent van die bed.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid