GENESIS 47:13-31

GENESIS 47:13-31 NLV

Intussen het die hongersnood al hoe erger geword. Die mense van Egipte en Kanaän het swaar daaronder gely. Josef het baie geld ingesamel in ruil vir graan. Hy het die geld na die farao se skatkamers gebring. Toe die geld van die mense van Egipte en Kanaän op was, het hulle kom pleit vir kos: “Ons geld is op,” het hulle gekla. “Gee ons asseblief kos om te eet. Hoekom moet ons dan sterf?” “Aangesien julle geld op is,” sê Josef, “moet julle vee gee in ruil vir kos.” Hulle het toe hulle vee gegee. In ruil vir hulle perde, kleinvee, grootvee en donkies kon hulle minstens genoeg kos kry vir daardie jaar. Die volgende jaar kom hulle weer en sê: “Ons kan dit nie vir u wegsteek nie: Ons geld is op en ons lewende hawe behoort nou ook aan u. Ons het niks meer oor nie as net onsself en ons landerye. Hoekom moet ons hier voor u oë doodgaan? Koop ons en ons landerye in ruil vir kos. Ons sal dan Farao se slawe word. Gee tog asseblief net vir ons saad sodat ons nie van honger doodgaan en die grond nie onbewerk lê nie.” Op hierdie manier het Josef die hele Egipte vir die farao gekoop. Al die Egiptenaars het hulle landerye verkoop as gevolg van die swaar hongersnood. Dit het die farao se eiendom geword. Die inwoners van Egipte, oor die lengte en breedte van die land, het na die stede toe verskuif. Die enigste landerye wat Josef nie opgekoop het nie, was dié van die priesters, want hulle het hulle kos van die farao gekry om van te leef sodat dit nie nodig was om hulle eiendom te verkoop nie. Josef sê toe vir die mense van die land: “Kyk, ek het julle en julle landerye vir Farao gekoop. Ek sal julle nou voorsien van saad sodat julle dit kan plant. Wanneer julle dan oes, sal een vyfde daarvan aan Farao behoort. Julle kan vier vyfdes vir julleself hou en dit gebruik vir saad vir volgende jaar en as kos vir julle, julle huismense en julle kinders.” “U het ons lewens gered!” sê hulle. “Laat dit wees soos u goeddink. Ons sal Farao se slawe wees.” Josef het toe vir die hele Egipte bepaal dat die farao een vyfde van die opbrengs op sy landerye moet kry. Dis ’n bepaling wat nog steeds geld. Omdat die farao nie die landerye van die priesters oorgeneem het nie, was hulle vrygestel van hierdie betaling. Die Israeliete het hulle in Egipte, in die Gosenstreek, gevestig. Hulle het eiendom daar verkry en hulle getalle het vinnig toegeneem. Jakob het nog sewentien jaar na sy aankoms in Egipte geleef. Hy het dus 147 jaar oud geword. Toe sy einde begin naderkom, laat roep hy vir Josef en sê vir hom: “Bewys my ’n laaste guns. Belowe my met ’n eed dat jy goed sal wees vir my en my nie in Egipte sal begrawe nie. Wanneer ek sterf, neem my liggaam uit Egipte weg en begrawe my by my voorouers.” Josef belowe toe dat hy dit sou doen. “Nee, lê ’n eed af dat jy dit sal doen,” dring Jakob daarop aan. Josef het hom toe met ’n eed beloof. Daarop het Jakob in aanbidding by die koppenent van die bed gebuig.