Genesis 42:1-11

Genesis 42:1-11 DB

Jakob het gehoor daar is nog kos in Egipte en hy het vir sy seuns gesê: “Vir wat sit julle net daar en niks doen? ’n Paar mense het my nou al van kos in Egipte kom vertel. Julle moet sommer dadelik soontoe gaan en kyk wat julle kan kry. Miskien is daar nog kos vir ons en dan hoef ons nie van die honger dood te gaan nie.” Tien van Josef se broers is toe daar weg om koring in Egipte te gaan koop. Jakob wou nie hê dat Benjamin, Josef se jongste broer, saamgaan nie. Hy was bang daar gebeur iets met die kind soos destyds met Josef. Jakob se seuns is toe daar weg. Soos baie ander mense is hulle Egipte toe om kos te gaan koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood in Kanaän het by die dag erger geword. Josef het die land regeer en almal se porsies vir hulle afgemeet. Toe sy broers by hom kom, het hulle laag voor hom gebuig. Hy het hulle onmiddellik herken. Hy het egter gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kortaf vir hulle gevra: “Waar kom julle vandaan?” “Ons kom van Kanaän af, Meneer, en ons het gekom om kos te koop,” het hulle geantwoord. Hulle het hom egter nie herken nie. Terwyl Josef voor sy broers gestaan het, het hy aan die drome teruggedink, die drome wat hy lank gelede oor hom en sy broers gehad het. En hy het weer met hulle gepraat: “Julle is net spioene wat kom kyk het waar julle die land kan binneval.” “Nee, Meneer, dit is nie so nie. Ons het regtig net kom kos koop. Ons is almal die seuns van een man en ons bedoelings is goed, Meneer. Ons is regtig nie spioene nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid