GENESIS 42:1-11

GENESIS 42:1-11 NLV

Jakob het gehoor dat daar in Egipte graan te koop was. Hy sê toe vir sy seuns: “Hoekom staan en kyk julle vir mekaar? Ek het gehoor daar is graan in Egipte. Gaan soontoe en koop vir ons daarvan sodat ons kan oorleef, anders sal ons van die honger doodgaan.” Josef se tien oudste broers het toe na Egipte vertrek om daar graan te gaan koop. Jakob het geweier dat Josef se jonger broer, Benjamin, saamgaan omdat hy bang was hy kom iets oor. Jakob se seuns het saam met ander mense in Egipte aangekom om kos te koop omdat die hongersnood ook Kanaän getref het. Josef was in beheer van die hele Egipte. Hy het ook die graanverkope behartig. Daarom het sy broers na hom toe gegaan. Hulle het diep voor hom gebuig. Josef het hulle dadelik herken, maar hom as ’n vreemdeling voorgedoen. “Van waar is julle?” het hy kortaf gevra. “Van die land Kanaän,” antwoord hulle. “Ons het gekom om graan te koop.” Josef het hulle wel herken, maar hulle het hom nie herken nie. Dit het hom dadelik laat dink aan die drome van jare gelede. Hy sê vir hulle: “Julle is spioene! Julle het kom kyk waar ons land kwesbaar is.” “Nee, Meneer, ons is u dienaars!” sê hulle. “Ons het maar net gekom om kos te koop. Ons is almal broers en eerlike mense, Meneer! Ons is nie spioene nie!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid