Genesis 42:1-11

Genesis 42:1-11 AFR20

Jakob het agtergekom dat daar graan in Egipte was. Jakob sê toe vir sy seuns: “Waarom kyk julle net na mekaar?” Hy het ook gesê: “Kyk, ek het gehoor dat daar graan is in Egipte. Gaan af daarheen en koop vir ons daar graan, sodat ons kan leef en nie sterf nie!” Tien broers van Josef het toe afgegaan om graan te koop in Egipte; maar vir Benjamin, Josef se eie broer, het Jakob nie saam met sy broers gestuur nie, want, het hy gedink, netnou tref 'n noodlottige ramp hom. So het Israel se seuns dan in Egipte aangekom om graan te koop, saam met ander wat ook gekom het, want daar was hongersnood in die land Kanaän. Josef was die heerser oor die land. Hy was die een wat aan al die mense van die land graan verkoop het. Josef se broers het daar aangekom, en hulle het diep voor hom neergebuig, met hulle gesigte na die grond. Toe Josef sy broers sien, het hy hulle herken. Hy het hom egter vreemd gehou teenoor hulle en hulle streng aangespreek. Hy het vir hulle gevra: “Waarvandaan kom julle?” Hulle het geantwoord: “Van die land Kanaän af, om kos te koop.” Al het Josef sy broers herken, het hulle hom op hulle beurt nie herken nie. Josef onthou toe die drome wat hy oor hulle gedroom het, en sê vir hulle: “Julle is spioene! Dit is net om die kwesbaarste deel van die land te sien dat julle gekom het.” Maar hulle antwoord hom: “Nee, my heer; u dienaars het net gekom om kos te koop. Ons is almal seuns van een man. Ons is eerlike mense. U dienaars is nie spioene nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid