My naam is Esegiël. Ek is ’n boodskapper van God. My pa se naam is Busi. Ek is in 597 v.C. deur die Galdeërs as ’n gevangene uit my land weggevoer na ’n vreemde land saam met ’n klomp ander van my volk. Op die 31ste Julie 593 v.C., toe ek 30 jaar oud was en as priester in die tempel kon begin werk het, het iets met my gebeur. Dit was die vyfde jaar nadat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes na die vreemde land weggeneem is. Ons het by die Kebarrivier gebly, naby die Persiese Golf in die land van die Babiloniërs.
Die Here het Hom op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak: Hy het direk uit die hemel met my gepraat. Ek het Hom gesien. Sy hand was swaar op my. Hy het vir my ’n boodskap gegee om vir my eie mense te bring.
Voor my oë het ’n toneel afgespeel. Ek het ’n storm uit ’n noordelike rigting sien aankom. Groot storms hier in Babilonië kom altyd uit die noorde. Die stormwind het saam met donker wolke gekom, met weerlig wat heen en weer flits en die wolke helder verlig. Dit het gemaak dat die wolke soos flikkerende vuur gegloei het, asof daar gloeiende geelkoper daarin was.
Soos die wolke nader kom, het ek gesien dat daar binne-in een van die wolke iets was. Dit was die platform waarop die stoel gestaan het waarop God self gesit het. Die platform het uit vier vreemde wesens bestaan. Hulle het soos mense gelyk. Elkeen van die wesens het vier gesigte gehad. En elkeen het ook vier vlerke gehad. Hulle bene was so reguit soos ’n mens se bene, maar hulle het nie voete soos ’n mens nie. Hulle voete was kloue soos dié van beeste. Die voete dui op hulle krag: hulle is so sterk soos beeste. Hulle bene het geblink soos geelkoper wat blink gevryf is. Die glans herinner aan dié van weerlig. Behalwe vier gesigte en vier vlerke het elke wese ook vier hande gehad. Onder elke vlerk was daar ’n hand. Vier is die getal wat na die vier windrigtings verwys, en die volgende sê: die Here kan enigiets doen en Hy kan in enige rigting beweeg. Die vlerke van elke wese het aan die vlerke van die twee wesens weerskante van hom geraak, sodat die vlerke ’n vierkant gevorm het. Wanneer hulle beweeg het, was dit as ’n groep sonder dat enigeen sy liggaam gedraai het. Die vier lewende wesens was ’n eenheid.
Die vier gesigte wat elke lewende wese gehad het en wat in elke windrigting gewys het, was dié van die sterkste in die diere- en voëlryk. Die gesig aan die voorkant het gelyk soos dié van ’n mens. Die gesig aan die regterkant het weer gelyk soos dié van ’n leeu. Die gesig aan die linkerkant was dié van ’n bul, en die gesig aan die agterkant het gelyk soos dié van ’n arend. Die vier gesigte was tekens van God se magtige teenwoordigheid. Elke lewende wese het met sy twee boonste vlerke aan die vlerke van die lewende wesens aan weerskante van hom geraak. Die ander twee vlerke was toegevou, en daarmee het die lewende wese homself bedek. In die vier wesens was daar een Gees. Die vier wesens het as ’n eenheid beweeg in die rigting waarin die Gees dit laat gaan het. Nie een van die wesens het van koers afgewyk wanneer die Gees hulle laat beweeg het nie. Die groep het reguit vorentoe beweeg in die rigting wat die Gees gekies het sonder dat hulle ooit omgedraai het.
Die wesens het soos ’n witwarm vuur gelyk, met helder vlamme wat tussen hulle beweeg. Die vlamme het opgevlam soos dié van ’n baie warm vuur, of soos weerligstrale wat aanhoudend blits. En die lewende wesens het soos weerligstrale heen en weer geflits.
Terwyl ek na die wesens kyk, sien ek vier wiele op die grond onder die wesens. Onder elke wese was ’n wiel wat aan die grond geraak het. Die wiele het geskitter soos duur en kosbare diamante. Hulle was baie mooi. Al vier die wiele het presies dieselfde gelyk. En binne-in elke wiel was nog ’n wiel, dwars gedraai teenoor die ander een. Die wiel binne ’n ander wiel het gemaak dat die wesens daar bo in enige rigting kon beweeg sonder om te draai as hulle beweeg. Die wiele het my beïndruk omdat dit so groot was. Die buitenste raam waaroor die band van die wiel getrek was, was vol oë wat in alle rigtings gekyk het.
Elke keer wanneer die wesens gelyktydig begin beweeg, het die wiele onder hulle ook beweeg. Selfs wanneer die wesens van die grond af in die lug opgestyg het, het die wiele ook opgestyg. Die Gees van die vier lewende wesens was ook in die wiele. Waarheen die Gees ook al die wesens laat beweeg het, het die wiele saam beweeg. Die Gees was in beheer van dié vreemde ding waarna ek gekyk het. Elke keer wanneer die wesens beweeg het, het die wiele ook beweeg. En elke keer wanneer die lewende wesens gestop het, het die wiele ook dadelik tot stilstand gekom. Wanneer die lewende wesens in die lug opgestyg en weggevlieg het, het die wiele saam opgestyg en gevlieg. Dit was omdat die Gees van die lewende wesens in die wiele was.
Bokant die koppe van die wesens was daar iets wat soos die horison gelyk het, en die lug van die horison het soos kristal geskitter. Dit het gelyk of daar ’n ysberg was, en die son het helder op die wit ys weerkaats. Hier onder het die vier wesens gestaan. Die vier wesens se boonste vlerke het aan mekaar geraak, en hulle onderste vlerke was toegevou. Daarmee het hulle hulle lywe bedek. Wanneer die wesens gevlieg het, het hul vlerke geklap soos die see se golwe wanneer dit teen die rotse breek. Die geraas van die vlerke het my laat dink aan ’n rivier wat in volle vloed afkom. Dit was die Here se stem wat ek gehoor het wanneer die vlerke geklap het. Dit het geklink soos ’n groot klomp mense, ’n hele skare wat gelyktydig praat. Of soos ’n groot groep soldate wat gelyktydig skree en roep. Die Here wat oor alles en almal mag het, het so gepraat. En elke keer wanneer die wesens stil gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak. Toe die wesens stil gaan staan, het ’n stem vanuit die skitterende ysberg bokant hulle koppe gekom.
Bokant die wesens se koppe was daar iets wat gelyk het soos ’n reusesitplek waarop ’n koning sit. Dit het gelyk of hierdie sitplek van hemelsblou edelstene gemaak is. En hoog bo-op die troon het Iemand gesit wat vir my na ’n Mens gelyk het. Hy het ver bokant die troon uitgestaan, so groot was Hy. Die Man se bolyf het gegloei. Dit het gelyk of dit van lopende, witwarm metaal gemaak is, so helder het dit geblink. Dit het gelyk of daar vuur uit sy bolyf kon kom, so het dit geskitter. En sy onderlyf het net so geskitter, asof dit van ’n baie warm vuur gemaak is. Rondom die Man was die lig so helder dat dit gelyk het of die mooiste veelkleurige reënboog om Hom gedraai was. Ek het toe besef dat dit die Here self was wat in al sy mag aan my verskyn het. En toe ek die Man sien, het ek met my gesig in die stof neergeval. Ek kon nie langer bly staan nie, so het dié gesig my oorweldig. Toe hoor ek iemand wat met ’n helder, duidelike stem met my praat.