ESEGIËL 1:1-28
ESEGIËL 1:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die vyfde van die vierde maand, in die dertigste jaar, was ek tussen die ballinge aan die Kebarrivier. Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom. Dit was op die vyfde van die maand en dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin. Die woord van die Here het tot die priester Esegiël seun van Busi gekom. Dit het gebeur aan die Kebarrivier in Galdeërland. Die mag van die Here het vir Esegiël daar in besit geneem. Ek het 'n gesig gesien. Daar het 'n storm uit die noorde gekom, 'n groot wolk. Vlamme het heen en weer geflits en daar was 'n helder skynsel om die wolk. Van binne uit, uit die vuur uit, het dit geblink soos gloeiende wit metaal. Daaruit het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het 'n mensvormige voorkoms gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is. Onder hulle vlerke aan elk van die vier kante van elkeen was daar menshande. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad. Die een se vlerke het aan die een langs hom s'n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg. Elkeen het vier gesigte gehad. Die vorms van hulle gesigte was so: voor dié van 'n mens, regs dié van 'n leeu, links dié van 'n bul, en agter dié van 'n arend. Elke wese het dus vier gesigte gehad. Sy twee boonste vlerke was oopgesprei en het aan dié van die wesens weerskante geraak; met die twee ander vlerke het hy sy lyf bedek. Die wesens het reg vooruit beweeg in die rigting waarin die Gees dit wou, en hulle het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Die vorm van die wesens, hulle voorkoms, was soos dié van gloeiende kole vuur; hulle was net soos die vlamme wat heen en weer tussen hulle beweeg het. Die vuur het helder geskyn en blitse het uit die vuur geskiet. Die wesens het soos weerlig heen en weer geskiet. Terwyl ek so na die wesens kyk, sien ek 'n wiel op die grond langs elke wese met sy vier gesigte. Die voorkoms van die wiele en hulle afwerking was soos dié van edelstene. Hulle het eenders gelyk en al vier was so gemaak dat daar 'n wiel dwars binne 'n wiel was; hulle kon in die rigting van enige van hulle vier kante beweeg, maar hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie. Die wiele was groot en indrukwekkend en al vier se vellings was rondom vol oë. Wanneer die wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opgestyg het, het die wiele ook opgestyg. Waarheen die Gees ook al wou, het hulle beweeg, en die wiele het saam opgestyg, want die wesens se gees was in die wiele. Wanneer die wesens beweeg, beweeg die wiele; wanneer die wesens staan, staan die wiele; wanneer die wesens van die grond af opstyg, styg die wiele saam op, want die wesens se gees was in die wiele. Bokant die wesens se koppe was iets wat gelyk het soos 'n gewelf, blink en skrikwekkend soos 'n ysberg. Die gewelf was bokant hulle koppe oopgespan. Onderkant die gewelf het hulle vlerke gestrek, die een teen die ander, en elkeen het met twee vlerke sy lyf bedek. Ek het die geruis van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geruis van 'n sterk waterstroom, soos die stem van die Almagtige, soos die gedruis van 'n menigte mense bymekaar, soos die gedreun van 'n leërmag. Wanneer hulle tot stilstand kom, het hulle hulle vlerke laat sak. Daar het 'n stem gekom van bokant die gewelf bo die wesens se koppe af. Hulle het hulle vlerke laat sak wanneer hulle tot stilstand kom. Bokant die gewelf bo hulle koppe was daar iets soos saffier met die vorm van 'n troon, en daarop was 'n gestalte met die voorkoms van 'n mens, hoog daarbo. Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met 'n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met 'n helder glans rondom. Die glans rondom was soos dié van die reënboog in 'n wolk na die reën. Dit was soos die magtige verskyning van die Here. Toe ek dit sien, val ek plat en ek hoor 'n stem praat.
ESEGIËL 1:1-28 Die Boodskap (DB)
My naam is Esegiël. Ek is ’n boodskapper van God. My pa se naam is Busi. Ek is in 597 v.C. deur die Galdeërs as ’n gevangene uit my land weggevoer na ’n vreemde land saam met ’n klomp ander van my volk. Op die 31ste Julie 593 v.C., toe ek 30 jaar oud was en as priester in die tempel kon begin werk het, het iets met my gebeur. Dit was die vyfde jaar nadat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes na die vreemde land weggeneem is. Ons het by die Kebarrivier gebly, naby die Persiese Golf in die land van die Babiloniërs. Die Here het Hom op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak: Hy het direk uit die hemel met my gepraat. Ek het Hom gesien. Sy hand was swaar op my. Hy het vir my ’n boodskap gegee om vir my eie mense te bring. Voor my oë het ’n toneel afgespeel. Ek het ’n storm uit ’n noordelike rigting sien aankom. Groot storms hier in Babilonië kom altyd uit die noorde. Die stormwind het saam met donker wolke gekom, met weerlig wat heen en weer flits en die wolke helder verlig. Dit het gemaak dat die wolke soos flikkerende vuur gegloei het, asof daar gloeiende geelkoper daarin was. Soos die wolke nader kom, het ek gesien dat daar binne-in een van die wolke iets was. Dit was die platform waarop die stoel gestaan het waarop God self gesit het. Die platform het uit vier vreemde wesens bestaan. Hulle het soos mense gelyk. Elkeen van die wesens het vier gesigte gehad. En elkeen het ook vier vlerke gehad. Hulle bene was so reguit soos ’n mens se bene, maar hulle het nie voete soos ’n mens nie. Hulle voete was kloue soos dié van beeste. Die voete dui op hulle krag: hulle is so sterk soos beeste. Hulle bene het geblink soos geelkoper wat blink gevryf is. Die glans herinner aan dié van weerlig. Behalwe vier gesigte en vier vlerke het elke wese ook vier hande gehad. Onder elke vlerk was daar ’n hand. Vier is die getal wat na die vier windrigtings verwys, en die volgende sê: die Here kan enigiets doen en Hy kan in enige rigting beweeg. Die vlerke van elke wese het aan die vlerke van die twee wesens weerskante van hom geraak, sodat die vlerke ’n vierkant gevorm het. Wanneer hulle beweeg het, was dit as ’n groep sonder dat enigeen sy liggaam gedraai het. Die vier lewende wesens was ’n eenheid. Die vier gesigte wat elke lewende wese gehad het en wat in elke windrigting gewys het, was dié van die sterkste in die diere- en voëlryk. Die gesig aan die voorkant het gelyk soos dié van ’n mens. Die gesig aan die regterkant het weer gelyk soos dié van ’n leeu. Die gesig aan die linkerkant was dié van ’n bul, en die gesig aan die agterkant het gelyk soos dié van ’n arend. Die vier gesigte was tekens van God se magtige teenwoordigheid. Elke lewende wese het met sy twee boonste vlerke aan die vlerke van die lewende wesens aan weerskante van hom geraak. Die ander twee vlerke was toegevou, en daarmee het die lewende wese homself bedek. In die vier wesens was daar een Gees. Die vier wesens het as ’n eenheid beweeg in die rigting waarin die Gees dit laat gaan het. Nie een van die wesens het van koers afgewyk wanneer die Gees hulle laat beweeg het nie. Die groep het reguit vorentoe beweeg in die rigting wat die Gees gekies het sonder dat hulle ooit omgedraai het. Die wesens het soos ’n witwarm vuur gelyk, met helder vlamme wat tussen hulle beweeg. Die vlamme het opgevlam soos dié van ’n baie warm vuur, of soos weerligstrale wat aanhoudend blits. En die lewende wesens het soos weerligstrale heen en weer geflits. Terwyl ek na die wesens kyk, sien ek vier wiele op die grond onder die wesens. Onder elke wese was ’n wiel wat aan die grond geraak het. Die wiele het geskitter soos duur en kosbare diamante. Hulle was baie mooi. Al vier die wiele het presies dieselfde gelyk. En binne-in elke wiel was nog ’n wiel, dwars gedraai teenoor die ander een. Die wiel binne ’n ander wiel het gemaak dat die wesens daar bo in enige rigting kon beweeg sonder om te draai as hulle beweeg. Die wiele het my beïndruk omdat dit so groot was. Die buitenste raam waaroor die band van die wiel getrek was, was vol oë wat in alle rigtings gekyk het. Elke keer wanneer die wesens gelyktydig begin beweeg, het die wiele onder hulle ook beweeg. Selfs wanneer die wesens van die grond af in die lug opgestyg het, het die wiele ook opgestyg. Die Gees van die vier lewende wesens was ook in die wiele. Waarheen die Gees ook al die wesens laat beweeg het, het die wiele saam beweeg. Die Gees was in beheer van dié vreemde ding waarna ek gekyk het. Elke keer wanneer die wesens beweeg het, het die wiele ook beweeg. En elke keer wanneer die lewende wesens gestop het, het die wiele ook dadelik tot stilstand gekom. Wanneer die lewende wesens in die lug opgestyg en weggevlieg het, het die wiele saam opgestyg en gevlieg. Dit was omdat die Gees van die lewende wesens in die wiele was. Bokant die koppe van die wesens was daar iets wat soos die horison gelyk het, en die lug van die horison het soos kristal geskitter. Dit het gelyk of daar ’n ysberg was, en die son het helder op die wit ys weerkaats. Hier onder het die vier wesens gestaan. Die vier wesens se boonste vlerke het aan mekaar geraak, en hulle onderste vlerke was toegevou. Daarmee het hulle hulle lywe bedek. Wanneer die wesens gevlieg het, het hul vlerke geklap soos die see se golwe wanneer dit teen die rotse breek. Die geraas van die vlerke het my laat dink aan ’n rivier wat in volle vloed afkom. Dit was die Here se stem wat ek gehoor het wanneer die vlerke geklap het. Dit het geklink soos ’n groot klomp mense, ’n hele skare wat gelyktydig praat. Of soos ’n groot groep soldate wat gelyktydig skree en roep. Die Here wat oor alles en almal mag het, het so gepraat. En elke keer wanneer die wesens stil gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak. Toe die wesens stil gaan staan, het ’n stem vanuit die skitterende ysberg bokant hulle koppe gekom. Bokant die wesens se koppe was daar iets wat gelyk het soos ’n reusesitplek waarop ’n koning sit. Dit het gelyk of hierdie sitplek van hemelsblou edelstene gemaak is. En hoog bo-op die troon het Iemand gesit wat vir my na ’n Mens gelyk het. Hy het ver bokant die troon uitgestaan, so groot was Hy. Die Man se bolyf het gegloei. Dit het gelyk of dit van lopende, witwarm metaal gemaak is, so helder het dit geblink. Dit het gelyk of daar vuur uit sy bolyf kon kom, so het dit geskitter. En sy onderlyf het net so geskitter, asof dit van ’n baie warm vuur gemaak is. Rondom die Man was die lig so helder dat dit gelyk het of die mooiste veelkleurige reënboog om Hom gedraai was. Ek het toe besef dat dit die Here self was wat in al sy mag aan my verskyn het. En toe ek die Man sien, het ek met my gesig in die stof neergeval. Ek kon nie langer bly staan nie, so het dié gesig my oorweldig. Toe hoor ek iemand wat met ’n helder, duidelike stem met my praat.
ESEGIËL 1:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op 31 Julie van my dertigste jaar was ek saam met die Judese ballinge langs die Kebarrivier in Babilonië. Die hemel het vir my oopgegaan en ek het visioene van God gesien. Dit het gebeur gedurende die vyfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was. Die HERE het vir my, Esegiël die seun van Busi, die priester, ’n boodskap gegee. Ek was langs die Kebarrivier in die land van die Babiloniërs. En die hand van die HERE was daar op my. Terwyl ek gekyk het, sien ek ’n groot storm na my toe aankom uit die noorde. Voor die storm was daar ’n reuse wolk waarin die weerlig slaan en ’n helder lig brand. Die vuur binne-in die wolk het soos gloeiende metaal geblink. Uit die middel van die wolk het vier lewende wesens gekom wat soos mense gelyk het, behalwe dat elkeen van hulle vier gesigte en twee paar vlerke gehad het. Hulle bene was reguit soos ’n mens s’n, maar hulle voete het gelyk soos ’n kalf s’n, en dit het geblink soos brons wat opgevryf is. Onder elkeen van die vier vlerke kon ek hande sien soos dié van mense. Die vlerke van elke lewende wese het geraak aan die vlerke van die twee wat langs hom staan. Die wesens kon in enige rigting vlieg sonder om om te draai. Elkeen het die gesig van ’n mens na voor gehad, die gesig van ’n leeu aan die regterkant, die gesig van ’n bees aan die linkerkant en die gesig van ’n arend aan die agterkant. Elkeen het ook twee pare uitgestrekte vlerke gehad. Met een paar vlerke het hulle geraak aan die ander een wat langs hulle staan. Met die ander paar het hulle hulleself toegemaak. Hulle het in enige rigting gegaan wat die Gees wou. Hulle kon reguit vorentoe gaan sonder om ooit om te draai. Die wesens het gelyk soos skerp kole vuur wat gloei of soos helder ligte wat brand. Dit het gelyk of weerlig heen en weer tussen hulle flits. Die wesens het soos weerligstrale heen en weer beweeg. Terwyl ek na hierdie wesens gestaar het, het ek vier wiele op die grond langs elke wese gesien. Die wiele het soos kosbare stene geskitter. Al vier wiele het presies dieselfde gelyk. Binne-in elke wiel was daar nog ’n wiel wat dwars daarteenoor gedraai het. Die wesens kon vorentoe beweeg in enige rigting waarheen hulle kyk sonder om om te draai as hulle beweeg. Die vier wiele was ontsagwekkend groot, en hulle was rondom vol oë. Wanneer die vier wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg. As hulle opgestyg het, het die wiele ook opgegaan. Die gees van die vier lewende wesens was in die wiele. Daarom het die wiele en die wesens gegaan waar die gees ook al gegaan het. As die wesens beweeg het, het die wiele beweeg. En as die wesens stilgestaan het, het die wiele ook stilgestaan. As die wesens in die lug opgestyg het, het die wiele ook opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele. Daar was ’n koepel bokant hulle koppe soos die horison. Dit het soos ’n kristal geblink, en dit was angswekkend. Onder hierdie oppervlakte was die vlerke van die wesens uitgestrek wat aan mekaar geraak het, en elkeen het ook twee vlerke gehad waarmee hulle hulle lywe bedek het. Wanneer hulle vlieg, het hulle vlerke gedreun soos golwe wat op die strand breek, of soos die stem van die Almagtige, of soos die geraas van ’n groot klomp soldate. En wanneer hulle stilstaan, het hulle die vlerke laat sak. Daar het ’n stem gekom van bokant die koepel bo-oor die wesens se koppe, en hulle het hulle vlerke laat sak terwyl hulle tot stilstand kom. Bokant die koepel bo hulle koppe was daar iets soos ’n troon van blou saffier. Hoog bokant hierdie troon was daar ’n figuur wat soos ’n mens gelyk het. Van sy heupe af boontoe het sy lyf gegloei soos witwarm metaal. En van sy heupe af ondertoe het hy gelyk soos ’n baie helder vlam wat brand. Reg rondom hom was die lig so helder soos die glans van ’n reënboog tussen die wolke. So het die heerlikheid van die HERE aan my verskyn. Toe ek dit sien, het ek op my gesig op die grond neergeval, en toe het ek gehoor dat iemand met my praat.
ESEGIËL 1:1-28 Bybel vir almal (ABA)
Ek was tussen die Judeërs by die Kebar-kanaal in die land Babel. Die hemel het oopgegaan, en God het vir my dinge gewys. Dit was in die 30ste jaar, op die vyfde dag van die vierde maand. Dit was in die vyfde jaar nadat die Babiloniërs vir koning Jojagin gevang het en hom weggevat het na die land Babel. Op die vyfde dag van die maand het ek, die priester Esegiël, seun van Busi, duidelik gehoor die Here praat met my. Dit was in Galdeër-land, by die Kebar-kanaal. Ek het gevoel die Here sit sy hand op my. Ek het gekyk en ek het gesien daar kom 'n stormwind uit die noorde. Daar was 'n groot wolk, en rondom die wolk het vuur gebrand en die vuur het helder geskyn. Daar was iets in die vuur wat geblink het en wat soos metaal geskyn het. Vier diere het uit die blink metaal gekom, en dit is hoe hulle gelyk het: Hulle was soos mense, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos brons wat iemand blink gevryf het. Hulle voete het gelyk soos 'n bees se pote. Onder elkeen se vier vlerke, langs die vier kante, was hande, dit het gelyk soos 'n mens se hande. Die vier diere het almal gesigte en vlerke gehad. Elke dier se vlerke het geraak aan die vlerke van die dier langs hom. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie. Elke dier het reguit vorentoe beweeg. Elke dier het vier gesigte gehad. Voor was die gesig van 'n mens, regs was die gesig van 'n leeu, links was die gesig van 'n bul en agter was die gesig van 'n arend. Elke dier se boonste vlerke was oop en dit het geraak aan die vlerke van die twee diere links en regs langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak. Elke dier het reguit vorentoe beweeg. Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet gaan. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie. Die vier diere het gelyk soos kole vuur, en hulle het ook gelyk soos die fakkels wat heen en weer tussen hulle gaan. Die vuur het helder geskyn, en daar het weerlig uit die vuur gekom. Die diere het vinnig heen en weer gegaan soos weerlig. En terwyl ek so na hulle kyk, sien ek 'n wiel op die grond langs elkeen van die vier diere. Dit het gelyk of die wiele van chrisoliet gemaak was. Die wiele was almal dieselfde, en in elke wiel was daar nog 'n wiel, daardie wiel was dwars. Die wiele kon na enige kant toe beweeg, maar wanneer hulle beweeg het, dan kon hulle nie wegdraai nie. Die buitenste rande van die wiele was groot. Ek het geskrik vir hulle, want daar was oral oë rondom die rande van die vier wiele. Wanneer die diere beweeg, dan het die wiele langs hulle ook beweeg, en wanneer die diere in die lug opgaan, dan het die wiele ook opgegaan. Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet wees, en die wiele het saam in die lug opgegaan, want die gees van die diere was in die wiele. Wanneer die diere beweeg, dan het die wiele ook beweeg. Wanneer die diere stilstaan, dan het die wiele ook stilgestaan. Wanneer die diere in die lug opgaan, dan het die wiele ook opgegaan, want die gees van die diere was in die wiele. Bokant die diere was 'n hemeldak. Die hemeldak het gelyk soos ys. Ek het bang geword toe ek dit sien. Die hemeldak was bokant hulle koppe en dit was hard en styf. Onder die hemeldak was die diere. Die boonste vlerke van elke dier was oop, en elke vlerk het geraak aan die vlerk van die dier langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak. Ek het gehoor hoe raas die vlerke van die diere. Dit was soos wanneer baie water raas, soos wanneer die Almagtige praat, soos wanneer baie mense bymekaar is, soos wanneer soldate raas. Wanneer die diere gaan staan het, dan het hulle die vlerke laat sak. Iemand het gepraat bokant die hemeldak, bokant die diere se koppe. Wanneer die diere gaan staan het, dan het hulle hulle vlerke laat sak. Bokant die hemeldak wat bokant die diere se koppe was, was daar iets wat gelyk het soos saffierklip. Dit het gelyk soos 'n troon, en hoog bo-op die troon was daar iets wat gelyk het soos 'n mens. Iets het gelyk soos sy heupe, en bokant die heupe het dit vir my gelyk soos blink metaal, soos vuur, en om die vuur was 'n rand. Onderkant die heupe het dit vir my gelyk soos vuur, en om die vuur was lig. Die lig om die vuur was soos die reënboog op 'n reëndag. Dit was die lig wat om die Koning, die Here, is. Toe ek dit sien, het ek gaan lê met my gesig teen die grond. Ek het Iemand gehoor praat.
ESEGIËL 1:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien. Op die vyfde van die maand — dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin — het die woord van die HERE uitdruklik gekom tot Eségiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die HERE was daar op hom. Toe het ek gekyk — en daar het 'n stormwind uit die noorde gekom, 'n groot wolk met onophoudelike vuur; en 'n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter. En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dít was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van 'n mens gehad; en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke; en hulle bene was reguit bene en hulle voetsole soos die sole van 'n kalfspoot; en hulle het geglinster soos blink geskuurde koper; en mensehande was onder hulle vlerke aan hulle vier kante. Maar aangaande die aangesigte en die vlerke van al vier, hulle vlerke was aanmekaar verbind. Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan. En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van 'n mens; en al vier het die gesig van 'n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van 'n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van 'n arend gehad. En hulle vlerke het uitgesprei na boontoe; elkeen het twee gehad wat met mekaar verbind was, en twee wat hulle liggame bedek het. En hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan; waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan; hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie. Aangaande die gestalte van die wesens: hulle voorkoms was soos gloeiende vuurkole, soos die voorkoms van fakkels; die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens, en die vuur het 'n helder glans gehad, en uit die vuur het blitse uitgeslaan. En die wesens het heen en weer gesnel, in aansien soos 'n bliksemstraal. Ek het toe die wesens nader bekyk: daar was een wiel op die grond langs die wesens aan elkeen van die vier voorkante. Die voorkoms van die wiele en hulle maaksel was soos dié van 'n chrisoliet; en al vier het dieselfde vorm gehad; daarby was hulle voorkoms en hulle maaksel asof daar 'n wiel binne-in 'n wiel was. Na al vier kante het hulle gegaan as hulle gaan: hulle het nie gedraai as hulle gaan nie. En hulle vellings — dié was hoog en dié was wonderbaar; en hulle vellings was by al vier rondom vol oë. En as die wesens gaan, gaan die wiele naasaan hulle; en as die wesens hulle van die grond af ophef, word die wiele opgehef. Waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan in die rigting wat die gees wou gaan; en die wiele is gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wese was in die wiele. As dié gaan, gaan hulle; en as dié bly staan, staan hulle; en as dié hulle van die grond af ophef, word die wiele gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wesens was in die wiele. En oor die hoofde van die wesens was iets in die vorm van 'n uitspansel wat blink soos die wonderbare kristal, bo-oor hulle hoofde uitgesprei. En onder die uitspansel heen was hulle vlerke reguit na mekaar uitgestrek; en elkeen het twee gehad wat duskant en anderkant hul liggame bedek het. En as hulle gaan, het ek die geruis van hulle vlerke gehoor soos die geruis van baie waters, soos die stem van die Almagtige — 'n gedruis soos die gedreun van 'n leër. As hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak. En daar het 'n stem gekom bo van die uitspansel af wat oor hulle hoof was; as hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak. En bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van 'n troon; en op die troongestalte 'n gestalte wat soos 'n mens gelyk het. Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in 'n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met 'n glans daaromheen. Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op 'n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.
ESEGIËL 1:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde dag van die maand, was ek tussen die ballinge langs die Kebarrivier. Die hemel het toe oopgegaan, en ek het visioene van God gesien. Op die vyfde van die maand, dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin, het die woord van die HERE duidelik tot die priester Esegiël, seun van Busi, gekom in die land van die Galdeërs aan die Kebarrivier. Die hand van die HERE was daar op hom. Ek het gesien, kyk, 'n stormwind kom uit die noorde, 'n groot wolkmassa met 'n vuur van weerligstrale wat aanhoudend blits, en 'n helder gloed rondom die wolkmassa. Daarin, in die vuur, was daar iets wat soos witgoud skitter. Binne-in die vuur was daar die gestalte van vier wesens. Dit is hoe hulle gelyk het: Hulle het die gestalte van mense gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit; hulle hoewe was soos kalfshoewe en het soos gepoleerde brons geskitter. Daar was mensehande onder hulle vlerke aan vier kante. Wat die gesigte en vlerke van al vier betref: Hulle vlerke het aan mekaar geraak. Hulle het nie afgedraai wanneer hulle beweeg het nie; elkeen het reguit vorentoe beweeg. Wat die voorkoms van hulle gesigte betref: Elkeen van die vier het die gesig van 'n mens gehad, die gesig van 'n leeu aan die regterkant, die gesig van 'n bul aan die linkerkant, en die gesig van 'n arend. So was hulle gesigte. Hulle vlerke was oopgesprei na bo, elkeen met twee vlerke wat aan dié van die ander raak, en twee vlerke wat die liggaam bedek. Elkeen het reguit vorentoe beweeg. Waarheen die gees wou gaan, het hulle ook gegaan, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg. Wat die vorm van die wesens betref: Hulle het gelyk soos gloeiende kole vuur wat brand, hulle het gelyk soos fakkels. Die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens. Die vuur het 'n helder gloed gehad, en uit die vuur het weerligstrale geflits. Die wesens het so heen en weer beweeg dat dit gelyk het soos weerligstrale. Toe ek die wesens bekyk, sowaar, toe is daar aan die voorkant langs elk van die vier wesens 'n wiel op die grond. Wat die voorkoms en bou van die wiele betref: Dit het soos •chrisoliet geskitter en al vier het een en dieselfde vorm gehad. Dit het gelyk of hulle gemaak was van 'n wiel binne 'n wiel. Wanneer hulle beweeg het, kon hulle in vier rigtings beweeg, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg het. En hulle vellings, dié was hoog en angswekkend; al vier hulle vellings was reg rondom vol oë. Wanneer die wesens beweeg, het die wiele langs hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opstyg, het die wiele saam opgestyg. Waarheen die gees wou gaan, het die wesens ook gegaan. Die wiele het saam met die wesens opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele. Wanneer die wesens beweeg, beweeg die wiele, en wanneer die wesens staan, staan hulle. Wanneer die wesens van die grond af opstyg, styg die wiele saam met hulle op; ja, die gees van die wesens was in die wiele. Bokant die koppe van die wesens was daar, in die vorm van 'n koepel, iets wat geskitter het soos kristal – angswekkend, gespan bo-oor hulle koppe. Onder die koepel was hulle vlerke reguit na mekaar uitgestrek. Elkeen het twee vlerke gehad waarmee hulle hulle liggame bedek het. Ek het die geluid van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geluid van baie water, soos die stem van die Almagtige, die geluid van 'n mensemassa, soos die geluid van 'n leërmag. Wanneer hulle stilstaan, het hulle hulle vlerke laat sak. Daar was 'n geluid bokant die koepel wat oor die koppe van die wesens uitgestrek het. Wanneer die wesens gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak. Bokant die koepel wat bo hulle koppe was, was daar iets wat soos •lasuursteen lyk, in die vorm van 'n troon; en daarbo, op wat soos 'n troon lyk – daarop was 'n gestalte met die voorkoms van 'n mens. Ek sien toe Hy is skitterend soos witgoud, byna soos vuur vasgevang in 'n omhulsel, vanaf wat na sy heupe gelyk het boontoe. En vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe, het ek gesien dit lyk soos vuur, omring deur 'n helder gloed. Die helder gloed rondom het gelyk soos 'n reënboog wat in die wolke verskyn op 'n reëndag. Dit is hoe die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk het. Toe ek dit sien, het ek neergeval met my gesig teen die grond. Daarna het ek 'n stem hoor praat.
ESEGIËL 1:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde dag van die maand, toe ek onder die gevangenes was by die Kebarrivier, het die hemel oopgegaan en ek gesigte van God gesien. Op die vyfde dag van die maand, dit was die vyfde jaar van koning Jojagin se ballingskap, Die woord van die HERE het uitdruklik gekom tot Esegiël, die priester, die seun van Busi, in die land van die Chaldeërs by die Kebarrivier; en die hand van die HERE was daar op hom. En ek het gesien, en kyk, daar het 'n stormwind uit die noorde gekom, 'n groot wolk en 'n vuur wat hom invou, en 'n glans was rondom dit, en daaruit soos die kleur van amber, uit die middel van die vuur. Ook daaruit het die gelykenis van vier lewende wesens gekom. En dit was hulle voorkoms; hulle het die gelykenis van 'n man gehad. En elkeen het vier gesigte gehad, en elkeen het vier vlerke gehad. En hulle voete was reguit voete; en hulle voetsool was soos die voetsool van 'n kalf, en hulle het geskitter soos die kleur van blink koper. En hulle het die hande van 'n man onder hulle vlerke aan hulle vier kante gehad; en hulle vier het hulle aangesigte en hulle vlerke gehad. Hulle vlerke was aan mekaar verbind; hulle het nie omgedraai as hulle gegaan het nie; hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan. Wat die gelykenis van hulle aangesigte betref, hulle vier het die gesig van 'n man gehad en die gesig van 'n leeu aan die regterkant; en hulle vier het die gesig van 'n bees aan die linkerkant gehad; hulle vier het ook die gesig van 'n arend gehad. So was hulle aangesig, en hulle vlerke was boontoe gespan; elkeen se twee vlerke was aan mekaar verbind, en twee het hulle liggame bedek. En hulle het almal reguit vorentoe gegaan; waarheen die gees sou gaan, het hulle gegaan; en hulle het nie omgedraai toe hulle gegaan het nie. Wat die gestalte van die lewende wesens betref, hulle voorkoms was soos gloeiende vuurkole en soos die voorkoms van lampe; en die vuur was helder, en weerlig het uit die vuur uitgegaan. En die lewende wesens het gehardloop en teruggekeer soos die voorkoms van 'n weerligstraal. En terwyl ek die lewende wesens aanskou het, kyk daar is een wiel op die aarde by die lewende wesens, met sy vier gesigte. Die voorkoms van die wiele en hulle werk was soos die kleur van 'n edelkleur, en hulle vier het een gelykenis gehad, en hulle voorkoms en hulle werk was soos 'n wiel in die middel van 'n wiel. As hulle gegaan het, het hulle op hulle vier kante geloop, en hulle het nie omgedraai as hulle gegaan het nie. Wat hulle ringe betref, hulle was so hoog dat hulle verskriklik was; en hulle ringe was vol oë rondom hulle vier. En as die lewende wesens getrek het, het die wiele by hulle gegaan; en as die lewende wesens van die aarde af opgelig is, het die wiele opgelig. Waarheen die gees ook al moes gaan, het hulle gegaan, daarheen was hulle gees om te gaan; en die wiele is teenoor hulle opgelig, want die gees van die lewende wese was in die wiele. Toe hulle gegaan het, het dié gegaan; en toe hulle staan, staan hulle; en toe hulle van die aarde af opgehef is, is die wiele teenoor hulle opgelig, want die gees van die lewende wesens was in die wiele. En die gelykenis van die uitspansel op die koppe van die lewende wesens was soos die kleur van die verskriklike kristal, bo-oor hulle koppe uitgestrek. En onder die uitspansel was hulle vlerke reguit, die een na die ander: elkeen het twee gehad wat aan die een kant bedek was, en elkeen het twee gehad wat aan die ander kant hulle liggame bedek het. En toe hulle gaan, het ek die geraas van hulle vlerke gehoor, soos die geraas van groot waters, soos die stem van die Almagtige, die stem van spraak, soos die geraas van 'n leër; as hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak. En daar was 'n stem van die uitspansel wat oor hulle hoofde was, toe hulle staan en hulle vlerke laat sak het. En bokant die uitspansel wat oor hulle hoofde was, was die gelykenis van 'n troon, soos die voorkoms van 'n saffiersteen; En ek het gesien soos die kleur van amber, soos die voorkoms van vuur rondom daarbinne, van die voorkoms van sy lendene af tot bo, en van die voorkoms van sy lendene af tot ondertoe, ek het gesien asof dit die voorkoms van vuur was, en dit het rondom helderheid gehad. Soos die voorkoms van die boog wat in die wolk is op die dag van reën, so was die voorkoms van die glans rondom. Dit was die voorkoms van die gelykenis van die heerlikheid van die HERE. En toe ek dit sien, val ek op my aangesig, en ek hoor 'n stem van een wat spreek.