Ek was tussen die Judeërs by die Kebar-kanaal in die land Babel. Die hemel het oopgegaan, en God het vir my dinge gewys. Dit was in die 30ste jaar, op die vyfde dag van die vierde maand. Dit was in die vyfde jaar nadat die Babiloniërs vir koning Jojagin gevang het en hom weggevat het na die land Babel. Op die vyfde dag van die maand het ek, die priester Esegiël, seun van Busi, duidelik gehoor die Here praat met my. Dit was in Galdeër-land, by die Kebar-kanaal. Ek het gevoel die Here sit sy hand op my.
Ek het gekyk en ek het gesien daar kom 'n stormwind uit die noorde. Daar was 'n groot wolk, en rondom die wolk het vuur gebrand en die vuur het helder geskyn. Daar was iets in die vuur wat geblink het en wat soos metaal geskyn het. Vier diere het uit die blink metaal gekom, en dit is hoe hulle gelyk het: Hulle was soos mense, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos brons wat iemand blink gevryf het. Hulle voete het gelyk soos 'n bees se pote. Onder elkeen se vier vlerke, langs die vier kante, was hande, dit het gelyk soos 'n mens se hande. Die vier diere het almal gesigte en vlerke gehad. Elke dier se vlerke het geraak aan die vlerke van die dier langs hom. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie. Elke dier het reguit vorentoe beweeg. Elke dier het vier gesigte gehad. Voor was die gesig van 'n mens, regs was die gesig van 'n leeu, links was die gesig van 'n bul en agter was die gesig van 'n arend. Elke dier se boonste vlerke was oop en dit het geraak aan die vlerke van die twee diere links en regs langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak. Elke dier het reguit vorentoe beweeg. Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet gaan. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie. Die vier diere het gelyk soos kole vuur, en hulle het ook gelyk soos die fakkels wat heen en weer tussen hulle gaan. Die vuur het helder geskyn, en daar het weerlig uit die vuur gekom. Die diere het vinnig heen en weer gegaan soos weerlig. En terwyl ek so na hulle kyk, sien ek 'n wiel op die grond langs elkeen van die vier diere. Dit het gelyk of die wiele van chrisoliet gemaak was. Die wiele was almal dieselfde, en in elke wiel was daar nog 'n wiel, daardie wiel was dwars. Die wiele kon na enige kant toe beweeg, maar wanneer hulle beweeg het, dan kon hulle nie wegdraai nie. Die buitenste rande van die wiele was groot. Ek het geskrik vir hulle, want daar was oral oë rondom die rande van die vier wiele. Wanneer die diere beweeg, dan het die wiele langs hulle ook beweeg, en wanneer die diere in die lug opgaan, dan het die wiele ook opgegaan. Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet wees, en die wiele het saam in die lug opgegaan, want die gees van die diere was in die wiele. Wanneer die diere beweeg, dan het die wiele ook beweeg. Wanneer die diere stilstaan, dan het die wiele ook stilgestaan. Wanneer die diere in die lug opgaan, dan het die wiele ook opgegaan, want die gees van die diere was in die wiele. Bokant die diere was 'n hemeldak. Die hemeldak het gelyk soos ys. Ek het bang geword toe ek dit sien. Die hemeldak was bokant hulle koppe en dit was hard en styf. Onder die hemeldak was die diere. Die boonste vlerke van elke dier was oop, en elke vlerk het geraak aan die vlerk van die dier langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak. Ek het gehoor hoe raas die vlerke van die diere. Dit was soos wanneer baie water raas, soos wanneer die Almagtige praat, soos wanneer baie mense bymekaar is, soos wanneer soldate raas. Wanneer die diere gaan staan het, dan het hulle die vlerke laat sak.
Iemand het gepraat bokant die hemeldak, bokant die diere se koppe. Wanneer die diere gaan staan het, dan het hulle hulle vlerke laat sak. Bokant die hemeldak wat bokant die diere se koppe was, was daar iets wat gelyk het soos saffierklip. Dit het gelyk soos 'n troon, en hoog bo-op die troon was daar iets wat gelyk het soos 'n mens. Iets het gelyk soos sy heupe, en bokant die heupe het dit vir my gelyk soos blink metaal, soos vuur, en om die vuur was 'n rand. Onderkant die heupe het dit vir my gelyk soos vuur, en om die vuur was lig. Die lig om die vuur was soos die reënboog op 'n reëndag. Dit was die lig wat om die Koning, die Here, is. Toe ek dit sien, het ek gaan lê met my gesig teen die grond. Ek het Iemand gehoor praat.