In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde dag van die maand, was ek tussen die ballinge langs die Kebarrivier. Die hemel het toe oopgegaan, en ek het visioene van God gesien.
Op die vyfde van die maand, dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin, het die woord van die HERE duidelik tot die priester Esegiël, seun van Busi, gekom in die land van die Galdeërs aan die Kebarrivier. Die hand van die HERE was daar op hom.
Ek het gesien, kyk, 'n stormwind kom uit die noorde, 'n groot wolkmassa met 'n vuur van weerligstrale wat aanhoudend blits, en 'n helder gloed rondom die wolkmassa. Daarin, in die vuur, was daar iets wat soos witgoud skitter. Binne-in die vuur was daar die gestalte van vier wesens. Dit is hoe hulle gelyk het: Hulle het die gestalte van mense gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit; hulle hoewe was soos kalfshoewe en het soos gepoleerde brons geskitter. Daar was mensehande onder hulle vlerke aan vier kante.
Wat die gesigte en vlerke van al vier betref: Hulle vlerke het aan mekaar geraak. Hulle het nie afgedraai wanneer hulle beweeg het nie; elkeen het reguit vorentoe beweeg. Wat die voorkoms van hulle gesigte betref: Elkeen van die vier het die gesig van 'n mens gehad, die gesig van 'n leeu aan die regterkant, die gesig van 'n bul aan die linkerkant, en die gesig van 'n arend. So was hulle gesigte. Hulle vlerke was oopgesprei na bo, elkeen met twee vlerke wat aan dié van die ander raak, en twee vlerke wat die liggaam bedek.
Elkeen het reguit vorentoe beweeg. Waarheen die gees wou gaan, het hulle ook gegaan, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg.
Wat die vorm van die wesens betref: Hulle het gelyk soos gloeiende kole vuur wat brand, hulle het gelyk soos fakkels. Die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens. Die vuur het 'n helder gloed gehad, en uit die vuur het weerligstrale geflits. Die wesens het so heen en weer beweeg dat dit gelyk het soos weerligstrale.
Toe ek die wesens bekyk, sowaar, toe is daar aan die voorkant langs elk van die vier wesens 'n wiel op die grond. Wat die voorkoms en bou van die wiele betref: Dit het soos •chrisoliet geskitter en al vier het een en dieselfde vorm gehad. Dit het gelyk of hulle gemaak was van 'n wiel binne 'n wiel. Wanneer hulle beweeg het, kon hulle in vier rigtings beweeg, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg het. En hulle vellings, dié was hoog en angswekkend; al vier hulle vellings was reg rondom vol oë.
Wanneer die wesens beweeg, het die wiele langs hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opstyg, het die wiele saam opgestyg. Waarheen die gees wou gaan, het die wesens ook gegaan. Die wiele het saam met die wesens opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele. Wanneer die wesens beweeg, beweeg die wiele, en wanneer die wesens staan, staan hulle. Wanneer die wesens van die grond af opstyg, styg die wiele saam met hulle op; ja, die gees van die wesens was in die wiele.
Bokant die koppe van die wesens was daar, in die vorm van 'n koepel, iets wat geskitter het soos kristal – angswekkend, gespan bo-oor hulle koppe. Onder die koepel was hulle vlerke reguit na mekaar uitgestrek. Elkeen het twee vlerke gehad waarmee hulle hulle liggame bedek het.
Ek het die geluid van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geluid van baie water, soos die stem van die Almagtige, die geluid van 'n mensemassa, soos die geluid van 'n leërmag. Wanneer hulle stilstaan, het hulle hulle vlerke laat sak. Daar was 'n geluid bokant die koepel wat oor die koppe van die wesens uitgestrek het. Wanneer die wesens gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak.
Bokant die koepel wat bo hulle koppe was, was daar iets wat soos •lasuursteen lyk, in die vorm van 'n troon; en daarbo, op wat soos 'n troon lyk – daarop was 'n gestalte met die voorkoms van 'n mens. Ek sien toe Hy is skitterend soos witgoud, byna soos vuur vasgevang in 'n omhulsel, vanaf wat na sy heupe gelyk het boontoe. En vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe, het ek gesien dit lyk soos vuur, omring deur 'n helder gloed. Die helder gloed rondom het gelyk soos 'n reënboog wat in die wolke verskyn op 'n reëndag.
Dit is hoe die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk het. Toe ek dit sien, het ek neergeval met my gesig teen die grond. Daarna het ek 'n stem hoor praat.