ESEGIËL 1:1-28

ESEGIËL 1:1-28 NLV

Op 31 Julie van my dertigste jaar was ek saam met die Judese ballinge langs die Kebarrivier in Babilonië. Die hemel het vir my oopgegaan en ek het visioene van God gesien. Dit het gebeur gedurende die vyfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was. Die HERE het vir my, Esegiël die seun van Busi, die priester, ’n boodskap gegee. Ek was langs die Kebarrivier in die land van die Babiloniërs. En die hand van die HERE was daar op my. Terwyl ek gekyk het, sien ek ’n groot storm na my toe aankom uit die noorde. Voor die storm was daar ’n reuse wolk waarin die weerlig slaan en ’n helder lig brand. Die vuur binne-in die wolk het soos gloeiende metaal geblink. Uit die middel van die wolk het vier lewende wesens gekom wat soos mense gelyk het, behalwe dat elkeen van hulle vier gesigte en twee paar vlerke gehad het. Hulle bene was reguit soos ’n mens s’n, maar hulle voete het gelyk soos ’n kalf s’n, en dit het geblink soos brons wat opgevryf is. Onder elkeen van die vier vlerke kon ek hande sien soos dié van mense. Die vlerke van elke lewende wese het geraak aan die vlerke van die twee wat langs hom staan. Die wesens kon in enige rigting vlieg sonder om om te draai. Elkeen het die gesig van ’n mens na voor gehad, die gesig van ’n leeu aan die regterkant, die gesig van ’n bees aan die linkerkant en die gesig van ’n arend aan die agterkant. Elkeen het ook twee pare uitgestrekte vlerke gehad. Met een paar vlerke het hulle geraak aan die ander een wat langs hulle staan. Met die ander paar het hulle hulleself toegemaak. Hulle het in enige rigting gegaan wat die Gees wou. Hulle kon reguit vorentoe gaan sonder om ooit om te draai. Die wesens het gelyk soos skerp kole vuur wat gloei of soos helder ligte wat brand. Dit het gelyk of weerlig heen en weer tussen hulle flits. Die wesens het soos weerligstrale heen en weer beweeg. Terwyl ek na hierdie wesens gestaar het, het ek vier wiele op die grond langs elke wese gesien. Die wiele het soos kosbare stene geskitter. Al vier wiele het presies dieselfde gelyk. Binne-in elke wiel was daar nog ’n wiel wat dwars daarteenoor gedraai het. Die wesens kon vorentoe beweeg in enige rigting waarheen hulle kyk sonder om om te draai as hulle beweeg. Die vier wiele was ontsagwekkend groot, en hulle was rondom vol oë. Wanneer die vier wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg. As hulle opgestyg het, het die wiele ook opgegaan. Die gees van die vier lewende wesens was in die wiele. Daarom het die wiele en die wesens gegaan waar die gees ook al gegaan het. As die wesens beweeg het, het die wiele beweeg. En as die wesens stilgestaan het, het die wiele ook stilgestaan. As die wesens in die lug opgestyg het, het die wiele ook opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele. Daar was ’n koepel bokant hulle koppe soos die horison. Dit het soos ’n kristal geblink, en dit was angswekkend. Onder hierdie oppervlakte was die vlerke van die wesens uitgestrek wat aan mekaar geraak het, en elkeen het ook twee vlerke gehad waarmee hulle hulle lywe bedek het. Wanneer hulle vlieg, het hulle vlerke gedreun soos golwe wat op die strand breek, of soos die stem van die Almagtige, of soos die geraas van ’n groot klomp soldate. En wanneer hulle stilstaan, het hulle die vlerke laat sak. Daar het ’n stem gekom van bokant die koepel bo-oor die wesens se koppe, en hulle het hulle vlerke laat sak terwyl hulle tot stilstand kom. Bokant die koepel bo hulle koppe was daar iets soos ’n troon van blou saffier. Hoog bokant hierdie troon was daar ’n figuur wat soos ’n mens gelyk het. Van sy heupe af boontoe het sy lyf gegloei soos witwarm metaal. En van sy heupe af ondertoe het hy gelyk soos ’n baie helder vlam wat brand. Reg rondom hom was die lig so helder soos die glans van ’n reënboog tussen die wolke. So het die heerlikheid van die HERE aan my verskyn. Toe ek dit sien, het ek op my gesig op die grond neergeval, en toe het ek gehoor dat iemand met my praat.