1 Konings 8:22-53

1 Konings 8:22-53 DB

Terwyl al die mense daar was, het Salomo voor die altaar gaan staan. Hy het sy arms opgelig en begin bid. “Here, U is die God van Israel. Daar is niemand soos U in die hemel of op die aarde nie. U is aan u verbond met ons getrou en U het u mense met ’n groot deernis lief. U is lief vir elkeen wat U dien. U het u belofte aan my pa, Dawid, nagekom. Vandag het elke woord van daardie belofte waar geword. Here, God van Israel, maak asseblief tog ook u belofte waar dat daar altyd een van my pa se kinders oor Israel sal regeer. Help elke koning dat hulle U soos my pa sal liefhê en volgens u woord sal leef. Laat alles tog waar word wat U vir Dawid, my pa, oor die jare beloof het.” “Here, my God, kan U regtig hier op aarde in die tempel woon? Nie eens die ganse hemel is vir U groot genoeg nie. Hoe kan hierdie geboutjie, hierdie tempel wat ek gebou het, dan ooit groot genoeg vir U wees? Here my God, voor U is ek niks. Luister tog na my woorde en verhoor vandag my gebed. Here, beskerm hierdie gebou dag en nag. Dit is tog die plek wat U gekies het; die plek waar U wou hê ons U moes aanbid. Hoor elke keer my gebed as ek my gesig na hierdie tempel toe draai. Hoor ook die smekinge van u mense wanneer hulle in die rigting van die tempel kyk en bid. Hoor tog ons gebede in u hemelse woonplek en vergewe ons ons sondes. “Wanneer iemand van ’n oortreding teenoor sy naaste beskuldig word en hy sweer by die altaar in hierdie tempel dat hy onskuldig is, luister dan vanuit u hemelse woonplek en oordeel U self. Straf die skuldige en spreek die onskuldige vry. “Wanneer u volk, Israel, ’n geveg verloor omdat hulle aan U ontrou was, maar hulle bely hulle sondes vol berou hier by die tempel, hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en maak hulle weer gelukkig in hierdie land wat U lank gelede al aan hulle voorouers beloof het. “Wanneer U die reën terughou omdat u mense gesondig het, maar hulle bely hulle foute en bid met hulle gesig in die rigting van die tempel, hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe die koning en die volk hulle sondes en leer hulle om die regte dinge te doen. Gee dan reën vir u land; die land wat U aan Israel as permanente woonplek gegee het. “Wanneer daar hongersnood of die een of ander epidemie in die land is, of ’n verwoestende wind of sprinkaanswerms vernietig die oes, of die vyand verslaan u volk onverwags, of allerlei siektes maai u mense af, hoor dan hulle smeekgebede. As u volk in hulle gebrokenheid hulle hande na U toe uitsteek en in die rigting van hierdie tempel bid, hoor hulle in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en help hulle. U alleen ken die donker dieptes van ’n mens se hart en U alleen weet wie opreg is en wie nie. Leer u volk om U lief te hê en U getrou te dien in hierdie land wat U aan hulle voorvaders beloof het. “Luister ook na die vreemdeling wat nie deel van u volk is nie, maar in ’n ver en vreemde land van U gehoor het. Die vreemdeling wat van u liefde vir u mense gehoor het en wat toe besluit het om U in hierdie tempel te dien en te aanbid. Hoor tog die gebed van die vreemdeling in u hemelse woonplek. Hoor as hy sy hart in hierdie plek voor U uitstort en verhoor sy gebede. Al die volke van die aarde sal dan na Jerusalem toe wil kom om U te dien. Soos Israel sal hulle U in die tempel wil dien. Al die volke sal dan weet dat U by hierdie tempel wat ek gebou het, aanbid word. “Wanneer Israel op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in ’n vreemde land terwyl hulle hulle gesig in die rigting van die tempel draai, luister dan na hulle gebede in u hemelse woonplek en laat hulle die vyand verslaan. “Wanneer u mense teen U gesondig het - en wie is daar wat nie sondig nie? - en U hulle in woede in die hand van die vyand oorgee sodat hulle na ’n ver land in ballingskap weggevoer word, maar hulle roep nogtans tot U, luister dan na u mense se smeekroepe. As hulle in daardie vreemde land berou kry en besef hulle het verkeerd gedoen en dit bely, verhoor dan hulle gebede. As hulle in daardie land waarlik berou het en hulle bid met hulle gesig na hierdie land, hierdie stad en hierdie tempel toe wat ek vir U gebou het, luister dan na hulle gebede. Vergewe hulle en wees opnuut weer lief vir u mense. Vergewe hulle baie sondes en hulle opstand teen U. En gee dat Israel se vyande medelye en deernis met hulle sal hê. Hulle is tog u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gered het. “Here ons God, mag U altyd u volk en sy koning met groot deernis liefhê. Hoor tog as hulle dag en nag na U om hulp roep. U het hulle tog self gekies. Israel en die koning het U uit al die volke van die wêreld vir U gekies. Hulle is u s’n. Dit is tog wat U vir Moses gesê het toe U hulle uit Egipte gelei het.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Konings 8:22-53

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid