1 Konings 8:22-53

1 Konings 8:22-53 AFR20

Toe het Salomo voor die altaar van die HERE gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel. Hy het sy hande na die hemel uitgestrek en gesê: “HERE, God van Israel, daar is geen god soos U in die hemel daar bo of op die aarde hier onder nie; U wat die verbond en troue liefde in stand hou vir u diensknegte wat met hulle hele hart voor U leef; U wat ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, gehou het by dit wat U hom beloof het. U het dit met u mond gesê en met u hand volbring, soos dit vandag is. Daarom, HERE, God van Israel, hou nou ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, by wat U hom beloof het toe U gesê het, ‘Daar sal nooit iemand vir jou ontbreek wat voor my aangesig op die troon van Israel sit nie, as jou seuns maar net ag slaan op hulle optrede deur voor My te leef soos jy voor My geleef het.’ Daarom, o God van Israel, laat u belofte wat U aan u dienskneg, my vader Dawid, gemaak het, tog waar word. “ Maar kan God werklik op aarde woon? Kyk, die hemelruim en die hoogste hemele kan U nie omvat nie – hoeveel minder hierdie tempel wat ek gebou het? U moet aandag gee aan die gebed van u dienskneg, aan sy smeekbede, HERE my God, deur te luister na die klaagroep, na die gebed wat u dienskneg vandag voor U bid, dat u oë dag en nag oop sal wees na hierdie tempel, na die plek waarvan U gesê het, ‘My Naam sal daar wees,’ sodat U sal luister na die gebed wat u dienskneg in die rigting van hierdie plek rig. Luister dan na die smeekbede van u dienskneg en van u volk Israel wat hulle in die rigting van hierdie plek bid. U self moet dit hoor tot by die plek waar U woon, tot in die hemel. U moet dit hoor, en U moet vergewe. “Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, moet U self hoor in die hemel en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige skuldig te verklaar, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien. “Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle na U terugkeer, u Naam prys en bid en by U smeek in hierdie tempel, moet U self hoor in die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle voorouers gegee het. “ Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het. “ Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiektes uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane, kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – en daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel wat elkeen die teistering van sy eie hart ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en optree en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van alle mensekinders – sodat hulle vir U ontsag mag hê solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het. “ En ook die buitelander wat nie deel van u volk Israel is nie, maar uit 'n ver land kom ter wille van u Naam – ja, hulle sal hoor van u groot Naam en u sterk hand en uitgestrekte arm – wanneer hy dan kom en in die rigting van hierdie tempel bid, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan optree volgens alles waaroor die buitelander U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, dat hulle vir U ontsag mag hê, soos u volk Israel, en sal besef dat dit u Naam is wat uitgeroep is oor hierdie tempel wat ek gebou het. “Wanneer u volk uittrek vir oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die HERE in die rigting van die stad wat U gekies het, en van die tempel wat ek vir u Naam gebou het, moet U in die hemel hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf. “Wanneer hulle teen U sondig – want daar is geen mens wat nie sondig nie – en U toornig is op hulle en hulle oorgee aan 'n vyand, en hulle ontvoerders hulle wegvoer na die land van die vyand, ver of naby, en hulle tot inkeer kom in die land waarheen hulle weggevoer is en hulle bekeer en by U om genade smeek in die land van hulle ontvoerders, met die woorde, ‘Ons het gesondig en afgedwaal, ons is skuldig,’ en hulle dan met hulle hele hart en siel na U terugkeer in die land van hulle vyande wat hulle weggevoer het, en hulle tot U bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorouers gegee het, die stad wat U gekies het, en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, moet U in die hemel, die plek van u verblyf, hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf. Vergewe dan u volk dit wat hulle teen U gesondig het, ja, al hulle oortredings waarmee hulle teen U oortree het. Gee dat daar vir hulle barmhartigheid sal wees by hulle ontvoerders, sodat dié barmhartig sal optree teenoor hulle. Hulle is immers u volk en u erfdeel wat U uit Egipte, uit die ystersmeltoond, uitgelei het. “ Laat u oë dan oop wees vir die smeekbede van u dienskneg en die smeekbede van u volk Israel, sodat U na hulle sal luister in alles waaroor hulle U aanroep; want dit is U wat hulle vir U afgesonder het as erfenis onder al die volke van die aarde, soos U beloof het by monde van Moses, u dienskneg, toe U ons voorouers uit Egipte uitgelei het, HERE, my Heer.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Konings 8:22-53

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid