1 KONINGS 8:22-53

1 KONINGS 8:22-53 NLV

Daarna het Salomo in die teenwoordigheid van die hele vergadering van Israel voor die altaar van die HERE gaan staan en sy hande na die hemel toe uitgestrek. Hy het gebid: “HERE, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde bly betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul. En nou, HERE, God van Israel, laat tog ook u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, waar word. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy geleef het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’ Nou, God van Israel, bevestig tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het! Luister tog na my gebed en smeking, HERE my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en hy moet voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld kom aflê, hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry. “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek, luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle voorouers gegee het. “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het, hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het. “Indien daar hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, of treksprinkane, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al tref, luister dan. Luister na die gebed en die smeking van die enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek. Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe en gryp in. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen wat hy nodig het, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan. Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees, solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het. “Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam – want hulle sal van U hoor en van u kragtige dade en u mag – as hulle na hierdie tempel toe bid, hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is. “As u volk op u bevel uittrek om oorlog teen hulle vyande te maak en hulle tot U, die HERE, bid in die rigting van hierdie stad wat U uitgekies het en na hierdie tempel wat ek vir u Naam gebou het, luister dan in die hemel na hulle gebede en smekinge, en gee aan hulle die oorwinning. “As hulle teen u sondig – want wie sondig nie – kan U ontevrede word en hulle oorgee aan hulle vyande wat hulle as gevangenes wegvoer na ’n vreemde land, ver of naby. As hulle egter in daardie land van gevangenskap hulle dalk in berou tot U bekeer en tot U smeek: ‘Ons het oortree, ons het gesondig, ons het kwaad gedoen,’ luister tog na hierdie gebede. As hulle hulle heelhartig en in opregtheid tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het, luister dan tog in die hemel waar U woon na hulle gebede en smeking, en wees genadig. Vergewe dan u volk wat teen U gesondig het, vergewe al die opstand teen U. Laat dié wat hulle gevange geneem het genade aan hulle betoon, want hulle is u volk, u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gebring het. “Wees tog ontvanklik vir my versoeke en die smekinge van u volk Israel. Luister en antwoord hulle wanneer hulle na U roep. Want toe U ons voorouers uit Egipte gebring het, oppermagtige HERE, het U vir Moses u dienaar gesê dat U Israel afgesonder het uit al die nasies op die aarde om u eiendom te wees.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 KONINGS 8:22-53

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid