1 KONINGS 8:22-53

1 KONINGS 8:22-53 Die Boodskap (DB)

Terwyl al die mense daar was, het Salomo voor die altaar gaan staan. Hy het sy arms opgelig en begin bid. “Here, U is die God van Israel. Daar is niemand soos U in die hemel of op die aarde nie. U is aan u verbond met ons getrou en U het u mense met ’n groot deernis lief. U is lief vir elkeen wat U dien. U het u belofte aan my pa, Dawid, nagekom. Vandag het elke woord van daardie belofte waar geword. Here, God van Israel, maak asseblief tog ook u belofte waar dat daar altyd een van my pa se kinders oor Israel sal regeer. Help elke koning dat hulle U soos my pa sal liefhê en volgens u woord sal leef. Laat alles tog waar word wat U vir Dawid, my pa, oor die jare beloof het.” “Here, my God, kan U regtig hier op aarde in die tempel woon? Nie eens die ganse hemel is vir U groot genoeg nie. Hoe kan hierdie geboutjie, hierdie tempel wat ek gebou het, dan ooit groot genoeg vir U wees? Here my God, voor U is ek niks. Luister tog na my woorde en verhoor vandag my gebed. Here, beskerm hierdie gebou dag en nag. Dit is tog die plek wat U gekies het; die plek waar U wou hê ons U moes aanbid. Hoor elke keer my gebed as ek my gesig na hierdie tempel toe draai. Hoor ook die smekinge van u mense wanneer hulle in die rigting van die tempel kyk en bid. Hoor tog ons gebede in u hemelse woonplek en vergewe ons ons sondes. “Wanneer iemand van ’n oortreding teenoor sy naaste beskuldig word en hy sweer by die altaar in hierdie tempel dat hy onskuldig is, luister dan vanuit u hemelse woonplek en oordeel U self. Straf die skuldige en spreek die onskuldige vry. “Wanneer u volk, Israel, ’n geveg verloor omdat hulle aan U ontrou was, maar hulle bely hulle sondes vol berou hier by die tempel, hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en maak hulle weer gelukkig in hierdie land wat U lank gelede al aan hulle voorouers beloof het. “Wanneer U die reën terughou omdat u mense gesondig het, maar hulle bely hulle foute en bid met hulle gesig in die rigting van die tempel, hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe die koning en die volk hulle sondes en leer hulle om die regte dinge te doen. Gee dan reën vir u land; die land wat U aan Israel as permanente woonplek gegee het. “Wanneer daar hongersnood of die een of ander epidemie in die land is, of ’n verwoestende wind of sprinkaanswerms vernietig die oes, of die vyand verslaan u volk onverwags, of allerlei siektes maai u mense af, hoor dan hulle smeekgebede. As u volk in hulle gebrokenheid hulle hande na U toe uitsteek en in die rigting van hierdie tempel bid, hoor hulle in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en help hulle. U alleen ken die donker dieptes van ’n mens se hart en U alleen weet wie opreg is en wie nie. Leer u volk om U lief te hê en U getrou te dien in hierdie land wat U aan hulle voorvaders beloof het. “Luister ook na die vreemdeling wat nie deel van u volk is nie, maar in ’n ver en vreemde land van U gehoor het. Die vreemdeling wat van u liefde vir u mense gehoor het en wat toe besluit het om U in hierdie tempel te dien en te aanbid. Hoor tog die gebed van die vreemdeling in u hemelse woonplek. Hoor as hy sy hart in hierdie plek voor U uitstort en verhoor sy gebede. Al die volke van die aarde sal dan na Jerusalem toe wil kom om U te dien. Soos Israel sal hulle U in die tempel wil dien. Al die volke sal dan weet dat U by hierdie tempel wat ek gebou het, aanbid word. “Wanneer Israel op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in ’n vreemde land terwyl hulle hulle gesig in die rigting van die tempel draai, luister dan na hulle gebede in u hemelse woonplek en laat hulle die vyand verslaan. “Wanneer u mense teen U gesondig het - en wie is daar wat nie sondig nie? - en U hulle in woede in die hand van die vyand oorgee sodat hulle na ’n ver land in ballingskap weggevoer word, maar hulle roep nogtans tot U, luister dan na u mense se smeekroepe. As hulle in daardie vreemde land berou kry en besef hulle het verkeerd gedoen en dit bely, verhoor dan hulle gebede. As hulle in daardie land waarlik berou het en hulle bid met hulle gesig na hierdie land, hierdie stad en hierdie tempel toe wat ek vir U gebou het, luister dan na hulle gebede. Vergewe hulle en wees opnuut weer lief vir u mense. Vergewe hulle baie sondes en hulle opstand teen U. En gee dat Israel se vyande medelye en deernis met hulle sal hê. Hulle is tog u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gered het. “Here ons God, mag U altyd u volk en sy koning met groot deernis liefhê. Hoor tog as hulle dag en nag na U om hulp roep. U het hulle tog self gekies. Israel en die koning het U uit al die volke van die wêreld vir U gekies. Hulle is u s’n. Dit is tog wat U vir Moses gesê het toe U hulle uit Egipte gelei het.”

1 KONINGS 8:22-53 Bybel vir almal (ABA)

Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie 'n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê. U het gedoen wat U vir u dienaar, my pa Dawid, gesê het. U het dit belowe en U het dit gedoen, dit is vandag soos U belowe het. En nou, Here, God van Israel, moet U vir u dienaar, my pa Dawid, doen wat U belowe het. U het vir hom gesê: ‘Iemand van jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit, maar dan moet jou nageslag reg doen. Hulle moet lewe soos Ek wil hê en soos jy ook gelewe het.’ En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid. Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek. Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid. U moet asseblief altyd sorg vir hierdie tempel. Dit is die plek waar U gesê het U wil wees. Luister na die gebed wat 'n dienaar van U bid wanneer hy na hierdie plek kyk en bid. Luister wanneer u dienaar en u volk Israel bid en soebat terwyl hulle na hierdie plek kyk en bid. En wanneer U dit hoor in u woonplek, die hemel, vergewe dan ons sonde. “Wanneer iemand sê 'n ander persoon het verkeerd gedoen teen hom, en hy wil hê die ander persoon moet voor U kom sê dat U hom moet straf as hy dit gedoen het, dan sal die ander persoon miskien voor die altaar in hierdie tempel kom staan en sê hy is onskuldig. Dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet oordeel tussen u dienaars. Die persoon wat skuldig is, moet die straf kry vir dit wat hy gedoen het en die persoon wat onskuldig is, moet vry wees omdat hy onskuldig is. “U volk Israel sal miskien 'n oorlog verloor teen vyande omdat u volk sonde gedoen het teen U. As u volk dan hulle lewe verander en hulle doen wat U wil hê en hulle prys u Naam en hulle bid tot U in hierdie tempel en hulle soebat vir U, dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u volk Israel se sonde vergewe en hulle laat terugkom na die land wat U vir hulle voorvaders gegee het. “U sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie omdat u volk sonde doen teen U. As hulle dan na hierdie plek kyk en bid, en hulle prys u Naam en hulle verander hulle lewe en hulle doen wat U wil hê en hulle vra dat U moet luister na hulle gebed, dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u dienaars en u volk Israel se sonde vergewe. U moet iets doen om hulle te help, U moet reën gee op die land wat U vir u volk gegee het. So sal U vir hulle leer om reg te lewe. “Daar sal miskien hongersnood in die land wees, of almal sal begin siek word en sterf, of daar sal siektes kom in die koring op die land, of daar sal swerms sprinkane kom, of vyande van die volk sal kom en hulle sal die stede aanval van al die kante, of ander slegte dinge sal gebeur. Dan moet U asseblief luister wanneer iemand of u volk Israel bid en soebat, U moet luister wanneer elke persoon sy hande uitsteek na hierdie tempel en sê wat met hom gebeur het. Luister dan asseblief in u woonplek, die hemel, en vergewe sy sonde en help hom. Gee vir elkeen wat hy moet kry, want net U weet hoe 'n mens se hart regtig is. Dan sal hulle altyd gehoorsaam wees aan U terwyl hulle in die land woon wat U vir hulle voorvaders gegee het. “Maar U moet ook luister na iemand wat nie van u volk Israel is nie en wat van 'n ver land kom omdat hy u Naam gehoor het. As hy gehoor het van u groot Naam en van die groot dinge wat U gedoen het, en hy kom en hy kyk na hierdie tempel en hy bid, dan moet U luister in die hemel waar U woon en U moet alles doen wat hy vir U in sy gebed vra, sodat elke volk op die aarde u Naam kan ken en gehoorsaam kan wees aan U, soos u volk Israel. Doen dit sodat hulle kan weet dat hierdie tempel aan U behoort, hierdie tempel wat ek gebou het. “U volk sal miskien oorlog gaan maak teen vyande omdat U gesê het hulle moet dit doen. As hulle kyk na hierdie stad wat U gekies het en na hierdie tempel wat ek gebou het vir U, en as hulle bid en soebat, dan moet U asseblief in die hemel luister na hulle gebed en U moet hulle laat wen teen hulle vyande. “Al die mense doen sonde. U volk doen ook sonde teen U, en dan word U kwaad en U gee hulle vir hulle vyande sodat die vyande hulle kan vang en wegvat na die vyande se land, ver of naby. Maar u volk sal miskien hulle lewe verander daar in die land waar hulle gevangenes is en hulle sal weer na U toe kom en tot U bid in daardie land en sê: ‘Ons het sonde gedoen, ons het verkeerde dinge gedoen, ons is skuldig.’ As hulle met hulle hele hart en lewe na U toe kom in die land van hulle vyande waar hulle gevangenes is en as hulle kyk na hierdie land wat U vir hulle voorvaders gegee het, en na die stad wat U gekies het, en na die tempel wat ek gebou het vir U, en as hulle bid tot U, dan moet U asseblief luister in u woonplek, die hemel. U moet luister na hulle gebed en U moenie aanhou om hulle te straf nie. U moet asseblief u volk vergewe wat sonde gedoen het teen U. U moet hulle vergewe dat hulle opstandig was teen U, en U moet die mense wat vir hulle gevang het, jammer laat wees vir hulle, want hulle is u eie volk. U het hulle gebring uit Egipte, die plek wat vir hulle soos 'n warm oond was. “Luister asseblief na my gebede en na die gebede van u volk Israel. Luister asseblief na elke gebed wat ons tot U bid, en doen asseblief wat ons vir U vra, want, Here, U wat Here is, U het ons gekies om u volk te wees, U het nie een van die ander volke van die wêreld gekies nie. Dit het gebeur soos U vir ons gesê het toe U vir Moses, u dienaar, gestuur het en toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.”

1 KONINGS 8:22-53 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het Salomo voor die altaar van die HERE gaan staan, teenoor die hele vergadering van Israel, en sy hande uitgebrei na die hemel en gesê: HERE, God van Israel, daar is bo in die hemel of onder op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart, wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is. Hou nou ook, HERE, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit 'n man voor my aangesig ontbreek wat op die troon van Israel sal sit nie as jou seuns net hulle weg in ag neem deur te wandel voor my aangesig soos jy voor my aangesig gewandel het. Laat dan nou, o God van Israel, u woord tog waar gemaak word wat U gespreek het tot u kneg, my vader Dawid. Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het. Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, HERE my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg vandag voor u aangesig bid; sodat u oë oop mag wees nag en dag oor hierdie huis, oor die plek waarvan U gesê het: My Naam sal daar wees! sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid. Luister dan na die smeking van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor elke gebed na u woonplek, na die hemel toe, en as U dit hoor, vergewe dan. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom 'n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer, wil U dan hoor in die hemel en handel en u knegte reg verskaf deur die skuldige skuldig te verklaar en sy wandel op sy hoof te lê en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid. As u volk Israel verslaan word voor 'n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul tot U bekeer en u Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie huis, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle vaders gegee het. As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as 'n erfenis gegee het. As daar hongersnood is in die land, as daar pes is, as daar brandkoring, heuningdou, sprinkane, kaalvreters is, as sy vyand hom in die land, in sy poorte dit benoud maak, watter plaag, watter siekte ook al, enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei — wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van al die mensekinders — sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het. Ja, ook na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit 'n ver land ter wille van u Naam kom — want hulle sal hoor van u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm — as hy kom en bid na hierdie huis toe, wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het. As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die HERE in die rigting van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het, wil dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf. As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan 'n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby, en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van die wat hulle weggevoer het, en sê: Ons het gesondig en verkeerd gehandel, ons was goddeloos — en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel, in die land van hul vyande wat hulle weggevoer het, en hulle bid tot U in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het, van die stad wat U verkies het, en die huis wat ek vir u Naam gebou het, wil dan in die hemel, u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf, en vergeef u volk wat hulle teen U gesondig het, ja, al hulle oortredinge wat hulle teen U begaan het; en laat hulle barmhartigheid vind voor die wat hulle weggevoer het, dat dié hulle barmhartig kan wees. Want hulle is u volk en u erfdeel wat U uit Egipte uitgelei het uit die ystersmeltoond. Mag u oë dan oop wees vir die smeking van u kneg en vir die smeking van u volk Israel, om na hulle te luister so dikwels as hulle U aanroep. Want U het hulle vir U as erfdeel afgesonder uit al die volke van die aarde, soos U deur die diens van u kneg Moses gespreek het toe U, Here HERE, ons vaders uit Egipte uitgelei het.

1 KONINGS 8:22-53 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit na die hemel toe en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul. “Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: ‘Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees, mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.’ “God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar, my vader Dawid, gemaak het, ook verder vas staan. “Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! “Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid. Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog! “As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel, luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade dra en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas. “As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U, luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle voorvaders gegee het. “Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel. “Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref, luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek; luister tog uit die hemel, u woonplek, vergeef en gryp in en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart, sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het. “Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid. Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het. “Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U, die Here, in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het, luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning. “Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee, sodat hulle as gevangenes weggevoer word na die vyand se land toe, ver of naby, en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig,’ en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle vyande wat hulle gevange hou, en hulle bid tot U in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het, vergeef hulle al hulle opstandigheid teen U en laat dié wat hulle gevange hou, met hulle medelye hê, want hulle is u eie volk, U het hulle uitgelei uit Egipte, uit die smeltoond uit. “Wees tog ontvanklik vir die smeking van u dienaar en u volk Israel, verhoor tog elke gebed wat hulle tot U rig. U het hulle onder al die volke van die wêreld afgesonder as 'n volk vir U, Here. Dit het gebeur soos U, Here, deur u dienaar Moses gesê het toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.”

1 KONINGS 8:22-53 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe het Salomo voor die altaar van die HERE gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel. Hy het sy hande na die hemel uitgestrek en gesê: “HERE, God van Israel, daar is geen god soos U in die hemel daar bo of op die aarde hier onder nie; U wat die verbond en troue liefde in stand hou vir u diensknegte wat met hulle hele hart voor U leef; U wat ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, gehou het by dit wat U hom beloof het. U het dit met u mond gesê en met u hand volbring, soos dit vandag is. Daarom, HERE, God van Israel, hou nou ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, by wat U hom beloof het toe U gesê het, ‘Daar sal nooit iemand vir jou ontbreek wat voor my aangesig op die troon van Israel sit nie, as jou seuns maar net ag slaan op hulle optrede deur voor My te leef soos jy voor My geleef het.’ Daarom, o God van Israel, laat u belofte wat U aan u dienskneg, my vader Dawid, gemaak het, tog waar word. “ Maar kan God werklik op aarde woon? Kyk, die hemelruim en die hoogste hemele kan U nie omvat nie – hoeveel minder hierdie tempel wat ek gebou het? U moet aandag gee aan die gebed van u dienskneg, aan sy smeekbede, HERE my God, deur te luister na die klaagroep, na die gebed wat u dienskneg vandag voor U bid, dat u oë dag en nag oop sal wees na hierdie tempel, na die plek waarvan U gesê het, ‘My Naam sal daar wees,’ sodat U sal luister na die gebed wat u dienskneg in die rigting van hierdie plek rig. Luister dan na die smeekbede van u dienskneg en van u volk Israel wat hulle in die rigting van hierdie plek bid. U self moet dit hoor tot by die plek waar U woon, tot in die hemel. U moet dit hoor, en U moet vergewe. “Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, moet U self hoor in die hemel en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige skuldig te verklaar, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien. “Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle na U terugkeer, u Naam prys en bid en by U smeek in hierdie tempel, moet U self hoor in die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle voorouers gegee het. “ Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het. “ Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiektes uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane, kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – en daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel wat elkeen die teistering van sy eie hart ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en optree en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van alle mensekinders – sodat hulle vir U ontsag mag hê solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het. “ En ook die buitelander wat nie deel van u volk Israel is nie, maar uit 'n ver land kom ter wille van u Naam – ja, hulle sal hoor van u groot Naam en u sterk hand en uitgestrekte arm – wanneer hy dan kom en in die rigting van hierdie tempel bid, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan optree volgens alles waaroor die buitelander U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, dat hulle vir U ontsag mag hê, soos u volk Israel, en sal besef dat dit u Naam is wat uitgeroep is oor hierdie tempel wat ek gebou het. “Wanneer u volk uittrek vir oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die HERE in die rigting van die stad wat U gekies het, en van die tempel wat ek vir u Naam gebou het, moet U in die hemel hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf. “Wanneer hulle teen U sondig – want daar is geen mens wat nie sondig nie – en U toornig is op hulle en hulle oorgee aan 'n vyand, en hulle ontvoerders hulle wegvoer na die land van die vyand, ver of naby, en hulle tot inkeer kom in die land waarheen hulle weggevoer is en hulle bekeer en by U om genade smeek in die land van hulle ontvoerders, met die woorde, ‘Ons het gesondig en afgedwaal, ons is skuldig,’ en hulle dan met hulle hele hart en siel na U terugkeer in die land van hulle vyande wat hulle weggevoer het, en hulle tot U bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorouers gegee het, die stad wat U gekies het, en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, moet U in die hemel, die plek van u verblyf, hulle gebede en smeekbedes hoor en hulle reg handhaaf. Vergewe dan u volk dit wat hulle teen U gesondig het, ja, al hulle oortredings waarmee hulle teen U oortree het. Gee dat daar vir hulle barmhartigheid sal wees by hulle ontvoerders, sodat dié barmhartig sal optree teenoor hulle. Hulle is immers u volk en u erfdeel wat U uit Egipte, uit die ystersmeltoond, uitgelei het. “ Laat u oë dan oop wees vir die smeekbede van u dienskneg en die smeekbede van u volk Israel, sodat U na hulle sal luister in alles waaroor hulle U aanroep; want dit is U wat hulle vir U afgesonder het as erfenis onder al die volke van die aarde, soos U beloof het by monde van Moses, u dienskneg, toe U ons voorouers uit Egipte uitgelei het, HERE, my Heer.”

1 KONINGS 8:22-53 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Salomo het voor die altaar van die HERE gestaan voor die aangesig van die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei. En hy het gesê: HERE, God van Israel, daar is geen God soos U, bo in die hemel of onder op die aarde, wat die verbond en barmhartigheid hou met u dienaars wat met hulle hele hart voor U wandel nie. Wat by u kneg, my vader Dawid, gehou het wat u hom beloof het; u het ook met u mond gespreek en dit met u hand vervul soos dit vandag is. Daarom nou, HERE, God van Israel, hou by u kneg, my vader Dawid, wat U hom beloof het deur te sê: Daar sal vir U geen man in my oë ontbreek om op die troon van Israel te sit nie; sodat u kinders op hul weg ag gee, dat hulle voor my aangesig wandel soos u voor my aangesig gewandel het. En nou, o God van Israel, laat u woord tog waar gemaak word wat U aan u kneg, my vader Dawid, gespreek het. Maar sal God werklik op die aarde woon? kyk, die hemel en die hemel van die hemele kan jou nie bevat nie; hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het? Maar let op die gebed van u kneg en sy smeking, HERE my God, om te luister na die geroep en die gebed wat u dienaar vandag voor u aangesig bid. Sodat jou oë geopen mag wees oor hierdie huis, nag en dag, ook na die plek waarvan jy gesê het: My Naam sal daar wees, sodat jy kan luister na die gebed wat u dienaar na hierdie plek sal doen. En luister na die smeking van u kneg en van u volk Israel wanneer hulle na hierdie plek toe bid; en luister na U in die hemel, u woonplek; en as u dit hoor, vergewe. As iemand teen sy naaste oortree en hom 'n eed opgelê word om hom te laat sweer, en die eed kom voor u altaar in hierdie huis, Hoor dan in die hemel en doen en oordeel u dienaars deur die goddelose te veroordeel, om sy weg op sy hoof te bring; en die regverdige regverdig, om hom te gee na sy geregtigheid. Wanneer jou volk Israel voor die vyand verslaan word, omdat hulle teen jou gesondig het, en hulle na jou terugdraai en jou Naam bely en bid en jou in hierdie huis smeek, Hoor dan in die hemel en vergewe die sonde van u volk Israel, en bring hulle terug na die land wat U aan hulle vaders gegee het. As die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het; as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en hulle bekeer van hulle sonde as U hulle verdruk; Hoor dan in die hemel en vergewe die sonde van u knegte en van u volk Israel, dat U hulle die goeie weg leer waarop hulle moet wandel en reën gee op u land wat U aan u volk as erfenis gegee het. As daar hongersnood in die land is, as daar pes, branders, muf, sprinkane of ruspes is; as hulle vyand hulle beleër in die land van hulle stede; enige plaag, watter siekte daar ook al mag wees; Watter gebed en smeking mag ook al gedoen word deur iemand of deur jou hele volk Israel, wat elkeen die plaag van sy eie hart sal ken en sy hande na hierdie huis sal uitbrei; Hoor dan in die hemel, jou woonplek, en vergewe en doen en gee aan elkeen volgens sy weë wie se hart jy ken; (want jy alleen ken die harte van al die mensekinders;) sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle woon in die land wat U aan ons vaders gegee het. En wat 'n vreemdeling betref, wat nie uit u volk Israel is nie, maar ter wille van u Naam uit 'n ver land kom; (Want hulle sal hoor van u groot Naam en van u sterke hand en van u uitgestrekte arm) as hy kom en in die rigting van hierdie huis bid; Hoor U in die hemel, u woonplek, en doen volgens alles waarvoor die vreemdeling U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken, om U te vrees, net soos u volk Israel; en dat hulle kan weet dat oor hierdie huis wat Ek gebou het, u Naam uitgeroep is. As jou volk uittrek om te veg teen hulle vyand, waarheen jy hulle ook al mag stuur, en tot die HERE bid in die rigting van die stad wat jy verkies het, en na die huis wat Ek vir jou Naam gebou het; Hoor dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking, en voer hulle saak aan. As hulle teen jou sondig (want daar is niemand wat nie sondig nie) en jy vir hulle kwaad word en hulle aan die vyand oorgee, sodat hulle hulle as gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby; Maar as hulle dink in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle bekeer en tot U smeek in die land van die wat hulle as gevangenes weggevoer het, en sê: Ons het gesondig en verkeerd gedoen, ons het goddeloosheid gepleeg; En keer terug na jou toe met hulle hele hart en met hulle hele siel in die land van hulle vyande wat hulle in ballingskap weggevoer het, en bid tot jou in die rigting van hulle land wat jy aan hulle vaders gegee het, die stad wat jy uitverkies het, en die huis wat Ek vir u Naam gebou het; Hoor dan hulle gebed en hulle smeking in die hemel, u woonplek, en voer hulle saak aan, En vergeef u volk wat teen U gesondig het, en al hulle oortredinge waarin hulle teen U oortree het, en betoon hulle barmhartigheid voor die wat hulle as gevangenes weggevoer het, sodat hulle medelye met hulle kan hê. Want hulle is jou volk en jou erfdeel wat jy uit Egipte uitgelei het, uit die ysteroond; sodat jou oë oop kan wees vir die smeking van u kneg en vir die smeking van u volk Israel, om na hulle te luister in alles wat hulle na U roep. Want U het hulle van die hele volk van die aarde afgesonder, om u erfdeel te wees, soos U gespreek het deur die hand van u kneg Moses, toe U ons vaders uit Egipte uitgelei het, HERE HERE.

1 KONINGS 8:22-53 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarna het Salomo in die teenwoordigheid van die hele vergadering van Israel voor die altaar van die HERE gaan staan en sy hande na die hemel toe uitgestrek. Hy het gebid: “HERE, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde bly betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul. En nou, HERE, God van Israel, laat tog ook u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, waar word. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy geleef het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’ Nou, God van Israel, bevestig tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het! Luister tog na my gebed en smeking, HERE my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en hy moet voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld kom aflê, hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry. “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek, luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle voorouers gegee het. “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het, hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het. “Indien daar hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, of treksprinkane, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al tref, luister dan. Luister na die gebed en die smeking van die enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek. Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe en gryp in. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen wat hy nodig het, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan. Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees, solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het. “Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam – want hulle sal van U hoor en van u kragtige dade en u mag – as hulle na hierdie tempel toe bid, hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is. “As u volk op u bevel uittrek om oorlog teen hulle vyande te maak en hulle tot U, die HERE, bid in die rigting van hierdie stad wat U uitgekies het en na hierdie tempel wat ek vir u Naam gebou het, luister dan in die hemel na hulle gebede en smekinge, en gee aan hulle die oorwinning. “As hulle teen u sondig – want wie sondig nie – kan U ontevrede word en hulle oorgee aan hulle vyande wat hulle as gevangenes wegvoer na ’n vreemde land, ver of naby. As hulle egter in daardie land van gevangenskap hulle dalk in berou tot U bekeer en tot U smeek: ‘Ons het oortree, ons het gesondig, ons het kwaad gedoen,’ luister tog na hierdie gebede. As hulle hulle heelhartig en in opregtheid tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het, luister dan tog in die hemel waar U woon na hulle gebede en smeking, en wees genadig. Vergewe dan u volk wat teen U gesondig het, vergewe al die opstand teen U. Laat dié wat hulle gevange geneem het genade aan hulle betoon, want hulle is u volk, u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gebring het. “Wees tog ontvanklik vir my versoeke en die smekinge van u volk Israel. Luister en antwoord hulle wanneer hulle na U roep. Want toe U ons voorouers uit Egipte gebring het, oppermagtige HERE, het U vir Moses u dienaar gesê dat U Israel afgesonder het uit al die nasies op die aarde om u eiendom te wees.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid