Psalms 40:1-17

Psalms 40:1-17 AFR20

Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. Ek het op die HERE bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik. Hy het my voete op 'n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee. Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, 'n lofsang vir ons God. Baie sal dit sien, en ontsag hê, ja, hulle sal op die HERE vertrou. Gelukkig is die mens wat sy vertroue in die HERE stel, en hom nie wend tot hoogmoediges en dié wat hulle toevlug neem tot leuens nie. So baie het U, HERE my God, gedoen – u wonders en wat U vir ons beplan het. Niemand kan met U vergelyk word nie. Ek wil dit graag bekend maak, en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem. Slagoffers en •graanoffers is nie wat U wil hê nie – U het my ore oopgemaak – •brandoffers en •reinigingsoffers het U nie gevra nie. Daarop het ek gesê: “Kyk, ek het gekom – in die •boekrol is oor my geskryf. Wat U behaag, my God, wil ek graag doen; u wet is in my binneste.” Ek het die goeie boodskap van geregtigheid gebring in 'n groot byeenkoms, kyk, my lippe hou ek nie dig nie. U weet dit self, HERE. U geregtigheid het ek nie in my hart verberg nie, oor u trou en verlossing het ek gepraat. Ek het nie u troue liefde en waarheid vir 'n groot byeenkoms geheim gehou nie. U, HERE, moet tog nie u ontferming van my weerhou nie. Laat u troue liefde en waarheid my altyd veilig hou, want tallose gevare omring my. My sondeskuld het my ingehaal, sodat ek nie kan sien nie; dit is meer as die hare op my kop. My moed het my begewe. Mag dit U behaag om my te red, HERE, HERE, kom my gou te hulp! Laat hulle almal saam beskaamd en verleë staan, hulle wat my lewe soek. Laat hulle terugdeins en verneder word, hulle wat behae het in my teenspoed. Mag hulle ontredderd wees deur hulle skande, hulle wat vir my sê: “Aha! Aha!” Mag almal wat U soek hulle verheug en in U bly wees; mag hulle wat u verlossing liefhet, voortdurend sê: “Die HERE is groot!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid