PSALMS 40:1-17

PSALMS 40:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm. Ek het aangehou wag dat die Here my moet help, en Hy het na my toe gebuig en gehoor hoe ek kla en sug. En toe het Hy my opgetrek uit die diep gat vol slym en modder, ek het amper daar gesterf. Hy het my op 'n rots neergesit, my voete kon daar vas staan. Hy het vir my 'n nuwe lied laat sing, 'n lied om ons God te prys. Baie mense het gesien wat Hy gedoen het, en hulle het Hom gerespekteer en gedien, hulle het geglo dat die Here hulle sal help. Dit gaan goed met 'n mens wat glo dat die Here hom sal help, 'n mens wat nie vra dat afgode hom moet help nie, dinge wat nie gode is nie. U, my God die Here, U het baie wonderwerke gedoen en U het baie dinge oor ons besluit. Niemand is soos U nie. As ek wil vertel wat U gedoen het en daaroor wil praat, dan is alles te veel om te tel. U wil nie offers en presente hê nie, U wil hê dat ek moet luister na wat U sê. U het nie gevra dat ons brand-offers en sonde-offers moet bring nie. Daarom het ek gesê: “Hier is ek! Die boek met u wette sê dat ek dit moet doen.” My God, ek hou daarvan om te doen wat U wil hê. Ek dink altyd aan wat in u wette geskryf is. U het my gered, en ek het hierdie goeie nuus in die groot vergadering vertel. U moet luister, ek het nie stilgebly nie. Here, U weet dit self. Ek het nie stilgebly nie, ek het vertel dat U red, ek het gesê dat U doen wat U sê, U help. Ek het vir die groot volksvergadering gesê dat U doen wat U belowe het en altyd dieselfde is. Ek het nie stilgebly nie. U, Here, U moenie ophou om jammer te wees vir my nie, U moet altyd doen wat U belowe het, U moet dieselfde bly, dan sal ek veilig wees. Baie slegte dinge het met my gebeur, dit is te veel om te tel. My sondes is meer as die hare op my kop en U straf my nou daaroor. Ek kan nie meer sien nie, ek kan nie verder gaan nie. Here, U moet my asseblief red! Here, U moet my gou kom help! Die mense wat wil hê dat ek moet sterf, moenie wen nie, hulle moet verloor. Die mense wat wil hê dat dit sleg moet gaan met my, moet weggaan, hulle moet weet dat hulle niks sal regkry nie. Die mense wat vir my spot en hulle tong uitsteek, moet groot skrik omdat U hulle so verneder. Almal wat vir U wil kom dien, moet vrolik en bly wees, die mense wat wil hê dat U hulle moet help, moet aanhou sê: “Die Here is groot!”

PSALMS 40:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Ek het die HERE lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op 'n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak. En Hy het 'n nuwe lied in my mond gegee, 'n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou. Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die HERE stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuendienaars nie. Groot dinge het U gedoen, HERE my God — u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel. U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie. Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande. Ek het 'n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie. HERE, U weet dit. U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; van u trou en u heil spreek ek; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie. U, o HERE, sal u barmhartighede van my nie terughou nie; laat u goedertierenheid en u trou my altyddeur behoed. Want onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede het my ingehaal, en ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof, en my hart het my verlaat. Laat dit U behaag, HERE, om my te red; HERE, maak tog gou om my te help! Laat hulle wat my lewe soek, om dit weg te ruk, tesame beskaamd staan en rooi van skaamte word; laat hulle wat behae het in my onheil, agteruitwyk en in die skande kom. Laat hulle wat vir my sê: Ha, ha! vanweë hul beskaming verskrik wees! Laat almal wat U soek, in U vrolik en bly wees; laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is die HERE!

PSALMS 40:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm. Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê, 'n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou! Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel en hom nie wend tot duister magte en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie. Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen; U dink altyd aan ons; daar is niemand soos U nie. Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem. Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê. Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos. Ek het nie stilgebly nie, Here, U weet dit! Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie, ek het gepraat oor u trou en u hulp. Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie. Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here, laat u liefde en trou my voortdurend bewaak, want ramp op ramp het my oorval, my ongeregtighede het my ingehaal; ek weet nie meer waarheen nie. Hulle is meer as die hare op my kop; ek is moedeloos. Here, red my tog asseblief! Here, kom my tog gou te hulp! Laat dié wat my lewe wil neem, self in die ellende beland, teleurgestel in hulle verwagting; laat dié wat graag my ondergang wil sien, op die vlug slaan en beskaamd staan. Laat dié wat my spot, verbysterd staan omdat hulle self in die ellende beland het. Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U, laat dié wat op u hulp staatmaak, altyddeur sê: “Die Here is groot!”

PSALMS 40:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. Ek het op die HERE bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik. Hy het my voete op 'n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee. Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, 'n lofsang vir ons God. Baie sal dit sien, en ontsag hê, ja, hulle sal op die HERE vertrou. Gelukkig is die mens wat sy vertroue in die HERE stel, en hom nie wend tot hoogmoediges en dié wat hulle toevlug neem tot leuens nie. So baie het U, HERE my God, gedoen – u wonders en wat U vir ons beplan het. Niemand kan met U vergelyk word nie. Ek wil dit graag bekend maak, en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem. Slagoffers en •graanoffers is nie wat U wil hê nie – U het my ore oopgemaak – •brandoffers en •reinigingsoffers het U nie gevra nie. Daarop het ek gesê: “Kyk, ek het gekom – in die •boekrol is oor my geskryf. Wat U behaag, my God, wil ek graag doen; u wet is in my binneste.” Ek het die goeie boodskap van geregtigheid gebring in 'n groot byeenkoms, kyk, my lippe hou ek nie dig nie. U weet dit self, HERE. U geregtigheid het ek nie in my hart verberg nie, oor u trou en verlossing het ek gepraat. Ek het nie u troue liefde en waarheid vir 'n groot byeenkoms geheim gehou nie. U, HERE, moet tog nie u ontferming van my weerhou nie. Laat u troue liefde en waarheid my altyd veilig hou, want tallose gevare omring my. My sondeskuld het my ingehaal, sodat ek nie kan sien nie; dit is meer as die hare op my kop. My moed het my begewe. Mag dit U behaag om my te red, HERE, HERE, kom my gou te hulp! Laat hulle almal saam beskaamd en verleë staan, hulle wat my lewe soek. Laat hulle terugdeins en verneder word, hulle wat behae het in my teenspoed. Mag hulle ontredderd wees deur hulle skande, hulle wat vir my sê: “Aha! Aha!” Mag almal wat U soek hulle verheug en in U bly wees; mag hulle wat u verlossing liefhet, voortdurend sê: “Die HERE is groot!”

PSALMS 40:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek het geduldig op die HERE gewag; en hy het na my neergebuig en my geroep gehoor. Hy het my ook uit 'n afgryslike kuil, uit die modderige klei laat optrek en my voete op 'n rots gestel en my weë bevestig. En Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, lof tot eer van onse God; baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou. Welgeluksalig is die man wat die HERE vertrou en die hoogmoediges nie ag nie en nie die wat afwyk tot leuens nie. Baie, HERE my God, is u wonderwerke wat U gedoen het, en u gedagtes wat tot ons gerig is; dit kan nie vir U gereken word nie; genommer word. Slagoffer en spysoffer het jy nie begeer nie; my ore het jy oopgemaak; brandoffer en sondoffer het jy nie geëis nie. Toe sê ek: Kyk, ek kom; in die boekrol is van my geskrywe: Ek het 'n welbehae om u wil te doen, o my God; ja, u wet is binne-in my hart. Ek het geregtigheid verkondig in die groot vergadering; kyk, ek het my lippe nie teruggehou nie, o HERE, U weet dit. Ek het u geregtigheid nie in my hart verberg nie; Ek het u trou en u heil bekend gemaak; u goedertierenheid en u waarheid het ek nie vir die groot vergadering verberg nie. Weer u barmhartighede nie van my af nie, o HERE; laat u goedertierenheid en u trou my gedurigdeur bewaar. Want ontelbare euwels het my omring: my ongeregtighede het my aangegryp, sodat ek nie kan opkyk nie; hulle is meer as die hare van my hoof; daarom begewe my hart my. Wees behaag, o HERE, om my te red; o HERE, maak gou om my te help. Laat hulle saam beskaamd staan en beskaamd staan wat my siel soek om dit te vernietig; laat hulle agteruit gedryf en beskaam word wat my kwaad toewens. Laat hulle woes word vir die beloning van hulle skande wat vir my sê: Aha, aha! Laat almal wat U soek, in U bly wees en bly wees; laat die wat u heil liefhet, gedurigdeur sê: Mag die HERE groot wees! Maar ek is arm en behoeftig; tog dink die HERE aan my: U is my hulp en my redder; moenie vertoef nie, o my God.

PSALMS 40:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek het met hunkering op die HERE gewag. Hy het na my afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die afgrond van die dood, uit die modder en die slym. Hy het my voete op ’n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ’n nuwe lied gegee, ’n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die HERE vertrou. Geseënd is die mens wat op die HERE vertrou, wat hom nie wend na hooghartiges, of vertrou op vals gode nie. HERE my God, U het baie wonders gedoen. U planne vir ons kan met niks vergelyk word nie. As ek van al u wonderdade wil vertel, is dit te veel om op te noem. Slagoffers of graanoffers wil U nie hê nie. U het my in staat gestel om te luister. Brandoffers of sonde-offers het U nie nodig nie. Toe sê ek: “Kyk, ek kom! In die boekrol is dit oor my geskryf. Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart.” Ek het in die groot vergadering geregtigheid verkondig. Ek was nie bang om reguit te praat nie. HERE, U weet dit tog. U geregtigheid het ek nie vir myself gehou nie; ek het vertel van u trou en van u reddende mag. In die groot vergadering het ek nie geswyg oor u goedheid en getrouheid nie. HERE, moenie u ontferming van my weghou nie. Laat u liefde en trou my altyd beskerm. Want rampe het my oorval. Daar is moeilikhede rondom my, dis te veel om te tel! My sondes het my ingehaal; ek kan dit nie ontsnap nie. Hulle is meer as die hare op my kop. Ek het alle moed verloor. Asseblief, HERE, red my tog! Kom gou, HERE, en help my! Laat almal wat my lewe wil neem, in skande kom en verneder word. Laat hulle wat my ondergang begeer, vlug en beskaamd staan. Laat hulle verbysterd wees oor hulle skande, hulle wat sê: “Aha! Ons hét hom!” Maar mag almal wat U dien, vol vreugde en blydskap wees. Mag hulle wat by U hulp soek, voortdurend sê: “Die HERE is groot!”

PSALMS 40:1-17

PSALMS 40:1-17 AFR83PSALMS 40:1-17 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid