PSALMS 40:1-17

PSALMS 40:1-17 NLV

Ek het met hunkering op die HERE gewag. Hy het na my afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die afgrond van die dood, uit die modder en die slym. Hy het my voete op ’n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ’n nuwe lied gegee, ’n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die HERE vertrou. Geseënd is die mens wat op die HERE vertrou, wat hom nie wend na hooghartiges, of vertrou op vals gode nie. HERE my God, U het baie wonders gedoen. U planne vir ons kan met niks vergelyk word nie. As ek van al u wonderdade wil vertel, is dit te veel om op te noem. Slagoffers of graanoffers wil U nie hê nie. U het my in staat gestel om te luister. Brandoffers of sonde-offers het U nie nodig nie. Toe sê ek: “Kyk, ek kom! In die boekrol is dit oor my geskryf. Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart.” Ek het in die groot vergadering geregtigheid verkondig. Ek was nie bang om reguit te praat nie. HERE, U weet dit tog. U geregtigheid het ek nie vir myself gehou nie; ek het vertel van u trou en van u reddende mag. In die groot vergadering het ek nie geswyg oor u goedheid en getrouheid nie. HERE, moenie u ontferming van my weghou nie. Laat u liefde en trou my altyd beskerm. Want rampe het my oorval. Daar is moeilikhede rondom my, dis te veel om te tel! My sondes het my ingehaal; ek kan dit nie ontsnap nie. Hulle is meer as die hare op my kop. Ek het alle moed verloor. Asseblief, HERE, red my tog! Kom gou, HERE, en help my! Laat almal wat my lewe wil neem, in skande kom en verneder word. Laat hulle wat my ondergang begeer, vlug en beskaamd staan. Laat hulle verbysterd wees oor hulle skande, hulle wat sê: “Aha! Ons hét hom!” Maar mag almal wat U dien, vol vreugde en blydskap wees. Mag hulle wat by U hulp soek, voortdurend sê: “Die HERE is groot!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid