Psalms 31:9-18

Psalms 31:9-18 AFR20

my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie, maar my voete op 'n ruim plek laat staan het. Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; my oë is dik geswel van verdriet, my •siel en liggaam, ja, my lewe kwyn weg van kommer en my lewensjare met 'n gesug. My kragte gee mee onder my sondelas, en my ledemate swel op. Ek het 'n bespotting geword oor al my teenstanders, veral by my bure – ja, 'n verskrikking vir my kennisse. Wie my op straat sien, vlug van my weg. Ek is vergete – uit die hart soos iemand wat dood is; ek word soos 'n gebreekte kleipot. Want ek het die kwaadpratery van baie gehoor: “Verskrikking aan alle kante!” Wanneer hulle teen my saamspan, beplan hulle om my lewe te neem. Maar ek, op U, HERE vertrou ek. Ek sê: “U is my God, my tye is in u hand.” Red my uit die hand van my vyande, van hulle wat my agtervolg. Laat u aangesig oor u dienskneg skyn; verlos my in u troue liefde. HERE, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep na U; laat die goddeloses beskaamd staan, laat hulle die •doderyk stil binnegaan.