Spreuke 3:5-28

Spreuke 3:5-28 AFR20

Vertrou op die HERE met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die HERE, bly weg van die kwaad. Genesing sal dit bring vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente. Eer die HERE met jou rykdom, met die beste deel van jou volle oes; dan sal jou graanskure oorvol wees, en van •nuwe wyn sal jou parskuipe oorloop. Die vermaning van die HERE, my seun, moet dit nie verwerp nie, en moenie 'n afkeer hê van sy teregwysing nie. Want die een vir wie die HERE liefhet, wys Hy tereg, soos 'n vader die seun vir wie hy omgee. Hoe gelukkig is 'n mens wat wysheid vind, en 'n mens wat verstandigheid verkry! Ja, die wins wat wysheid lewer, is meer as dié van silwer, meer as dié van goud is haar opbrengs. Sy is kosbaarder as koraal; niks wat jy begeer, kan met haar vergelyk word nie. 'n Lang lewe is in haar regterhand, en in haar linkerhand, rykdom en eer. Haar weë is aangename weë, en al haar paaie is vrede. 'n Boom van lewe is sy vir hulle wat haar aangryp, en hulle wat haar vashou, word elkeen gelukkig genoem. Die HERE self het die aarde gegrondves met wysheid, die hemel gevestig met verstand. Deur sy kennis is die •oerwaters gekloof en drup die wolke dou. My seun, vindingrykheid en goeie oordeel – laat dit nie aan jou oë ontglip nie; hou daarby. Dit sal lewe wees vir jou wese, 'n sieraad vir jou nek. Dan sal jy veilig loop op jou pad; jou voet sal jy nie stamp nie. As jy gaan lê, sal jy nie verskrik wees nie, as jy lê, sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir 'n onverwagte verskrikking, of vir die teenspoed van goddeloses wanneer dit kom nie. Want die HERE sal aan jou sy wees, en Hy sal keer dat jou voet in 'n strik trap. Moenie iets goeds weerhou van wie dit verdien, terwyl dit in jou mag is om op te tree nie. Moenie vir jou medemens sê, “Gaan en kom later weer – môre sal ek dit gee!” terwyl jy dit by jou het nie.