Vertrou op die HERE met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. Moenie jou eie wysheid oorskat nie. Hou eerder die HERE voor oë en vermy wat sleg is. Dit sal jou liggaam gesond hou, jou lewe verkwik. Vereer die HERE met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes. Hy sal jou opgaarplekke vol maak. Jou parskuipe sal oorloop van al die wyn. My seun, moenie dit verontagsaam wanneer die HERE jou reghelp nie. Moenie jou verset wanneer Hy jou teregwys nie. Die HERE bestraf immers hulle wat Hy liefhet net soos ’n pa sy seun teregwys. Die mens wat wysheid kry, is gelukkig. Dit gaan goed met die mens wat insig kry. Wysheid het meer voordele as geld. Haar beloning is meer werd as goud. Wysheid het meer waarde as edelstene. Niks wat jy ooit kan begeer, vergelyk daarmee nie. Met die een hand gee wysheid ’n lang lewe. Met die ander hand rykdom en eer. Wysheid maak ’n mens gelukkig. Wie dit volg, beleef vrede. Vir dié wat daaraan vashou, is dit ’n boom van die lewe. Hulle wat daarop steun, is geseënd. Die HERE het die aarde met wysheid op sy plek neergesit, met insig die hemel oopgespan. Deur sy kennis het water uit die diep fonteine geborrel en het daar reën uit die wolke geval. My seun, moenie takt en oorleg uit die oog verloor nie. Hou altyd daaraan vas. Dit sal jou lewe verryk en eer en agting vir jou bring. Jou pad sal veilig wees. Jy sal nie struikel nie. Jy sal kan gaan slaap sonder om bang te wees. Jy sal rustig kan bly slaap. Jy hoef nie bang te wees dat teëspoed jou skielik sal tref nie. Die rampe vir slegte mense bedoel, sal nie oor jou kom nie. Die HERE is jou beskermer. Hy sal sorg dat jy nie in ’n strik trap nie. Moenie wag om goed te doen vir iemand wat dit nodig het nie, veral as dit vir jou moontlik is om dit te doen. Moenie vir jou buurman sê: “Gaan nou weg en kom môre weer, dan sal ek jou help,” terwyl jy dit nou al kon gedoen het nie.
Lees SPREUKE 3
Luister na SPREUKE 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: SPREUKE 3:5-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's