Eksodus 15:19-27

Eksodus 15:19-27 AFR20

Want die perde van die farao, met sy strydwaens en bemanning, het in die see ingegaan, en die HERE het die water van die see oor hulle laat terugvloei. Maar die Israeliete het op droë grond in die middel van die see deurgetrek.” Toe het Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, 'n tamboeryn in haar hand geneem, en al die vroue het agter haar aan uitgegaan met tamboeryne en in 'n kring gedans. Mirjam het vir hulle die refrein gesing: “Sing vir die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see geslinger.” Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee, en hulle het uitgegaan na die Surwoestyn. Hulle het drie dae lank in die woestyn getrek en nie water gekry nie. Toe hulle by Mara aankom, kon hulle die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom word die plek Mara genoem. Die volk het teenoor Moses gemor en gesê: “Wat moet ons drink?” Hy het na die HERE om hulp geroep; en die HERE het hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die HERE vir hulle 'n vaste voorskrif en 'n bepaling neergelê; daar het Hy hulle getoets. Hy het gesê: “As jy noukeurig luister na die stem van die HERE jou God, doen wat reg is in sy oë, aandag gee aan sy gebooie en al sy vaste voorskrifte nakom, dan sal Ek nie een van die siektes wat Ek op die Egiptenare gelaai het, oor jou bring nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak. ” Hierna het hulle by Elim aangekom, waar daar twaalf fonteine en sewentig dadelpalms was. Hulle het daar langs die water kamp opgeslaan.

Video for Eksodus 15:19-27

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 15:19-27