Eksodus 15:19-27

Eksodus 15:19-27 DB

Dit was regtig so. Die Here het die water van die see oor die farao se perde en oorlogswaens en bemanning laat terugspoel toe hulle daardeur wou gaan. Toe die Israeliete daar deurgegaan het, was dit nog droë grond. Aäron se suster Miriam was ’n boodskapper van die Here. Sy het ’n tamboeryn gevat en begin dans. Al die vroue het agter haar aan gedans en op hulle tamboeryne geslaan. Sy het hulle uitgenooi om saam met haar te sing: “Kom ons sing vir die Here ’n lied. Hy is geweldig groot. Hy het die perd en die oorlogswa in die see gegooi.” Moses het die Israeliete kamp laat opbreek by die Rietsee. Hulle het toe na die Surwoestyn getrek. Hulle het drie dae lank deur die woestyn getrek, maar hulle kon nie ’n plek kry waar daar water was nie. Van daar af het hulle na ’n plek gegaan met die naam Mara. Daar was wel water, maar hulle kon dit nie drink nie. Die water was brak en het bitter gesmaak. Dis hoekom die plek Mara (dit beteken “bitter”) genoem word. Die volk het toe by Moses kom kla en by hom gemor: “Wat moet ons dan drink?” Moses het by die Here hulp gaan vra. Die Here wys toe vir hom ’n stuk hout wat hy in die water moet gooi. Nadat hy dit gedoen het, het die water drinkbaar geword. Dit was ook daar waar die Here vir hulle reëls en regulasies gegee het. Hy wou hulle daarmee toets om agter te kom of hulle bereid was om na Hom te luister. Hy het vir hulle gesê: “Jy moet baie goed luister na die Here jou God. Jy moet alles doen wat vir Hom reg is. Jy moet fyn luister na die wette wat Hy vir jou gee. Jy moet alles doen wat Hy van jou vra. As jy dit doen, sal Ek sorg dat jy nie dieselfde ellendes oorkom as Egipte nie. Ek is die Here. Ek sal sorg dat jy gesond bly.” Hulle is van daar af weg en het by Elim aangekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar by die water kamp opgeslaan.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 15:19-27

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid