EKSODUS 15:19-27

EKSODUS 15:19-27 Bybel vir almal (ABA)

Ja, toe die farao se perde en oorlogkarre en die manne daarop in die see ingegaan het, het die Here die see se water laat terugkom oor hulle, maar die Israeliete het op die grond deur die see gegaan. Moses se suster, Mirjam, was 'n profeet. Sy het 'n tamboeryn in haar hand geneem. Al die vroue het ook tamboeryne geneem en hulle het haar gevolg. Hulle het gedans. Mirjam het vir hulle gesê: “Sing vir die Here, want Hy is die Groot God. Hy het die perde en die manne wat op hulle ry, in die see gegooi.” Moses en die Israeliete het weggegaan van die Riet-see. Hulle het in die Sur-woestyn gekom. Hulle het drie dae lank geloop, verder in die woestyn in, en hulle het nie water gekry nie. Toe kom hulle by die plek Mara, maar hulle kon nie die water daar drink nie, want dit was bitter. Dit is hoekom hulle die plek Mara genoem het. Die Israeliete kom toe na Moses toe en vra vir hom: “Wat moet ons drink?” Moses het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het vir hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit op die water gegooi, en die water het soet geword. Die Here wou kyk of die Israeliete gehoorsaam sal bly aan Hom. Hy het vir hulle wette gegee en gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek sê. Ek is julle God die Here. Julle moet doen wat Ek wil hê. Julle moet gehoorsaam wees aan my wette. Dan sal Ek julle nie siek maak soos Ek die Egiptenaars siek gemaak het nie, want Ek is die Here wat julle gesond maak.” Die Israeliete het toe by Elim gekom. Daar was 12 fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar by die water hulle tente opgeslaan.

EKSODUS 15:19-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Want Farao se perd, met sy strydwaens en sy ruiters, het in die see ingegaan, en die HERE het die waters van die see oor hulle laat terugkom. Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek. En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het 'n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse. En Mirjam het hulle al singende geantwoord: Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp. DAAROP het Moses die Israeliete laat wegtrek van die Skelfsee af, en hulle het uitgetrek na die woestyn Sur. Hulle het toe drie dae lank in die woestyn getrek en geen water gekry nie. En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom heet die plek Mara. Toe murmureer die volk teen Moses en sê: Wat moet ons drink? En hy het die HERE aangeroep, en die HERE het hom 'n stuk hout gewys; dit het hy in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het Hy vir hulle 'n insetting en verordening vasgestel en hulle daar beproef en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak. Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was. En hulle het daar by die water laer opgeslaan.

EKSODUS 15:19-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Waarlik, toe die perde van die farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die Here die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan. Mirjam die profetes, suster van Aäron, het 'n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger.” Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee af en hulle het na die Surwoestyn toe gegaan. Hulle het drie dae lank die woestyn in getrek en geen water gekry nie. Toe hulle by Mara aankom, kon hulle nie die water drink nie, omdat dit bitter was. Daarom het hulle die plek Mara genoem. Die volk het by Moses gekla: “Wat moet ons drink?” Moses het die Here aangeroep, en die Here het hom 'n stuk hout gewys. Hy het dit toe in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die Here die volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle 'n vaste reël neergelê. Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.” Daarna het hulle by Elim aangekom met sy twaalf fonteine en sewentig palmbome en daar by die water kamp opgeslaan.

EKSODUS 15:19-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Want die perde van die farao, met sy strydwaens en bemanning, het in die see ingegaan, en die HERE het die water van die see oor hulle laat terugvloei. Maar die Israeliete het op droë grond in die middel van die see deurgetrek.” Toe het Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, 'n tamboeryn in haar hand geneem, en al die vroue het agter haar aan uitgegaan met tamboeryne en in 'n kring gedans. Mirjam het vir hulle die refrein gesing: “Sing vir die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see geslinger.” Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee, en hulle het uitgegaan na die Surwoestyn. Hulle het drie dae lank in die woestyn getrek en nie water gekry nie. Toe hulle by Mara aankom, kon hulle die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom word die plek Mara genoem. Die volk het teenoor Moses gemor en gesê: “Wat moet ons drink?” Hy het na die HERE om hulp geroep; en die HERE het hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die HERE vir hulle 'n vaste voorskrif en 'n bepaling neergelê; daar het Hy hulle getoets. Hy het gesê: “As jy noukeurig luister na die stem van die HERE jou God, doen wat reg is in sy oë, aandag gee aan sy gebooie en al sy vaste voorskrifte nakom, dan sal Ek nie een van die siektes wat Ek op die Egiptenare gelaai het, oor jou bring nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak. ” Hierna het hulle by Elim aangekom, waar daar twaalf fonteine en sewentig dadelpalms was. Hulle het daar langs die water kamp opgeslaan.

EKSODUS 15:19-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want die perd van Farao het met sy strydwaens en met sy ruiters die see ingegaan, en die HERE het die waters van die see oor hulle teruggebring; maar die kinders van Israel het op droë grond in die middel van die see getrek. En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het 'n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het agter haar aan uitgegaan met tamboere en met koordanse. En Mirjam antwoord hulle: Sing tot eer van die HERE, want Hy het heerlik geseëvier; die perd en sy ruiter het hy in die see gegooi. Daarop het Moses Israel van die Skelfsee af gebring, en hulle het uitgetrek na die woestyn Sur; en hulle het drie dae in die woestyn gegaan en geen water gekry nie. En toe hulle in Mara kom, kon hulle nie van die water van Mara drink nie, want dit was bitter; daarom is die naam daarvan Mara genoem. En die volk het teen Moses gemurmureer en gesê: Wat moet ons drink? En hy het die HERE aangeroep; en die HERE het hom 'n boom gewys wat Hy in die water gegooi het, en die waters soet geword het; daar het Hy vir hulle 'n insetting en 'n verordening gemaak, en hulle daar beproef. En gesê: As jy ywerig na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë en na sy gebooie luister en al sy insettinge onderhou, sal Ek geeneen van hierdie siektes oplê nie, jou wat Ek oor die Egiptenaars gebring het, want Ek is die HERE wat jou gesond maak. En hulle het by Elim aangekom, waar twaalf waterputte en sestig palmbome was; en hulle het daar by die water laer opgeslaan.

EKSODUS 15:19-27 Die Boodskap (DB)

Dit was regtig so. Die Here het die water van die see oor die farao se perde en oorlogswaens en bemanning laat terugspoel toe hulle daardeur wou gaan. Toe die Israeliete daar deurgegaan het, was dit nog droë grond. Aäron se suster Miriam was ’n boodskapper van die Here. Sy het ’n tamboeryn gevat en begin dans. Al die vroue het agter haar aan gedans en op hulle tamboeryne geslaan. Sy het hulle uitgenooi om saam met haar te sing: “Kom ons sing vir die Here ’n lied. Hy is geweldig groot. Hy het die perd en die oorlogswa in die see gegooi.” Moses het die Israeliete kamp laat opbreek by die Rietsee. Hulle het toe na die Surwoestyn getrek. Hulle het drie dae lank deur die woestyn getrek, maar hulle kon nie ’n plek kry waar daar water was nie. Van daar af het hulle na ’n plek gegaan met die naam Mara. Daar was wel water, maar hulle kon dit nie drink nie. Die water was brak en het bitter gesmaak. Dis hoekom die plek Mara (dit beteken “bitter”) genoem word. Die volk het toe by Moses kom kla en by hom gemor: “Wat moet ons dan drink?” Moses het by die Here hulp gaan vra. Die Here wys toe vir hom ’n stuk hout wat hy in die water moet gooi. Nadat hy dit gedoen het, het die water drinkbaar geword. Dit was ook daar waar die Here vir hulle reëls en regulasies gegee het. Hy wou hulle daarmee toets om agter te kom of hulle bereid was om na Hom te luister. Hy het vir hulle gesê: “Jy moet baie goed luister na die Here jou God. Jy moet alles doen wat vir Hom reg is. Jy moet fyn luister na die wette wat Hy vir jou gee. Jy moet alles doen wat Hy van jou vra. As jy dit doen, sal Ek sorg dat jy nie dieselfde ellendes oorkom as Egipte nie. Ek is die Here. Ek sal sorg dat jy gesond bly.” Hulle is van daar af weg en het by Elim aangekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar by die water kamp opgeslaan.

EKSODUS 15:19-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Werklikwaar! Toe die perde van die farao, sy oorlogwaens en hulle bemanning deur die see wou gaan, het die HERE die water van die see op hulle laat instort. Die Israeliete was reeds droogvoets deur die see toe dit gebeur het. Mirjam was ’n vroulike profeet. Sy was Aäron se suster. Sy het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het agter haar aan gedans terwyl hulle op tamboeryne slaan. Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing vir die HERE, want Hy is geweldig hoog. Perd en ruiter het Hy in die see gegooi.” Moses het die volk toe weggelei van die Rietsee af. Hulle het na die Surwoestyn getrek. Drie dae lank het hulle deur die woestyn getrek en geen water gekry nie. Toe hulle by die plek Mara kom, was daar uiteindelik water. Die water was egter brak en hulle kon dit nie drink nie. Dit is hoekom die plek Mara genoem is. Die volk het toe by Moses gaan kla: “Wat moet ons dan drink?” Moses het hulp by die HERE gaan soek. Die HERE het vir hom ’n stuk hout uitgewys. Hy het dit gevat en in die water gegooi. Dit het die water drinkbaar gemaak. Dit was hier by Mara waar die HERE die volgende reëling getref het om hulle te toets: “As julle goed luister na die HERE julle God en doen wat vir Hom reg is, gehoorsaam is aan sy wette en reëls, dan sal Ek julle nie dieselfde dinge laat oorkom as die Egiptenaars nie. Ek is die HERE wat julle gesond sal hou.” Toe hulle van Mara af weg is, het hulle by Elim gekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar kamp opgeslaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid