Deuteronomium 28:1-11

Deuteronomium 28:1-11 AFR20

“ As jy aandagtig luister na die stem van die HERE jou God deur al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset na te kom, sal die HERE jou God jou verhoog bo al die nasies van die aarde. Al hierdie seëninge sal jy ontvang, en dit sal jou deel word as jy luister na die stem van die HERE jou God: “Geseënd sal jy wees in die dorp en geseënd sal jy wees in die veld! Geseënd die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond en die vrug van jou diere – die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee! Geseënd jou mandjie, en jou knieskottel! “Geseënd sal jy wees wanneer jy terugkeer en geseënd sal jy wees wanneer jy uittrek. Die HERE sal jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan. Met een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie sal hulle voor jou uit vlug. “Die HERE sal vir jou seën stuur – in jou graanskure en in alles waaraan jy jou hand waag. Ja, die HERE jou God sal jou seën in die land wat Hy vir jou gaan gee. “Die HERE sal jou vestig as 'n heilige volk vir Hom, soos Hy aan jou met 'n eed beloof het. As jy die gebooie van die HERE jou God nakom en sy paaie volg, sal al die volke van die aarde sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal ontsag vir jou hê. Op die grond wat die HERE aan jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, sal die HERE aan jou ryke oorvloed skenk met die vrug van jou liggaam, die vrug van jou diere en die vrug van jou grond.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Deuteronomium 28:1-11