DEUTERONOMIUM 28:1-11

DEUTERONOMIUM 28:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ As jy aandagtig luister na die stem van die HERE jou God deur al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset na te kom, sal die HERE jou God jou verhoog bo al die nasies van die aarde. Al hierdie seëninge sal jy ontvang, en dit sal jou deel word as jy luister na die stem van die HERE jou God: “Geseënd sal jy wees in die dorp en geseënd sal jy wees in die veld! Geseënd die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond en die vrug van jou diere – die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee! Geseënd jou mandjie, en jou knieskottel! “Geseënd sal jy wees wanneer jy terugkeer en geseënd sal jy wees wanneer jy uittrek. Die HERE sal jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan. Met een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie sal hulle voor jou uit vlug. “Die HERE sal vir jou seën stuur – in jou graanskure en in alles waaraan jy jou hand waag. Ja, die HERE jou God sal jou seën in die land wat Hy vir jou gaan gee. “Die HERE sal jou vestig as 'n heilige volk vir Hom, soos Hy aan jou met 'n eed beloof het. As jy die gebooie van die HERE jou God nakom en sy paaie volg, sal al die volke van die aarde sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal ontsag vir jou hê. Op die grond wat die HERE aan jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, sal die HERE aan jou ryke oorvloed skenk met die vrug van jou liggaam, die vrug van jou diere en die vrug van jou grond.

DEUTERONOMIUM 28:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

AS jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang. Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug. Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan; en Hy sal jou seën in die land wat die HERE jou God jou sal gee. Die HERE sal jou vir Hom as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die HERE jou God hou en in sy weë wandel. En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees. En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee.

DEUTERONOMIUM 28:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En as jy ywerig luister na die stem van die HERE jou God om al sy gebooie te onderhou en te doen wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou verhef bo al die nasies van die aarde: En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrug van jou land en die vrug van jou beeste, die aanteel van jou beeste en die troppe van jou skape. Geseënd is jou mandjie en jou voorraad. Geseënd sal jy wees as jy ingaan, en geseënd sal jy wees as jy uitgaan. Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou aangesig verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug. Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skatkamers en in alles waaraan jy jou hand slaan; en hy sal jou seën in die land wat die HERE jou God jou gee. Die HERE sal jou vir Hom 'n heilige volk vestig soos Hy jou met 'n eed beloof het, as jy die gebooie van die HERE jou God bewaar en in sy weë wandel. En al die mense van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is; en hulle sal vir jou bang wees. En die HERE sal jou oorvloedig maak in goed, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrug van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee.

DEUTERONOMIUM 28:1-11 Die Boodskap (DB)

“Jy moet baie goed luister na wat die Here jou God vir jou sê om te doen. As jy alles doen presies nes Hy vir jou sê en jy gehoorsaam is om alles te doen wat Hy jou beveel, sal dit goed gaan met jou. Die Here sal jou belangriker maak as enige ander nasie op aarde. Jy sal baie voorspoedig wees in alles wat jy aanpak. Jy sal ryk word omdat die Here jou ryk maak. Hy sal baie dinge vir jou doen: Hy sal jou voorspoedig maak as jy in die stad bly of op die platteland boer. “Hy sal vir jou baie kinders gee en jou landerye sal elke jaar groot oeste hê. “Jou mandjies waarmee jy die oes insamel, sal elke jaar oorloop van al die vrugte wat die Here vir jou sal gee. Hy sal sorg dat jy meer brood sal hê as wat jy kan eet. “Die Here sal jou voorspoedig maak waar jy ook al gaan. Dit sal heeltyd net goed gaan met jou. “Die Here sal jou vyande doodmaak as hulle besluit om jou aan te val. Hulle sal uit een rigting kom om jou aan te val, maar hulle sal in sewe rigtings weghardloop! “Die Here sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen. Jy sal nie genoeg skure hê om alles op te gaar wat Hy vir jou gaan gee nie. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy vir jou gee. “As jy alles doen wat die Here jou God jou beveel, sal Hy Israel as sy eie volk eenkant sit. Julle sal net aan Hom behoort en julle sal Hom dien. Hy het mos belowe dat Hy dit sal doen. Al die ander nasies sal erken dat julle die Here se volk is. En hulle sal baie bang wees vir julle. “Die Here sal vir jou baie van al die goeie dinge gee in die land wat Hy vir julle oupagrootjies belowe het om vir julle te gee. Julle sal baie kinders hê en baie skape en beeste, en julle sal elke jaar rekordoeste hê.