Deuteronomium 28

28
Seën en vervloeking
1“ As jy aandagtig luister na die stem van die Here jou God deur al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset na te kom, sal die Here jou God jou verhoog bo al die nasies van die aarde. 2Al hierdie seëninge sal jy ontvang, en dit sal jou deel word as jy luister na die stem van die Here jou God:
3“Geseënd sal jy wees in die dorp en geseënd sal jy wees in die veld! 4 Geseënd die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond en die vrug van jou diere – die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee! 5Geseënd jou mandjie, en jou knieskottel!
6“Geseënd sal jy wees wanneer jy terugkeer en geseënd sal jy wees wanneer jy uittrek. 7Die Here sal jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan. Met een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie sal hulle voor jou uit vlug.
8“Die Here sal vir jou seën stuur – in jou graanskure en in alles waaraan jy jou hand waag. Ja, die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy vir jou gaan gee.
9“Die Here sal jou vestig as 'n heilige volk vir Hom, soos Hy aan jou met 'n eed beloof het. As jy die gebooie van die Here jou God nakom en sy paaie volg, 10sal al die volke van die aarde sien dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal ontsag vir jou hê. 11Op die grond wat die Here aan jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, sal die Here aan jou ryke oorvloed skenk met die vrug van jou liggaam, die vrug van jou diere en die vrug van jou grond. 12Die Here sal vir jou sy goeie skatkamer, die hemel, oopmaak om die reën van jou land op tyd vir jou te gee en al jou handewerk te seën. Jy sal aan baie nasies uitleen, maar jy sal self nie hoef te leen nie. 13Die Here sal jou die kop maak, nie die stert nie. Jy sal net na bo beweeg, nie na onder nie, as jy gehoorsaam is aan die gebooie van die Here jou God wat ek jou vandag opdra om noukeurig na te kom. 14Van al die gebooie wat ek julle vandag opdra, mag jy nie links of regs afwyk deur agter ander gode aan te loop en hulle te dien nie.
15 “As jy egter nie na die stem van die Here jou God luister deur al sy gebooie en vaste voorskrifte wat ek vandag vir julle voorskryf, nougeset na te kom nie, sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou tref:
16“Vervloek sal jy wees in die dorp en vervloek sal jy wees in die veld.
17“Jou mandjie en jou knieskottel sal vervloek wees.
18“Die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond, die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee, sal vervloek wees.
19“Vervloek sal jy wees wanneer jy terugkeer en vervloek sal jy wees wanneer jy uittrek.”
20“ Die Here sal vervloeking, ontsteltenis en bedreigings oor jou stuur, oor alles waaraan jy jou hand waag, wat jy ook al doen, totdat jy uitgedelg is, en vinnig verdwyn, omdat jy Hom deur jou bose dade verlaat het. 21Die Here sal pessiekte aan jou laat kleef, totdat Hy jou uitgeroei het, weg van die grond waarheen jy op pad is om dit in besit te neem. 22Die Here sal jou tref met uittering, ontsteking, koors, hittekoors, met droogte, skroeisiekte en witroes; dit sal jou teister totdat jy tot niet is. 23Die hemelruim bo jou kop sal brons wees en die aarde onder jou yster. 24Die Here sal die reën van jou land stof maak; ja, fynsand sal uit die hemelruim op jou neerreën totdat jy uitgedelg is.
25“ Die Here sal daarvoor sorg dat jy voor jou vyande verslaan word. Met een pad sal jy teen hulle uittrek, en met sewe paaie voor hulle uit vlug. Jy sal 'n skrikwekkende voorbeeld wees vir al die koninkryke van die aarde. 26Jou lyke sal aas wees vir al die voëls van die hemel en die diere van die land, en niemand sal hulle verwilder nie.
27“Die Here sal jou tref met Egiptiese swere, swelsels, uitslag en skurfsiekte waarvan jy nie sal kan genees nie. 28Die Here sal jou tref met kranksinnigheid, blindheid en sinsverwarring, 29en jy sal helder oordag rondtas soos 'n blinde in die donker. Jy sal nie voorspoedig wees met wat jy onderneem nie, maar altyd net verdruk wees en beroof word, en daar sal geen helper wees nie.
30“Aan 'n vrou sal jy verloof raak, en 'n ander man sal haar onteer. 'n Huis sal jy bou, en nie daarin woon nie. 'n Wingerd sal jy plant, en die eerste vrugte daarvan nie geniet nie. 31Jou bees word voor jou oë geslag, en jy eet nie daarvan nie. Jou donkie word reg voor jou gesteel, en jy kry hom nie terug nie. Jou kleinvee word aan jou vyande gegee, en niemand sal jou help nie. 32Jou seuns en jou dogters word aan 'n ander volk gegee, terwyl jy dit moet aanskou. Elke dag verlang jy na hulle, maar jy is magteloos. 33Die vrug van jou grond, ja, al jou moeitevolle arbeid – 'n volk wat jy nie ken nie, sal dit verslind. Jy sal die hele tyd net verdruk en mishandel word. 34Jy sal van jou kop af raak oor die toneel wat voor jou oë afspeel. 35 Die Here sal jou tref met dodelike swere aan jou knieë en bene waarvan jy nie sal kan genees nie – van jou voetsool tot jou kroontjie.
36“Die Here sal jou en jou koning wat jy oor jou aanstel, laat wegvoer na 'n nasie wat jy en jou voorouers nie geken het nie, en daar sal jy ander gode dien, hout en klip. 37Jy sal 'n skrikbeeld, 'n spreuk en 'n spotnaam word by al die volke waarheen die Here jou verdryf.
38“ Jy sal baie saad na die landerye neem, maar min oes; want treksprinkane sal dit kaal vreet. 39Wingerde sal jy plant en bewerk, maar jy sal nie wyn drink of druiwe oes nie; want wurms sal dit opvreet. 40Jy sal olyfbome hê in jou hele grondgebied, maar olie sal jy nie aan jou smeer nie; want jou olywe sal afval.
41“Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal nie aan jou behoort nie, want hulle sal in ballingskap gaan.
42“Al jou bome en die vrugte van jou grond – vlieënde insekte sal dit inneem.
43“Die •vreemdeling wat by jou is, sal bo jou uitstyg, al hoër en hoër; en jy sal daal, al laer en laer. 44Hy sal aan jou leen, maar jy sal nie aan hom leen nie. Hy sal die kop word en jy die stert.
45“Al hierdie vloeke sal oor jou kom, jou volg en jou inhaal, totdat jy uitgedelg is, omdat jy nie na die stem van die Here jou God geluister het deur sy gebooie en vaste voorskrifte wat Hy vir jou voorgeskryf het, na te kom nie. 46Hierdie vervloeking sal by jou wees as 'n herinnerings- en waarskuwingsteken en ook by jou nageslag, vir altyd. 47 Omdat jy nie die Here jou God met vreugde en 'n blye hart gedien het oor al die oorvloed nie, 48sal jy jou vyande wat die Here teen jou uitstuur, dien te midde van hongersnood en dors, en in naaktheid en volslae gebrek. En jou vyand sal 'n ysterjuk op jou nek sit, totdat hy jou uitgedelg het. 49Die Here sal teen jou 'n nasie bring, van ver, van die einde van die aarde af, wat afduik soos 'n arend, 'n nasie wie se taal jy nie verstaan nie, 50'n nasie met strak gesigte wat 'n oumens nie ontsien en vir 'n jongmens geen genade het nie. 51Daardie nasie sal die vrug van jou vee en die vrug van jou grond verslind, totdat jy uitgedelg is; ja, hy sal vir jou nie koring, •nuwe wyn en olie, kalwers of lammers laat oorbly nie, totdat hy jou vernietig het. 52Hy sal jou beleër in al jou stadspoorte, totdat jou hoë, versterkte stadsmure waarop jy vertrou, oral in jou hele land intuimel. Ja, hy sal jou beleër in al jou stadspoorte in jou hele land wat die Here jou God vir jou gegee het. 53Tydens die beleg en midde-in die angs waarmee jou vyand jou gaan teister, sal jy die vrug van die moederskoot eet, die vleis van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God vir jou gegee het. 54Die saggeaarde en besonder fynbesnaarde man by jou, sal sy eie broer, sy geliefde vrou en die res van sy kinders wat hy nog oor het, onderlangs aankyk, 55sonder om vir een van hulle iets te gee van die vleis van sy kinders wat hy eet, omdat daar vir hom niks anders oor is nie, tydens die beleg en midde-in die angs waarmee jou vyand jou gaan teister in al jou stadspoorte. 56Die saggeaarde en fynbesnaarde vrou by jou wat dit nooit eers sou waag om haar kaal voet op die grond te sit nie, omdat sy te fynbesnaard en delikaat is, sal haar geliefde man, haar seun en haar dogter onderlangs aankyk, 57ook haar nageboorte wat uit haar liggaam kom en haar kinders wat sy kry; want sy sal hulle, by gebrek aan alles, in die geheim eet tydens die beleg en midde-in die angs waarmee jou vyand jou gaan teister in jou stadspoorte.
58 “As jy nie al die woorde van hierdie wet wat in hierdie •boekrol geskryf is, nougeset nakom en sodoende ontsag toon vir hierdie eervolle en ontsagwekkende Naam, vir die Here jou God nie, 59sal die Here jou en jou nageslag met buitengewone plae tref – groot en durende plae, ernstige en durende siektes. 60Hy sal al die siektes van Egipte waarvoor jy bang is, laat terugkeer, en dit sal aan jou kleef. 61Ook elke siekte en elke plaag wat nie geskryf staan in die boekrol met hierdie wet nie, sal die Here oor jou bring totdat jy uitgedelg is.
62“In plaas daarvan dat julle so baie soos die sterre aan die hemelruim is, sal daar min van julle oorbly, omdat jy nie na die stem van die Here jou God geluister het nie. 63Soos die Here daarin vreugde gevind het om julle goed te behandel en julle te laat vermeerder, so sal Hy vreugde daarin vind om julle tot niet te maak en julle uit te delg. Julle sal weggeruk word van die grond waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, 64en die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde. Daar sal jy ander gode dien, hout en klip, wat jy of jou voorouers nie geken het nie. 65By daardie nasies sal jy nie rus vind nie. Daar sal nie 'n rusplek vir jou voetsool wees nie. Die Here sal daar vir jou 'n hart vol angs, kwynende oë en 'n lewe van wanhoop gee. 66Jou lewe sal voor jou aan 'n draadjie hang; jy sal dag en nag in vrees leef en nie jou lewe seker wees nie. 67Oor die vrees waarmee jy in jou hart leef en oor die toneel wat hom voor jou oë afspeel, sal jy in die oggend sê, ‘Ag, was dit maar aand!’ En teen die aand sal jy sê, ‘Ag, was dit maar oggend!’ 68Die Here sal jou na Egipte laat terugkeer in skepe, die pad waarvan ek vir jou gesê het, ‘Jy sal dit nooit weer sien nie.’ Daar sal julle julleself as slawe en slavinne te koop aanbied aan jou vyande, maar daar sal geen koper wees nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid