Handelinge 20:1-16

Handelinge 20:1-16 AFR20

Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die dissipels ontbied en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en op sy reis na Macedonië vertrek. Hy het deur daardie streke gereis, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, het hy in Griekeland aangekom waar hy drie maande deurgebring het. Aangesien die Jode 'n komplot teen hom gesmee het net toe hy na Sirië wou vaar, het hy besluit om deur Macedonië terug te keer. Hy is vergesel deur Sopater – die seun van Pirrus – uit Berea, deur Aristargus en Sekundus van Thessalonika, Gaius van Derbe en Timoteus, sowel as Tigikus en Trofimus van Asië. Hulle het vooruit gereis en in Troas op ons gewag. Self het ons egter eers ná die dae van die Fees van die Ongesuurde Brood vanaf Filippi gevaar, en vyf dae later by hulle in Troas aangekom, waar ons sewe dae lank gebly het. Toe ons op die eerste dag van die week byeengekom het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag wou vertrek, en sy rede uitgerek tot om middernag. Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons byeengekom het. 'n Jong man met die naam Eutigus het in die venster gesit, en terwyl Paulus lank bly praat het, is hy deur 'n diep slaap oorval. Oorweldig deur die slaap, het hy van die derde verdieping na onder geval, waar hy dood opgetel is. Paulus het ondertoe gegaan, op hom gaan lê, hom in sy arms geneem en gesê: “Moet julle nie ontstel nie, want daar is nog lewe in hom!” Hy het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Daarna het hy nog vir 'n geruime tyd, tot dagbreek toe, met hulle gepraat en toe vertrek. Hulle het die seun lewend huis toe geneem en was uitermate bemoedig. Ons het vooruit gegaan na die skip en weggevaar na Assos, waar ons beplan het om Paulus aan boord te neem, aangesien hy dit so gereël het, met die bedoeling om te voet daarheen te reis. Toe hy ons by Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene gevaar, waarvandaan ons die volgende dag weggevaar en reg oorkant Chios aangekom het. Die dag daarna het ons Samos bereik, en die daaropvolgende dag by Milete aangekom. Want Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in Asië hoef te bestee nie. Hy was gretig om, as dit kon, op die Pinksterdag in Jerusalem te wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid