Handelinge 20:1-16

Handelinge 20:1-16 DB

Na hierdie oproer het Paulus al die gelowiges in Efese bymekaar laat kom om van hulle afskeid te neem en na Masedonië vertrek.Daar het hy besoek afgelê by die gelowiges in die verskillende gemeentes. Paulus het vir hulle gesê om gehoorsaam te bly aan die Here. Daarna is hy Griekeland toe, waar hy drie maande lank die goeie nuus oor Jesus aan die mense gaan meedeel het.Sy boodskap het party van die Jode egter so ontstel dat hulle besluit het om hom dood te maak. Dit was kort voordat Paulus van plan was om per skip Sirië toe te vaar. Toe hy van hierdie komplot teen hom hoor, het hy dadelik sy reisplanne verander en deur die provinsie Masedonië gereis. ’n Paar mense het saam met hom gegaan. Daar was Sopater uit die stad Berea (die seun van Pirrus); Aristargos en Sekundus uit die stad Tessalonika; Gaius uit die stad Derbe; Tigikus en Trofimus uit die provinsie Asië, en ook Timoteus. Hulle almal het vooruit gereis en vir ons (dit is nou vir my, Lukas, en ’n paar ander metgeselle) in Troas gaan wag.Ons was op daardie tydstip nog in Filippi vir die viering van die paasfees. Na die paasfees is ons met ’n skip na Troas toe. Daar het ons sewe dae lank saam met Paulus-hulle by die gelowiges oorgebly. In Troas het ons almal op die Sondagaand bymekaargekom om saam te eet en die Here te aanbid. Ons was bymekaar in ’n groot kamer op die derde verdieping van een van die geboue in die stad. Aangesien ons die volgende dag sou vertrek, het Paulus tot lank na middernag aangehou. Daar was genoeg lampe in die vertrek sodat almal hom duidelik kon sien. ’n Jongman met die naam Eutigus het op een van die vensterbanke by ’n oop venster gesit. Later het hy vaak geword en aan die slaap geraak. Toe val hy by die venster uit. Toe die mense by hom kom, was hy reeds dood. Paulus het toe bo-oor Eutigus gekniel en sy arms om hom gesit. “Hou op om so tekere te gaan,” het hy vir die ontstelde gelowiges gesê. “Daar is nog lewe in hom.” Paulus het daarna teruggegaan na die kamer waar die gelowiges was. Eutigus ook! Almal het toe saamgeëet. Daarna het Paulus tot dagbreek oor Jesus gepraat. Eers toe die son begin opkom, is almal huis toe, Eutigus ook. Al die ander gelowiges was baie bly daaroor. Intussen het die ander van ons per skip na Assus vertrek. Ons sou Paulus daar ontmoet, soos ons afgespreek het. Hy wou graag soontoe stap. Alles het volgens plan verloop. Paulus het daar in Assus by ons aangesluit. Ons het verder met ’n skip na Mitilene gevaar.Daarvandaan het ons die volgende dag tot regoor die eiland Chios gevaar. Nog ’n dag later was ons by Samos, en ’n dag later by Milete. Paulus het besluit om nie weer in Efese te stop nie. Hy wou nie nog daar oorbly nie omdat hy graag op pinksterdag in Jerusalem wou wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid