HANDELINGE 20:1-16

HANDELINGE 20:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Die mense in die stad Efese het geskree en geraas, en toe hulle ophou, het Paulus die gelowiges laat roep en hy het hulle bemoedig. Toe het hy hulle gegroet en hy het na die provinsie Masedonië gegaan. Hy het deur die provinsie Masedonië gegaan en hy het die gelowiges baie bemoedig. Hy het verder gegaan totdat hy in Griekeland gekom het en hy het drie maande lank daar gebly. Hy het besluit om met die skip na die provinsie Sirië te seil, maar hy het gehoor dat die Jode 'n geheime plan gemaak het om hom dood te maak. Daarom het hy besluit om deur Masedonië terug te gaan na Sirië. Hierdie manne het saam met Paulus gegaan: Sopater, die seun van Pirrus van die stad Berea, en ook Aristargus en Sekundus, hulle was twee gelowiges van die stad Tessalonika, ook Gaius van die stad Derbe, en Timoteus en twee gelowiges van die provinsie Asië, hulle name was Tigikus en Trofimus. Party van hulle het eerste gegaan, en hulle het vir ons gewag in die stad Troas. Nadat die Fees van die Ongesuurde Brood verby was, het ons met die skip weggeseil van die stad Filippi. Nadat ons vyf dae geseil het, het ons in die stad Troas aangekom, die ander manne was al klaar daar. Ons het sewe dae lank daar gebly. Op die eerste dag van die week het ons in die aand bymekaargekom en ons het almal saam geëet. Paulus het met die gelowiges gepraat. Hy wou die volgende dag verder gaan en daarom het hy baie lank gepraat, hy het gepraat tot in die middel van die nag. Ons was almal bymekaar in die bo-kamer, en daar het baie lampe in die kamer gebrand. Eutiges, 'n jongman, het in die venster gesit en luister. Toe Paulus baie lank aanhou praat, het Eutiges baie vaak geword en hy het aan die slaap geraak. Eutiges het so vas geslaap dat hy uitgeval het by die venster. Hy het van die tweede verdieping tot op die grond geval. Toe die mense hom optel, was hy dood. Paulus het afgekom na onder en hy het op Eutiges gaan lê. Hy het sy arms om Eutiges gesit en gesê: “Julle moenie so hard huil en treur nie! Hy is nie dood nie, hy lewe.” Toe het Paulus weer boontoe gegaan. Nadat hy geëet het, het hy nog 'n lang tyd met die gelowiges gepraat, hy het gepraat tot dit oggend geword het. Toe het hy verder gegaan. Die gelowiges het die seun weggeneem, hy het gelewe. Dit wat gebeur het, het die gelowiges baie bemoedig. Ons het voor Paulus met die skip na die stad Assus geseil. Ons wou vir Paulus by Assus oplaai. Paulus het gesê ons moet dit doen, want hy wou self oor die land na Assus gaan. Toe Paulus ons in Assus ontmoet, het ons hom opgelaai en na die stad Mitilene geseil. Ons het van Mitilene verder geseil en die volgende dag was ons oorkant die eiland Chios. Die volgende dag het ons verby die eiland Samos gegaan en die dag daarna het ons by die stad Milete aangekom. Ons het nie met die skip by die stad Efese gestop nie, want Paulus het besluit dat ons verby die stad Efese moet gaan, hy wou nie in die provinsie Asië bly nie, want dan sou dit te lank wees voordat ons in Jerusalem kom. Hy was haastig om in Jerusalem te kom. Hy wou graag op die dag van die Pinksterfees in Jerusalem wees.

HANDELINGE 20:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis. En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom. En daar het hy drie maande gebly; maar toe die Jode teen hom saamgespan het, terwyl hy juis na Sírië sou afvaar, het hy besluit om deur Macedónië terug te gaan. En tot in Asië het Sópater van Beréa hom vergesel, en van die Thessalonicense, Aristárchus en Secúndus, en Gajus van Derbe en Timótheüs, en uit Asië Tíchikus en Trófimus. Hulle het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag. Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom, waar ons sewe dae deurgebring het. En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe. En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het. En 'n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in 'n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel. Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom. En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog 'n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek. En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos. Maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assus, waar ons van plan was om Paulus aan boord te neem; want so het hy dit bestel, omdat hy self te voet wou gaan. Toe hy ons dan in Assus ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitiléne gekom. En daarvandaan het ons weggevaar en die volgende dag teenoor Chios gekom, en die ander dag na Samos oorgevaar en in Trogíllion oorgebly en die dag daarop by Miléte gekom. Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees.

HANDELINGE 20:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek. Op sy reis deur daardie gebiede het hy die gelowiges telkens met sy prediking bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan, waar hy drie maande gebly het. Toe hy op vertrek gestaan het Sirië toe, het hy van 'n Joodse komplot teen hom te hore gekom en besluit om deur Masedonië terug te gaan. Pirrus se seun Sopater van Berea het saam met Paulus gereis, en ook Aristargos en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, en Timoteus, asook Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië. Hulle het vooruitgegaan en in Troas vir ons gewag. Na die fees van die ongesuurde brood het ons van Filippi af met 'n skip vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons sewe dae gebly. Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou. Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons bymekaar was. 'n Jongman met die naam Eutigus het op die vensterbank gesit. Hoe langer Paulus gepraat het, hoe vaker het Eutigus geword. Hy het naderhand vas aan die slaap geraak en uit die derde verdieping tot op die grond geval. Toe hulle hom optel, was hy dood. Paulus het ondertoe gegaan, hom oor Eutigus uitgestrek en hom teen hom vasgedruk en gesê: “Moet julle nie ontstel nie. Hy lewe!” Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog lank met hulle gepraat, tot dagbreek, en daarna vertrek. Die mense het toe die seun lewend weggebring huis toe. Hulle was buitengewoon bemoedig deur alles. Ons het vooruit per skip na Assus toe vertrek, waar ons vir Paulus aan boord sou neem. Dit was sy opdrag, omdat hy self oor land daarheen wou gaan. Toe hy ons in Assus kry, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene toe gevaar. Daarvandaan het ons die volgende dag verder gevaar en tot regoor Chios gekom. Die dag daarna het ons Samos bereik en nog 'n dag later Milete. Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in die provinsie Asië sou verloor nie, want hy was haastig om, as dit kon, op pinksterdag in Jerusalem te wees.

HANDELINGE 20:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die dissipels ontbied en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en op sy reis na Macedonië vertrek. Hy het deur daardie streke gereis, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, het hy in Griekeland aangekom waar hy drie maande deurgebring het. Aangesien die Jode 'n komplot teen hom gesmee het net toe hy na Sirië wou vaar, het hy besluit om deur Macedonië terug te keer. Hy is vergesel deur Sopater – die seun van Pirrus – uit Berea, deur Aristargus en Sekundus van Thessalonika, Gaius van Derbe en Timoteus, sowel as Tigikus en Trofimus van Asië. Hulle het vooruit gereis en in Troas op ons gewag. Self het ons egter eers ná die dae van die Fees van die Ongesuurde Brood vanaf Filippi gevaar, en vyf dae later by hulle in Troas aangekom, waar ons sewe dae lank gebly het. Toe ons op die eerste dag van die week byeengekom het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag wou vertrek, en sy rede uitgerek tot om middernag. Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons byeengekom het. 'n Jong man met die naam Eutigus het in die venster gesit, en terwyl Paulus lank bly praat het, is hy deur 'n diep slaap oorval. Oorweldig deur die slaap, het hy van die derde verdieping na onder geval, waar hy dood opgetel is. Paulus het ondertoe gegaan, op hom gaan lê, hom in sy arms geneem en gesê: “Moet julle nie ontstel nie, want daar is nog lewe in hom!” Hy het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Daarna het hy nog vir 'n geruime tyd, tot dagbreek toe, met hulle gepraat en toe vertrek. Hulle het die seun lewend huis toe geneem en was uitermate bemoedig. Ons het vooruit gegaan na die skip en weggevaar na Assos, waar ons beplan het om Paulus aan boord te neem, aangesien hy dit so gereël het, met die bedoeling om te voet daarheen te reis. Toe hy ons by Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene gevaar, waarvandaan ons die volgende dag weggevaar en reg oorkant Chios aangekom het. Die dag daarna het ons Samos bereik, en die daaropvolgende dag by Milete aangekom. Want Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in Asië hoef te bestee nie. Hy was gretig om, as dit kon, op die Pinksterdag in Jerusalem te wees.

HANDELINGE 20:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat die oproer opgehou was, het Paulus die dissipels na hom geroep en hulle omhels en vertrek om na Macedónië te gaan. En nadat hy deur daardie dele gegaan en hulle baie vermaan het, het hy in Griekeland gekom, En daar het drie maande gebly. En toe die Jode op hom wag, terwyl hy op die punt was om na Sirië te vaar, het hy voorgeneem om deur Masedonië terug te keer. En Sopater van Berea het hom daar na Asië vergesel; en van die Tessalonisense, Aristarchos en Secundus; en Gajus van Derbe en Timótheüs; en van Asië, Tigikus en Trofimus. Hulle wat voorgegaan het, het vir ons in Troas gebly. En ons het ná die dae van die ongesuurde brode van Filippi af weggevaar en in vyf dae by hulle in Troas gekom; waar ons sewe dae gebly het. En op die eerste dag van die week, toe die dissipels bymekaargekom het om brood te breek, het Paulus vir hulle gepreek, gereed om die volgende dag te vertrek; en het sy toespraak tot middernag voortgesit. En daar was baie ligte in die bovertrek waar hulle bymekaar was. En 'n sekere jongman met die naam van Eutigus het in 'n venster gesit, terwyl hy in 'n diepe slaap verval het; en terwyl Paulus lank besig was om te preek, het hy in die slaap weggesak en van die derde hok neergeval en is dood opgeneem. En Paulus het afgegaan en op hom geval en hom omhels en gesê: Moenie moeilikheid maak nie; want sy lewe is in hom. Toe hy dan weer opkom en brood gebreek en geëet het en 'n lang tyd gepraat het, tot dagbreek toe, het hy weggegaan. En hulle het die jongman lewendig gebring en was nie 'n bietjie vertroos nie. En ons het vooraf gegaan om te skeep en na Assos gevaar, met die bedoeling om Paulus daar in te neem; En toe hy ons in Assos ontmoet het, het ons hom ingeneem en by Mitylene gekom. En ons het daarvandaan uitgeseil en die volgende dag teenoor Chios aangekom; en die volgende dag het ons by Samos aangekom en by Trogyllium vertoef; en die volgende dag het ons by Milete gekom. Want Paulus het besluit om deur Efese te vaar, omdat hy nie die tyd in Asië wou deurbring nie, want hy het hom gehaas, as dit vir hom moontlik was, om op Pinksterdag in Jerusalem te wees.

HANDELINGE 20:1-16 Die Boodskap (DB)

Na hierdie oproer het Paulus al die gelowiges in Efese bymekaar laat kom om van hulle afskeid te neem en na Masedonië vertrek.Daar het hy besoek afgelê by die gelowiges in die verskillende gemeentes. Paulus het vir hulle gesê om gehoorsaam te bly aan die Here. Daarna is hy Griekeland toe, waar hy drie maande lank die goeie nuus oor Jesus aan die mense gaan meedeel het.Sy boodskap het party van die Jode egter so ontstel dat hulle besluit het om hom dood te maak. Dit was kort voordat Paulus van plan was om per skip Sirië toe te vaar. Toe hy van hierdie komplot teen hom hoor, het hy dadelik sy reisplanne verander en deur die provinsie Masedonië gereis. ’n Paar mense het saam met hom gegaan. Daar was Sopater uit die stad Berea (die seun van Pirrus); Aristargos en Sekundus uit die stad Tessalonika; Gaius uit die stad Derbe; Tigikus en Trofimus uit die provinsie Asië, en ook Timoteus. Hulle almal het vooruit gereis en vir ons (dit is nou vir my, Lukas, en ’n paar ander metgeselle) in Troas gaan wag.Ons was op daardie tydstip nog in Filippi vir die viering van die paasfees. Na die paasfees is ons met ’n skip na Troas toe. Daar het ons sewe dae lank saam met Paulus-hulle by die gelowiges oorgebly. In Troas het ons almal op die Sondagaand bymekaargekom om saam te eet en die Here te aanbid. Ons was bymekaar in ’n groot kamer op die derde verdieping van een van die geboue in die stad. Aangesien ons die volgende dag sou vertrek, het Paulus tot lank na middernag aangehou. Daar was genoeg lampe in die vertrek sodat almal hom duidelik kon sien. ’n Jongman met die naam Eutigus het op een van die vensterbanke by ’n oop venster gesit. Later het hy vaak geword en aan die slaap geraak. Toe val hy by die venster uit. Toe die mense by hom kom, was hy reeds dood. Paulus het toe bo-oor Eutigus gekniel en sy arms om hom gesit. “Hou op om so tekere te gaan,” het hy vir die ontstelde gelowiges gesê. “Daar is nog lewe in hom.” Paulus het daarna teruggegaan na die kamer waar die gelowiges was. Eutigus ook! Almal het toe saamgeëet. Daarna het Paulus tot dagbreek oor Jesus gepraat. Eers toe die son begin opkom, is almal huis toe, Eutigus ook. Al die ander gelowiges was baie bly daaroor. Intussen het die ander van ons per skip na Assus vertrek. Ons sou Paulus daar ontmoet, soos ons afgespreek het. Hy wou graag soontoe stap. Alles het volgens plan verloop. Paulus het daar in Assus by ons aangesluit. Ons het verder met ’n skip na Mitilene gevaar.Daarvandaan het ons die volgende dag tot regoor die eiland Chios gevaar. Nog ’n dag later was ons by Samos, en ’n dag later by Milete. Paulus het besluit om nie weer in Efese te stop nie. Hy wou nie nog daar oorbly nie omdat hy graag op pinksterdag in Jerusalem wou wees.

HANDELINGE 20:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Met die betoging verby, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek. Op sy reis daarheen het hy die gelowiges met baie preke bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan waar hy drie maande deurgebring het. Toe hy op die punt gestaan het om Sirië toe te vaar, het ’n komplot teen hom aan die lig gekom. Hy het toe besluit om landlangs deur Masedonië na Sirië toe terug te gaan. Heelwat mans het saam met Paulus gereis. Hulle was Pirrus se seun Sopater van Berea, Aristargus en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, Timoteus, en Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië. Hulle het vooruit gegaan en in Troas vir ons gewag. Na die Pasga het ons per skip van Filippi af vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons ’n week gebly. Ons het die Sondag bymekaargekom vir die maaltyd van die Here. Paulus het ’n bespreking met hulle gehou, en omdat hy die volgende dag wou vertrek, het hy tot middernag aanhou praat. Daar was taamlik baie lampe in die bovertrek waar ons vergader het. Terwyl Paulus aanhou en aanhou met die bespreking, het ’n jong man met die naam Eutigus, wat op die vensterbank gesit het, in ’n diep slaap begin wegsink. Vas aan die slaap het hy uit die derde verdieping tot onder geval. Hulle het hom as ’n lyk opgetel. Paulus het ondertoe gegaan, op Eutigus gaan lê, sy arms om hom gesit en gesê: “Moenie julle ontstel nie. Hy lewe!” Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog ’n hele ruk met hulle gepraat, tot dagbreek toe, en toe vertrek. Die mense het die seun lewend huis toe gevat. Dit was vir hulle ’n buitengewoon bemoedigende ervaring. Paulus is landlangs Assus toe, maar ons is vooruit na die skip toe en het na Assus gevaar, waar Paulus afgespreek het dat hy aan boord sou gaan. Hy het ons daar gekry; ons het hom aan boord geneem en Mitilene toe gevaar. Die volgende dag het ons by Chios verbygevaar. Die dag daarna het ons by Samos aangedoen, en nog ’n dag later het ons Milete bereik. Paulus het reeds voorheen besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie nog langer in die provinsie Asië tyd hoef deur te bring nie. Hy was haastig om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid