HANDELINGE 20:1-16

HANDELINGE 20:1-16 AFR53

EN nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis. En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom. En daar het hy drie maande gebly; maar toe die Jode teen hom saamgespan het, terwyl hy juis na Sírië sou afvaar, het hy besluit om deur Macedónië terug te gaan. En tot in Asië het Sópater van Beréa hom vergesel, en van die Thessalonicense, Aristárchus en Secúndus, en Gajus van Derbe en Timótheüs, en uit Asië Tíchikus en Trófimus. Hulle het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag. Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom, waar ons sewe dae deurgebring het. En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe. En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het. En 'n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in 'n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel. Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom. En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog 'n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek. En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos. Maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assus, waar ons van plan was om Paulus aan boord te neem; want so het hy dit bestel, omdat hy self te voet wou gaan. Toe hy ons dan in Assus ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitiléne gekom. En daarvandaan het ons weggevaar en die volgende dag teenoor Chios gekom, en die ander dag na Samos oorgevaar en in Trogíllion oorgebly en die dag daarop by Miléte gekom. Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees.

Video for HANDELINGE 20:1-16