Handelinge 20:1-16

Handelinge 20:1-16 ABA

Die mense in die stad Efese het geskree en geraas, en toe hulle ophou, het Paulus die gelowiges laat roep en hy het hulle bemoedig. Toe het hy hulle gegroet en hy het na die provinsie Masedonië gegaan. Hy het deur die provinsie Masedonië gegaan en hy het die gelowiges baie bemoedig. Hy het verder gegaan totdat hy in Griekeland gekom het en hy het drie maande lank daar gebly. Hy het besluit om met die skip na die provinsie Sirië te seil, maar hy het gehoor dat die Jode 'n geheime plan gemaak het om hom dood te maak. Daarom het hy besluit om deur Masedonië terug te gaan na Sirië. Hierdie manne het saam met Paulus gegaan: Sopater, die seun van Pirrus van die stad Berea, en ook Aristargus en Sekundus, hulle was twee gelowiges van die stad Tessalonika, ook Gaius van die stad Derbe, en Timoteus en twee gelowiges van die provinsie Asië, hulle name was Tigikus en Trofimus. Party van hulle het eerste gegaan, en hulle het vir ons gewag in die stad Troas. Nadat die Fees van die Ongesuurde Brood verby was, het ons met die skip weggeseil van die stad Filippi. Nadat ons vyf dae geseil het, het ons in die stad Troas aangekom, die ander manne was al klaar daar. Ons het sewe dae lank daar gebly. Op die eerste dag van die week het ons in die aand bymekaargekom en ons het almal saam geëet. Paulus het met die gelowiges gepraat. Hy wou die volgende dag verder gaan en daarom het hy baie lank gepraat, hy het gepraat tot in die middel van die nag. Ons was almal bymekaar in die bo-kamer, en daar het baie lampe in die kamer gebrand. Eutiges, 'n jongman, het in die venster gesit en luister. Toe Paulus baie lank aanhou praat, het Eutiges baie vaak geword en hy het aan die slaap geraak. Eutiges het so vas geslaap dat hy uitgeval het by die venster. Hy het van die tweede verdieping tot op die grond geval. Toe die mense hom optel, was hy dood. Paulus het afgekom na onder en hy het op Eutiges gaan lê. Hy het sy arms om Eutiges gesit en gesê: “Julle moenie so hard huil en treur nie! Hy is nie dood nie, hy lewe.” Toe het Paulus weer boontoe gegaan. Nadat hy geëet het, het hy nog 'n lang tyd met die gelowiges gepraat, hy het gepraat tot dit oggend geword het. Toe het hy verder gegaan. Die gelowiges het die seun weggeneem, hy het gelewe. Dit wat gebeur het, het die gelowiges baie bemoedig. Ons het voor Paulus met die skip na die stad Assus geseil. Ons wou vir Paulus by Assus oplaai. Paulus het gesê ons moet dit doen, want hy wou self oor die land na Assus gaan. Toe Paulus ons in Assus ontmoet, het ons hom opgelaai en na die stad Mitilene geseil. Ons het van Mitilene verder geseil en die volgende dag was ons oorkant die eiland Chios. Die volgende dag het ons verby die eiland Samos gegaan en die dag daarna het ons by die stad Milete aangekom. Ons het nie met die skip by die stad Efese gestop nie, want Paulus het besluit dat ons verby die stad Efese moet gaan, hy wou nie in die provinsie Asië bly nie, want dan sou dit te lank wees voordat ons in Jerusalem kom. Hy was haastig om in Jerusalem te kom. Hy wou graag op die dag van die Pinksterfees in Jerusalem wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid