Handelinge 20

20
Paulus in Griekeland
1Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die dissipels ontbied en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en op sy reis na Macedonië vertrek. 2Hy het deur daardie streke gereis, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, het hy in Griekeland aangekom 3waar hy drie maande deurgebring het. Aangesien die Jode 'n komplot teen hom gesmee het net toe hy na Sirië wou vaar, het hy besluit om deur Macedonië terug te keer. 4Hy is vergesel deur Sopater – die seun van Pirrus – uit Berea, deur Aristargus en Sekundus van Thessalonika, Gaius van Derbe en Timoteus, sowel as Tigikus en Trofimus van Asië. 5Hulle het vooruit gereis en in Troas op ons gewag. 6Self het ons egter eers ná die dae van die Fees van die Ongesuurde Brood vanaf Filippi gevaar, en vyf dae later by hulle in Troas aangekom, waar ons sewe dae lank gebly het.
Paulus in Troas
7Toe ons op die eerste dag van die week byeengekom het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag wou vertrek, en sy rede uitgerek tot om middernag. 8Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons byeengekom het. 9'n Jong man met die naam Eutigus het in die venster gesit, en terwyl Paulus lank bly praat het, is hy deur 'n diep slaap oorval. Oorweldig deur die slaap, het hy van die derde verdieping na onder geval, waar hy dood opgetel is. 10 Paulus het ondertoe gegaan, op hom gaan lê, hom in sy arms geneem en gesê: “Moet julle nie ontstel nie, want daar is nog lewe in hom!” 11Hy het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Daarna het hy nog vir 'n geruime tyd, tot dagbreek toe, met hulle gepraat en toe vertrek. 12Hulle het die seun lewend huis toe geneem en was uitermate bemoedig.
Reis na Milete
13Ons het vooruit gegaan na die skip en weggevaar na Assos, waar ons beplan het om Paulus aan boord te neem, aangesien hy dit so gereël het, met die bedoeling om te voet daarheen te reis. 14Toe hy ons by Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene gevaar, 15waarvandaan ons die volgende dag weggevaar en reg oorkant Chios aangekom het. Die dag daarna het ons Samos bereik, en die daaropvolgende dag by Milete aangekom. 16Want Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in Asië hoef te bestee nie. Hy was gretig om, as dit kon, op die Pinksterdag in Jerusalem te wees.
Paulus se afskeidsboodskap
17 Uit Milete het Paulus 'n boodskap na Efese gestuur en die ouderlinge van die •gemeente ontbied. 18Toe hulle by hom aankom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet dat ek vanaf die eerste dag toe ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle was 19en hoe ek die Here gedien het, in alle nederigheid en met trane, en deur die beproewinge wat oor my gekom het as gevolg van die sameswerings van die Jode. 20Julle weet ook hoe ek nie nagelaat het om enigiets van dit wat vir julle voordelig is, aan julle te verkondig, en aan julle in die openbaar en in julle huise te onderrig nie, 21terwyl ek teenoor Jode sowel as Grieke kragtig getuig het van bekering tot God en geloof in ons Here Jesus. 22En kyk, nou gaan ek, gebind deur die Gees, na Jerusalem, sonder om te weet wat daar met my gaan gebeur – 23 behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan my bevestig het dat gevangenskap en swaarkry op my wag. 24 Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.
25“En kyk, ek weet nou dat nie een van julle onder wie ek rondbeweeg en aan wie ek die koninkryk verkondig het, my weer sal sien nie. 26Daarom verklaar ek op hierdie dag van vandag aan julle dat ek onskuldig is aan julle almal se bloed; 27want ek het nie daarvan teruggedeins om die volle heilsplan van God aan julle te verkondig nie. 28Pas julleself op, en ook die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om die gemeente van God, wat Hy deur sy eie bloed verwerf het, herderlik te versorg. 29 Ek weet dat wrede wolwe ná my vertrek julle geledere sal binnedring en die kudde nie sal spaar nie. 30Selfs uit julle eie geledere sal daar manne na vore kom wat verdraaide dinge verkondig om die dissipels agter hulle aan weg te lok. 31 Wees daarom waaksaam, en onthou dat ek vir drie jaar lank, dag en nag, nie opgehou het om 'n ieder en 'n elk van julle met trane te waarsku nie . 32En nou vertrou ek julle toe aan God en sy woord van genade, Hy wat die mag het om op te bou en aan julle onder almal wat geheilig is, 'n erfenis te gee. 33 Silwer of goud of klere het ek van niemand begeer nie. 34 Julle weet self dat ek met hierdie hande van my in my eie behoeftes voorsien het, en ook in dié van hulle saam met my. 35In alles het ek vir julle gewys dat 'n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het, ‘Dit maak 'n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.’ ”
36 Nadat hy dit gesê het, het hy saam met almal gekniel en gebid. 37Almal het baie gehuil, en Paulus omhels en hom gesoen. 38Hulle was veral bedroef oor die feit dat hy gesê het hulle sal hom nie weer sien nie. Toe het hulle hom na die skip vergesel.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid