2 Kronieke 34:1-18

2 Kronieke 34:1-18 AFR20

Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een-en-dertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die HERE. Hy het die paaie van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie. In die agtste jaar van sy regering, toe hy nog jonk was, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te raadpleeg. In die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die offerhoogtes, die asjeras en die gesnede en gegote beelde. Hulle het onder sy toesig die altare van die Baäls afgebreek en ook die wierookaltare daarop afgekap. Hy het die asjeras en die gesnede en gegote beelde stukkend gebreek, dit fyngestamp en oor die grafte gestrooi van dié wat vir hulle offers geslag het. En die beendere van die priesters, dié het hy op hulle altare verbrand. So het hy Juda en Jerusalem gereinig. In al die dorpe van Manasse, Efraim en Simeon, en tot by Naftali, het hy oral hulle huise deursoek. Hy het die altare en die asjeras afgebreek, en die afgodsbeelde het hy verbrysel deur dit fyn te stamp. Die wierookaltare het hy in die hele gebied van Israel fyngekap. Toe het hy teruggekeer na Jerusalem. In die agttiende jaar van sy regering het hy, terwyl hy besig was om die land en die •tempel te reinig, vir Safan, seun van Asalja, vir Maäseja, die stadsbestuurder, en vir Joag, seun van Joahas, die herout, gestuur om die huis van die HERE sy God te herstel. Hulle het by Gilkija, die hoëpriester, gekom en die geld afgegee wat in die huis van God ingebring is – die geld wat die Leviete, die deurwagters, ingesamel het by Manasse en Efraim, by die hele res van Israel, die hele Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem. Hulle het dit oorhandig aan die voormanne wat aangestel was by die huis van die HERE. Hulle het dit dan gegee vir die werksmense wat in die huis van die HERE besig was om die gebou op te knap en te herstel. Hulle het dit vir die skrynwerkers en bouers gegee om gekapte klip en hout mee te koop vir die balkpenne, en om die vertrekke wat die konings van Juda verniel het, van balke te voorsien. Die manne was betroubaar in die uitvoering van hulle taak. Oor hulle is Jagat en Obadja, Leviete uit die nageslag van Merari, en Sagaria en Mesullam, uit die nageslag van Kehat, aangestel om toesig te hou. Die Leviete, elkeen 'n kundige met musiekinstrumente, het ook beheer gehad oor die draers, en was toesighouers oor elke werker in elke soort werk. Sommige van die Leviete was sekretarisse, opsieners en hekwagte. Terwyl hulle besig was om die geld na buite te neem wat in die huis van die HERE byeengebring is, het die priester Gilkija afgekom op 'n •boekrol met die Wet van die HERE by monde van Moses. Gilkija opper toe die saak, en sê vir Safan, die sekretaris: “Ek het sowaar op 'n boekrol van die wet in die huis van die HERE afgekom.” Daarop het Gilkija die boekrol vir Safan gegee. Safan het die boekrol na die koning geneem. Hy het weereens aan die koning verslag gedoen: “Alles wat in die hande van u dienaars gelaat is, is hulle besig om uit te voer. Hulle het die geld wat in die huis van die HERE gevind is, uitgeskud en dit oorhandig aan hulle wat aangestel is, en aan die werksmense.” Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: “Gilkija, die priester, het 'n boekrol vir my gegee.” Safan lees toe daaruit vir die koning voor.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Kronieke 34:1-18

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid