2 Kronieke 34

34
Josia koning van Juda
1Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een-en-dertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. 2Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het die paaie van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie.
3 In die agtste jaar van sy regering, toe hy nog jonk was, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te raadpleeg. In die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die offerhoogtes, die asjeras en die gesnede en gegote beelde. 4Hulle het onder sy toesig die altare van die Baäls afgebreek en ook die wierookaltare daarop afgekap. Hy het die asjeras en die gesnede en gegote beelde stukkend gebreek, dit fyngestamp en oor die grafte gestrooi van dié wat vir hulle offers geslag het. 5 En die beendere van die priesters, dié het hy op hulle altare verbrand. So het hy Juda en Jerusalem gereinig.
6In al die dorpe van Manasse, Efraim en Simeon, en tot by Naftali, het hy oral hulle huise deursoek. 7Hy het die altare en die asjeras afgebreek, en die afgodsbeelde het hy verbrysel deur dit fyn te stamp. Die wierookaltare het hy in die hele gebied van Israel fyngekap. Toe het hy teruggekeer na Jerusalem.
Opknapping van die tempel
8In die agttiende jaar van sy regering het hy, terwyl hy besig was om die land en die •tempel te reinig, vir Safan, seun van Asalja, vir Maäseja, die stadsbestuurder, en vir Joag, seun van Joahas, die herout, gestuur om die huis van die Here sy God te herstel. 9Hulle het by Gilkija, die hoëpriester, gekom en die geld afgegee wat in die huis van God ingebring is – die geld wat die Leviete, die deurwagters, ingesamel het by Manasse en Efraim, by die hele res van Israel, die hele Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem. 10Hulle het dit oorhandig aan die voormanne wat aangestel was by die huis van die Here. Hulle het dit dan gegee vir die werksmense wat in die huis van die Here besig was om die gebou op te knap en te herstel. 11Hulle het dit vir die skrynwerkers en bouers gegee om gekapte klip en hout mee te koop vir die balkpenne, en om die vertrekke wat die konings van Juda verniel het, van balke te voorsien.
12Die manne was betroubaar in die uitvoering van hulle taak. Oor hulle is Jagat en Obadja, Leviete uit die nageslag van Merari, en Sagaria en Mesullam, uit die nageslag van Kehat, aangestel om toesig te hou. Die Leviete, elkeen 'n kundige met musiekinstrumente, 13het ook beheer gehad oor die draers, en was toesighouers oor elke werker in elke soort werk. Sommige van die Leviete was sekretarisse, opsieners en hekwagte.
Ontdekking van die boekrol met die wet
14Terwyl hulle besig was om die geld na buite te neem wat in die huis van die Here byeengebring is, het die priester Gilkija afgekom op 'n •boekrol met die Wet van die Here by monde van Moses. 15Gilkija opper toe die saak, en sê vir Safan, die sekretaris: “Ek het sowaar op 'n boekrol van die wet in die huis van die Here afgekom.” Daarop het Gilkija die boekrol vir Safan gegee. 16Safan het die boekrol na die koning geneem. Hy het weereens aan die koning verslag gedoen: “Alles wat in die hande van u dienaars gelaat is, is hulle besig om uit te voer. 17Hulle het die geld wat in die huis van die Here gevind is, uitgeskud en dit oorhandig aan hulle wat aangestel is, en aan die werksmense.” 18Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: “Gilkija, die priester, het 'n boekrol vir my gegee.” Safan lees toe daaruit vir die koning voor.
19Toe die koning die woorde van die wet hoor, het hy sy klere geskeur. 20Die koning het Gilkija en ook Agikam, seun van Safan, Abdon, seun van Miga, Safan, die sekretaris, en Asaja, die koning se dienaar, die volgende opdrag gegee: 21“Gaan raadpleeg die Here namens my en dié wat in Israel en Juda oorgebly het, oor die woorde van die boekrol wat gevind is, want die Here se woede wat oor ons uitgestort is, is groot, omdat ons voorouers die woord van die Here nie nagekom het, deur nie ooreenkomstig alles wat in hierdie boekrol geskryf is, op te tree nie.”
22Gilkija en dié vir wie die koning opdrag gegee het, gaan toe na Gulda die profetes, die vrou van Sallum, seun van Tokhat, seun van Gasra, die toesighouer oor die priesterklere. Sy het in Jerusalem, in die nuwe stadsdeel, gebly. Toe hulle volgens hulle opdrag met haar gepraat het, 23sê sy vir hulle: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het, 24so sê die Here: Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek en sy inwoners – al die vervloekings wat geskryf staan in hierdie boekrol waaruit hulle vir die koning van Juda voorgelees het. 25Omdat hulle My verlaat en vir ander gode offers verbrand het, sodat hulle My uitgetart het met al hulle handewerk, sal my woede oor hierdie plek uitgestort word, en dit sal nie geblus word nie.’ 26En vir die koning van Juda wat julle gestuur het om die Here te raadpleeg, vir hom moet julle so sê, ‘So sê die Here, die God van Israel: Wat die woorde betref wat jy gehoor het – 27omdat jou hart sag is, en jy jouself voor God verootmoedig het toe jy sy woorde oor hierdie plek en sy inwoners gehoor het, ja, omdat jy jouself voor My verootmoedig, jou klere geskeur en voor my gehuil het, sal Ek ook luister,’ is die uitspraak van die Here. 28‘Kyk, Ek gaan jou met jou voorouers verenig; jy sal in vrede in jou graf met hulle verenig word, en jou oë sal nie al die onheil sien wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners gaan bring nie.’ ”
Hulle het toe aan die koning verslag gedoen.
Hernuwing van die verbond
29Die koning het toe al die oudstes van Juda en Jerusalem byeen laat roep. 30Die koning het toe opgegaan na die huis van die Here, en so ook al die manne van Juda, die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete en die hele volk, van groot tot klein. Ten aanhore van hulle almal het hy al die woorde van die •boekrol met die verbond wat in die huis van die Here gevind is, voorgelees. 31Die koning het op sy staanplek gaan staan en voor die Here die verbond gesluit. Hy het onderneem om die Here te volg, om sy gebooie, sy bepalings en sy vaste voorskrifte met sy hele hart en sy hele wese na te kom deur die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boekrol geskryf is, uit te voer. 32Hy het almal wat hulle in Jerusalem en Benjamin bevind het, laat toetree tot die verbond. Die inwoners van Jerusalem het in ooreenstemming met die verbond van God, die God van hulle voorouers, opgetree. 33Josia het al die afstootlike dinge verwyder uit al die gebiede wat aan die Israeliete behoort het. Hy het almal wat hulle in Israel bevind het, daartoe oorgehaal om die Here hulle God te dien. Solank hy geleef het, het hulle nie van die Here, die God van hulle voorouers, afgewyk nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid