2 KRONIEKE 34:1-18

2 KRONIEKE 34:1-18 AFR83

Josia was ag toe hy koning geword het en het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie. In die agste jaar van sy regering, toe hy nog 'n jong man was, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te dien, en in die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te suiwer van hoogtes, gewyde pale, gesnede en gegote beelde. Hy het persoonlik toegesien dat die altare van die Baäls verwoes word en het die wierookaltare wat bokant die Baälsaltare gestaan het, laat stukkend slaan. Die gewyde pale en die gesnede en gegote beelde het hy stukkend gebreek, fyngemaal en oor die grafte van dié wat vir hulle offerandes gebring het, gestrooi. Die bene van die afgodspriesters het hy op hulle eie altare laat verbrand. So het hy Juda en Jerusalem skoongemaak, en ook die stede van Manasse, Efraim en Simeon, tot by Naftali, en ook die ruïnes van die omgewing. Hy het dwarsoor die gebied van Israel altare afgebreek, gewyde pale en beelde in stukkies gekap en al die wierookaltare stukkend gebreek. Daarna is hy terug Jerusalem toe. In die agtiende jaar van sy regering, toe hy nog besig was om die land en die tempel skoon te maak, het Josia vir Safan seun van Asalja, die stadsbevelvoerder Maäseja en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Joahas gestuur om die huis van die Here sy God te herstel. Hulle het die geld wat deur die Levitiese drumpelwagte vir die tempel ingesamel is in Manasse en Efraim en oral in Israel, Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem, aan die hoëpriester Gilkija gaan oorhandig. Die geld is toe gegee aan die mense wat vir die werk aan die tempel moes sorg en dié het dit gebruik vir die heropbou en herstel van die gebou. Hulle het die geld vir die vakmanne en bouwerkers gegee om gekapte klip en balke te koop en die vertrekke wat onder die konings van Juda in verval geraak het, weer op te bou. Die manne het die werk met groot sorg uitgevoer. Die opsigters oor hulle was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. Die Leviete was mense wat almal bedrewe was in die speel van musiekinstrumente, maar hulle het ook toesig gehou oor die draers en het leiding gegee aan elkeen wat 'n taak moes uitvoer, in watter soort werk ook al. Ook die administratiewe amptenare, die regsbeamptes en die poortwagte was Leviete. Terwyl hulle die geld wat vir die huis van die Here ingebring is, uitgehaal het, het die priester Gilkija die boek gekry met die wet van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is. Gilkija het toe vir die staatsekretaris Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.” Hy het die wetboek aan Safan oorhandig, en Safan het dit na die koning toe geneem en ook aan die koning verslag gedoen: “Alles wat aan u amptenare opgedra is, is gedoen; die geld wat in die tempel beskikbaar was, is uitgetel en oorhandig aan die opsigters en aan die mense wat die werk moet uitvoer.” Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 KRONIEKE 34:1-18

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid