2 KRONIEKE 34:1-18

2 KRONIEKE 34:1-18 Die Boodskap (DB)

Josia was net agt jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 31 jaar lank in Jerusalem regeer. Josia se optrede het die Here baie tevrede gestel. Hy het soos sy voorvader Dawid regeer, sy hele lewe lank. In Josia se agtste regeringsjaar, toe hy nog maar jonk was, het hy begin doen wat die God van sy voorvader Dawid graag wou hê. Toe hy twaalf jaar lank koning was, het hy Juda en Jerusalem begin skoonmaak van die heidene se heilige plekke, die Asjerapale en die hout- en metaalbeelde wat ter ere van ander gode opgerig is. Hy het seker gemaak dat die altare vir die Baäls afgebreek word en dat die wierookaltare wat bo-op hierdie altare was, stukkend gebreek word. Hy het die pale ter ere van die afgod Asjera en die hout- en metaalbeelde gebreek, tot poeier fyngemaak en dit oor die priesters, wat daar geoffer het, se grafte gegooi. Hy het hulle beendere uit die grafte gehaal en op die altare verbrand. Op hierdie manier het Josia Juda en Jerusalem heeltemal skoongemaak van al die afgode. Josia het dieselfde gedoen in die dorpe Manasse, Efraim en Simeon, tot so ver as Naftali. Op die plekke waar afgode gedien is, het hy die altare en die Asjerapale verwoes, die houtbeelde fyngekap en die wierookaltare in stukke gebreek. Hy het dit in die hele gebied van Israel gedoen. Daarna het hy teruggegaan Jerusalem toe. In Josia se agtiende regeringsjaar, terwyl hy besig was om die land en die tempel skoon te maak van al wat ’n afgodsbeeld is, het hy vir Safan, Asalja se seun, Maäseja, die stadsbevelvoerder, en Joag, Joahas se seun en die staatsekretaris, na die tempel van die Here sy God gestuur om dit reg te maak. Hulle het die geld wat die mense as bydraes na die tempel gebring het, vir die hoëpriester Gilkija gaan gee. Dit was geld wat die Leviete as deurwagte bymekaargemaak het. Hulle het dit uit Manasse, Efraim en die res wat van Israel oorgebly het, gekry. Dit is ook van die mense van Juda, Benjamin en Jerusalem gekry. Die geld is aan die kontrakteurs betaal wat moes sorg dat die tempelgebou herstel word. Hulle moes die geld gebruik om die vakmanne te betaal wat die herstelwerk sou doen. Hulle het dit aan die skrynwerkers en bouers betaal wat gekapte bouklippe en hout vir dakkappe moes koop om die tempel te herstel, wat deur die vorige konings van Juda verniel is. Die manne het hulle werk deeglik gedoen. Die opsigters oor die werk was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. ’n Ander groep Leviete, wat vaardige musici was, is in beheer van die draers en die arbeiders met hulle verskillende soorte werk geplaas. Nog ander Leviete is gebruik as sekretarisse, klerke en poortwagte. Terwyl hulle die geld bymekaargemaak het wat die mense na die tempel van die Here gebring het, het Gilkija, die priester, die wetboek van die Here gekry. Dit is die wetboek wat die Here vir Moses gegee het. Gilkija het vir Safan, die sekretaris, gesê: “Ek het die wetboek in die Here se tempel gekry!” Gilkija het toe die boekrol vir Safan gegee. Safan het die boekrol dadelik na die koning gebring en verslag gedoen: “Almal vir wie u werk gegee het, is aan die gang. Hulle het die geld wat in die tempel was, bymekaargemaak en vir die kontrakteurs en werkers gegee om met die werk aan te gaan.Maar daar is nog iets, U Majesteit. Die priester Gilkija het dié boekrol daar gevind en vir my gegee.” Safan het dit toe vir Josia voorgelees.

2 KRONIEKE 34:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Josia was ag jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 31 jaar lank koning in Jerusalem. Josia het dinge gedoen waarvan die Here hou. Hy het gelewe presies soos sy voorvader Dawid. In die agste jaar nadat Josia koning geword het, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te dien. Josia was toe nog 'n jongman. In die twaalfde jaar nadat hy koning geword het, het hy begin om Juda en Jerusalem skoon te maak, hy het die offer-plekke, gewyde pale, beelde van hout en beelde van metaal afgebreek. Hy het gesê hulle moet die altare van die Baäls afbreek. Hy het ook die wierook-altare wat bo die altare was, stukkend laat slaan. Hy het die gewyde pale en die beelde van hout en van metaal stukkend laat breek en hy het dit in klein stukkies laat fynstamp. Toe het hy die stukkies laat gooi op die grafte van die mense wat vir die Baäls ge-offer het. Hy het die bene van die priesters van die Baäls laat verbrand op hulle eie altare. Hy het Juda en Jerusalem skoongemaak, daar was nie meer altare nie. Hy het gesê hulle moet goed soek in al die tempels in die stede van die stamme Manasse, Efraim en Simeon en tot by Naftali. Hy het gesê hulle moet al die altare afbreek, die gewyde pale en die beelde fynkap, en hulle moet die wierook-altare stukkend breek. Hy het dit gedoen in die hele land Israel en toe het hy teruggegaan na Jerusalem. In die agtiende jaar nadat Josia koning geword het, en nadat hy die land en die tempel skoongemaak het, het hy vir Safan seun van Asalja, en vir Maäseja die burgemeester, en vir Joag seun van Joahas, gestuur om die tempel van sy God die Here reg te maak. Joag was die hoof van die amptenare. Hulle het vir die hoëpriester Gilkija die geld gaan gee wat die Leviete bymekaargemaak het. Die Leviete het waggestaan by die deur van die tempel en hulle het die geld gekry van die mense van Manasse en Efraim en die ander stamme van Israel, en ook van die mense van die hele land Juda en Benjamin en van die mense van Jerusalem. Die amptenare en die hoëpriester het toe die geld gegee vir die mense wat moes kyk dat die werkers die tempel regmaak, en hierdie mense het die geld gebruik om die mense te betaal wat die tempel moes regmaak. Hulle het die geld gegee vir die ambagsmanne en vir die bouers om gekapte klippe te koop en ook hout vir die dak-kappe en balke. Hulle moes dit in die geboue sit, want die konings van Juda het nie die geboue opgepas en reggemaak nie. Die ambagsmanne het die werk gedoen wat hulle moes doen. Die Leviete wat moes kyk dat hulle die werk reg doen, was Jagat en Obadja van die Merari-familie, en Sagaria en Mesullam van die Kehat-familie. Elke Leviet wat geweet het hoe om die musiek-instrumente te speel, het ook gekyk dat die manne wat die goed moes dra, hulle werk doen, en hulle het gesê hoe die werkers al die werk moet doen. Party Leviete was sekretarisse en voormanne en poortwagte. Toe hulle die geld uithaal wat die mense na die tempel gebring het, het die hoëpriester Gilkija die wetboek gekry wat die Here vir Moses gegee het. Gilkija het toe vir Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.” En Gilkija het die boek vir Safan gegee. Safan het die boek na die koning toe gebring, en hy het ook vir die koning gesê: “Jou mense is besig om al die werk te doen wat hulle moet doen. Hulle het al die geld uitgehaal wat hulle in die tempel kon kry en hulle het dit gegee vir die werkers en hulle hoofde.” Die sekretaris Safan het vir die koning vertel dat die priester Gilkija vir hom 'n boek gegee het en hy het vir die koning gelees wat daarin geskryf is.

2 KRONIEKE 34:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

JOSÍA was agt jaar oud toe hy koning geword het, en een-en-dertig jaar het hy in Jerusalem geregeer. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE en gewandel in die weë van sy vader Dawid en nie regs of links afgewyk nie. En in die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog jonk was, het hy begin om die God van sy vader Dawid te soek, en in die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die hoogtes en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde. En hulle het voor sy oë die altare van die Baäls omgegooi; en die sonpilare wat daar bo-op was, het hy stukkend gekap en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde verbreek en vermaal en dit oor die grafte gestrooi van die wat aan hulle geoffer het. En die beendere van die priesters het hy op hulle altare verbrand en Juda en Jerusalem gereinig. En in die stede van Manasse en Efraim en Símeon en tot by Náftali, in hulle puinhope rondom, het hy die altare omgegooi, en die heilige boomstamme en gesnede beelde het hy tot stof vergruis en al die sonpilare in die hele land van Israel het hy omgekap. Daarna het hy na Jerusalem teruggekom. En in die agttiende jaar van sy regering, toe hy besig was om die land en die tempel te reinig, het hy Safan, die seun van Asálja, en Maäséja, die owerste van die stad, en Joag, die seun van Jóahas, die kanselier, gestuur om die huis van die HERE sy God te herstel. Toe hulle by die hoëpriester Hilkía kom, het hulle die geld afgegee wat in die huis van God gebring was, wat die Leviete, die drumpelwagters, versamel het uit Manasse en Efraim en uit die hele oorblyfsel van Israel en uit die hele Juda en Benjamin en die inwoners van Jerusalem. Hulle het dit naamlik oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat aangestel was oor die huis van die HERE, en dié het dit gegee aan die arbeiders wat gewerk het aan die huis van die HERE, om die huis reg te maak en te herstel. En hulle het dit gegee aan die skrynwerkers en die bouers, om gekapte klippe en hout vir die kappe aan te koop en om die geboue wat die konings van Juda verniel het, van balke te voorsien. En die manne het getrou gearbei aan die werk; en oor hulle was aangestel: Jahat en Obádja, Leviete uit die kinders van Merári, en Sagaría en Mesúllam uit die kinders van die Kehatiete, om leiding te gee; en die Leviete, elkeen wat verstand gehad het van musiekinstrumente, was én oor die lasdraers én het al die werksmense bestuur by elke soort arbeid; uit die Leviete was ook skrywers en opsigters en poortwagters. En toe hulle die geld uithaal wat in die huis van die HERE gebring was, het die priester Hilkía die wetboek van die HERE gevind wat deur die diens van Moses gegee is. Daarop het Hilkía aan die skrywer Safan gesê: Ek het die wetboek in die huis van die HERE gevind! Toe gee Hilkía die boek aan Safan, en Safan het die boek na die koning gebring en aan die koning verder verslag gegee en gesê: Alles wat in die hande van u dienaars gegee is, doen hulle: hulle het die geld wat daar in die huis van die HERE was, uitgeskud en oorhandig aan die opsigters en die uitvoerders van die werk. Toe gee die skrywer Safan aan die koning te kenne en sê: Die priester Hilkía het aan my 'n boek gegee; en Safan het aan die koning daaruit voorgelees.

2 KRONIEKE 34:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Josia was ag toe hy koning geword het en het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie. In die agste jaar van sy regering, toe hy nog 'n jong man was, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te dien, en in die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te suiwer van hoogtes, gewyde pale, gesnede en gegote beelde. Hy het persoonlik toegesien dat die altare van die Baäls verwoes word en het die wierookaltare wat bokant die Baälsaltare gestaan het, laat stukkend slaan. Die gewyde pale en die gesnede en gegote beelde het hy stukkend gebreek, fyngemaal en oor die grafte van dié wat vir hulle offerandes gebring het, gestrooi. Die bene van die afgodspriesters het hy op hulle eie altare laat verbrand. So het hy Juda en Jerusalem skoongemaak, en ook die stede van Manasse, Efraim en Simeon, tot by Naftali, en ook die ruïnes van die omgewing. Hy het dwarsoor die gebied van Israel altare afgebreek, gewyde pale en beelde in stukkies gekap en al die wierookaltare stukkend gebreek. Daarna is hy terug Jerusalem toe. In die agtiende jaar van sy regering, toe hy nog besig was om die land en die tempel skoon te maak, het Josia vir Safan seun van Asalja, die stadsbevelvoerder Maäseja en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Joahas gestuur om die huis van die Here sy God te herstel. Hulle het die geld wat deur die Levitiese drumpelwagte vir die tempel ingesamel is in Manasse en Efraim en oral in Israel, Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem, aan die hoëpriester Gilkija gaan oorhandig. Die geld is toe gegee aan die mense wat vir die werk aan die tempel moes sorg en dié het dit gebruik vir die heropbou en herstel van die gebou. Hulle het die geld vir die vakmanne en bouwerkers gegee om gekapte klip en balke te koop en die vertrekke wat onder die konings van Juda in verval geraak het, weer op te bou. Die manne het die werk met groot sorg uitgevoer. Die opsigters oor hulle was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. Die Leviete was mense wat almal bedrewe was in die speel van musiekinstrumente, maar hulle het ook toesig gehou oor die draers en het leiding gegee aan elkeen wat 'n taak moes uitvoer, in watter soort werk ook al. Ook die administratiewe amptenare, die regsbeamptes en die poortwagte was Leviete. Terwyl hulle die geld wat vir die huis van die Here ingebring is, uitgehaal het, het die priester Gilkija die boek gekry met die wet van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is. Gilkija het toe vir die staatsekretaris Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.” Hy het die wetboek aan Safan oorhandig, en Safan het dit na die koning toe geneem en ook aan die koning verslag gedoen: “Alles wat aan u amptenare opgedra is, is gedoen; die geld wat in die tempel beskikbaar was, is uitgetel en oorhandig aan die opsigters en aan die mense wat die werk moet uitvoer.” Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.

2 KRONIEKE 34:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een-en-dertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die HERE. Hy het die paaie van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie. In die agtste jaar van sy regering, toe hy nog jonk was, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te raadpleeg. In die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die offerhoogtes, die asjeras en die gesnede en gegote beelde. Hulle het onder sy toesig die altare van die Baäls afgebreek en ook die wierookaltare daarop afgekap. Hy het die asjeras en die gesnede en gegote beelde stukkend gebreek, dit fyngestamp en oor die grafte gestrooi van dié wat vir hulle offers geslag het. En die beendere van die priesters, dié het hy op hulle altare verbrand. So het hy Juda en Jerusalem gereinig. In al die dorpe van Manasse, Efraim en Simeon, en tot by Naftali, het hy oral hulle huise deursoek. Hy het die altare en die asjeras afgebreek, en die afgodsbeelde het hy verbrysel deur dit fyn te stamp. Die wierookaltare het hy in die hele gebied van Israel fyngekap. Toe het hy teruggekeer na Jerusalem. In die agttiende jaar van sy regering het hy, terwyl hy besig was om die land en die •tempel te reinig, vir Safan, seun van Asalja, vir Maäseja, die stadsbestuurder, en vir Joag, seun van Joahas, die herout, gestuur om die huis van die HERE sy God te herstel. Hulle het by Gilkija, die hoëpriester, gekom en die geld afgegee wat in die huis van God ingebring is – die geld wat die Leviete, die deurwagters, ingesamel het by Manasse en Efraim, by die hele res van Israel, die hele Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem. Hulle het dit oorhandig aan die voormanne wat aangestel was by die huis van die HERE. Hulle het dit dan gegee vir die werksmense wat in die huis van die HERE besig was om die gebou op te knap en te herstel. Hulle het dit vir die skrynwerkers en bouers gegee om gekapte klip en hout mee te koop vir die balkpenne, en om die vertrekke wat die konings van Juda verniel het, van balke te voorsien. Die manne was betroubaar in die uitvoering van hulle taak. Oor hulle is Jagat en Obadja, Leviete uit die nageslag van Merari, en Sagaria en Mesullam, uit die nageslag van Kehat, aangestel om toesig te hou. Die Leviete, elkeen 'n kundige met musiekinstrumente, het ook beheer gehad oor die draers, en was toesighouers oor elke werker in elke soort werk. Sommige van die Leviete was sekretarisse, opsieners en hekwagte. Terwyl hulle besig was om die geld na buite te neem wat in die huis van die HERE byeengebring is, het die priester Gilkija afgekom op 'n •boekrol met die Wet van die HERE by monde van Moses. Gilkija opper toe die saak, en sê vir Safan, die sekretaris: “Ek het sowaar op 'n boekrol van die wet in die huis van die HERE afgekom.” Daarop het Gilkija die boekrol vir Safan gegee. Safan het die boekrol na die koning geneem. Hy het weereens aan die koning verslag gedoen: “Alles wat in die hande van u dienaars gelaat is, is hulle besig om uit te voer. Hulle het die geld wat in die huis van die HERE gevind is, uitgeskud en dit oorhandig aan hulle wat aangestel is, en aan die werksmense.” Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: “Gilkija, die priester, het 'n boekrol vir my gegee.” Safan lees toe daaruit vir die koning voor.

2 KRONIEKE 34:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, en in die weë van sy vader Dawid gewandel en nie na regs of links afgewyk nie. Want in die agtste jaar van sy regering, toe hy nog jonk was, het hy die God van sy vader Dawid begin soek; en in die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die hoogtes en die heilige boomstamme en gesnede beelde en die gegote beelde. En hulle het die altare van die Baäls voor sy aangesig afgebreek; en die beelde wat daar bo-op was, het hy afgekap; en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde het hy stukkend gebreek en stof daarvan gemaak en dit op die grafte van die wat aan hulle geoffer het, gestrooi. En hy het die bene van die priesters op hulle altare verbrand en Juda en Jerusalem gereinig. En so het hy gedoen in die stede van Manasse en Efraim en Símeon, tot by Náftali, met hulle grond rondom. En nadat hy die altare en die heilige boomstamme afgebreek het en die gesnede beelde tot poeier geslaan en al die afgode in die hele land van Israel afgekap het, het hy na Jerusalem teruggekeer. En in die agtiende jaar van sy regering, nadat hy die land en die huis gereinig het, het hy Safan, die seun van Asalja, en Maäséja, die goewerneur van die stad, en Joag, die seun van Joahas, die kanselier, gestuur om die huis van die HERE sy God. En toe hulle by die hoëpriester Hilkía kom, het hulle die geld afgelewer wat in die huis van God ingebring is, wat die Leviete wat die deurwagters bewaak het, ingesamel het uit die hand van Manasse en Efraim en van die hele oorblyfsel van Israel en van die hele Juda en Benjamin; en hulle het na Jerusalem teruggekeer. En hulle het dit in die hand van die werkers gegee wat toesig oor die huis van die HERE gehad het, en dit aan die werkers gegee wat in die huis van die HERE gewerk het om die huis te herstel en te herstel. Selfs aan die kunsmanne en bouers het hulle dit gegee om gekapte klip te koop en hout vir verbindings en om die huise te vloer wat die konings van Juda verwoes het. En die manne het die werk getrou gedoen; en hulle opsieners was Jahat en Obádja, die Leviete, uit die seuns van Merári; en Sagaria en Mesullam, uit die seuns van die Kehatiete, om dit op te lei; en ander van die Leviete, almal wat die musiekinstrumente kon bemeester. En hulle was oor die lasdraers en was opsieners van alles wat die werk verrig het in enige diens; en van die Leviete was daar skrifgeleerdes en beamptes en poortwagters. En toe hulle die geld uitbring wat in die huis van die HERE gebring is, het die priester Hilkía 'n wetboek van die HERE gevind wat deur Moses gegee is. En Hilkía het geantwoord en vir Safan, die skrywer, gesê: Ek het die wetboek in die huis van die HERE gevind. En Hilkía het die boek aan Safan oorgegee. En Safan het die boek na die koning gebring en die koning teruggebring en gesê: Alles wat aan u dienaars toevertrou is, hulle doen dit. En hulle het die geld bymekaargemaak wat in die huis van die HERE gevind is, en dit in die hand van die opsigters en in die hand van die arbeiders oorgegee. Toe het Safan, die skrywer, dit aan die koning vertel en gesê: Die priester Hilkía het vir my 'n boek gegee. En Safan het dit voor die koning gelees.

2 KRONIEKE 34:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het en hy het 31 jaar in Jerusalem regeer. Hy het gedoen wat reg was vir die HERE en die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie. Gedurende die agtste jaar van sy regering, toe hy nog jonk was, het Josia begin om die God van sy voorvader Dawid te dien. In sy twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig deur al die heidense heiligdomme, die Asjerapale en die gesnede en gegote beelde te vernietig. Hy het toegesien dat die altare vir die Baälbeelde afgebreek en hulle wierookaltare vernietig word. Hy het ook die Asjerapale, en die gesnede en die gegote beelde stukkend geslaan en fyngemaal. Dit is oor die grafte gestrooi van dié wat hulle aanbid het. Daarna het hy die bene van die afgodspriesters op hulle eie altare verbrand. So het hy Juda en Jerusalem gereinig. Hy het dieselfde gedoen in die dorpe van Manasse, Efraim en Simeon, en selfs so ver as Naftali, en ook die ruïnes in die omgewing. Hy het heidense altare en die Asjerapilare vernietig en die afgodsbeelde tot stof fyngemaal. Hy het die wierookaltare dwarsdeur die land van Israel afgebreek en toe na Jerusalem teruggekeer. In die agtiende jaar van sy regering, nadat hy die land en die tempel gereinig het, het Josia vir Safan, seun van Asalja, Maäseja, die goewerneur van Jerusalem, en Joag seun van Joahas die koninklike geskiedskrywer, gestuur om die tempel van die HERE sy God te herstel. Hulle het die geld wat die Levitiese poortwagters vir die tempel van God ingesamel het, aan Gilkija, die hoëpriester, gegee. Die gawes vir die tempel het gekom uit Manasse, Efraim, die hele oorblyfsel van Israel, asook uit Juda en Benjamin en die inwoners van Jerusalem. Hy het die geld toevertrou aan die mense wat aangewys is om oor die herstel van die HERE se tempel toesig te hou. Húlle het weer die werkers betaal wat die herstelwerk en opknapping gedoen het. Hulle het ook geld gegee waarmee timmermanne en messelaars gekapte klip vir die mure kon koop, asook timmerhout vir die balke van die geboue. Ook die dele wat vroeëre konings van Juda toegelaat het om te verval, het hulle weer herstel. Die werkers het getrou onder leiding van Jagat en Obadja, Leviete uit die Merarifamiliegroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep gewerk. Ander Leviete wat bekwaam was om musiekinstrumente te speel, is ook in bevel geplaas van werkers in verskeie ambagte. Nog ander Leviete het as administratiewe amptenare, skrywers en poortwagters opgetree. Terwyl die geld uitgehaal is wat vir die tempel van die HERE versamel is, het Gilkija die priester afgekom op die boek van die gebooie van die HERE wat deur Moses gegee is. Gilkija sê toe vir Safan die staatsekretaris: “Ek het die boek van die gebooie in die tempel van die HERE gekry!” Gilkija het die boekrol vir Safan gegee. Safan het die boekrol na die koning toe geneem en gesê: “U beamptes is besig om elke ding te doen wat aan hulle opgedra is. Die geld wat by die tempel vir die HERE bymekaargemaak is, is aan die toesighouers en die arbeiders gegee.” Safan die staatsekretaris het bygevoeg: “Gilkija die priester het vir my ’n boekrol gegee.” Hy het dit toe vir die koning voorgelees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid