2 Kronieke 34

34
Josia laat die land skoonmaak
(Kyk ook 2 Kon 22:1; 23:4-19)
1Josia was ag jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 31 jaar lank koning in Jerusalem. 2Josia het dinge gedoen waarvan die Here hou. Hy het gelewe presies soos sy voorvader Dawid.
3In die agste jaar nadat Josia koning geword het, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te dien. Josia was toe nog 'n jongman. In die twaalfde jaar nadat hy koning geword het, het hy begin om Juda en Jerusalem skoon te maak, hy het die offer-plekke, gewyde pale, beelde van hout en beelde van metaal afgebreek. 4Hy het gesê hulle moet die altare van die Baäls afbreek. Hy het ook die wierook-altare wat bo die altare was, stukkend laat slaan. Hy het die gewyde pale en die beelde van hout en van metaal stukkend laat breek en hy het dit in klein stukkies laat fynstamp. Toe het hy die stukkies laat gooi op die grafte van die mense wat vir die Baäls ge-offer het. 5Hy het die bene van die priesters van die Baäls laat verbrand op hulle eie altare. Hy het Juda en Jerusalem skoongemaak, daar was nie meer altare nie. 6Hy het gesê hulle moet goed soek in al die tempels in die stede van die stamme Manasse, Efraim en Simeon en tot by Naftali. 7Hy het gesê hulle moet al die altare afbreek, die gewyde pale en die beelde fynkap, en hulle moet die wierook-altare stukkend breek. Hy het dit gedoen in die hele land Israel en toe het hy teruggegaan na Jerusalem.
Josia laat die tempel regmaak
8In die agtiende jaar nadat Josia koning geword het, en nadat hy die land en die tempel skoongemaak het, het hy vir Safan seun van Asalja, en vir Maäseja die burgemeester, en vir Joag seun van Joahas, gestuur om die tempel van sy God die Here reg te maak. Joag was die hoof van die amptenare. 9Hulle het vir die hoëpriester Gilkija die geld gaan gee wat die Leviete bymekaargemaak het. Die Leviete het waggestaan by die deur van die tempel en hulle het die geld gekry van die mense van Manasse en Efraim en die ander stamme van Israel, en ook van die mense van die hele land Juda en Benjamin en van die mense van Jerusalem. 10Die amptenare en die hoëpriester het toe die geld gegee vir die mense wat moes kyk dat die werkers die tempel regmaak, en hierdie mense het die geld gebruik om die mense te betaal wat die tempel moes regmaak. 11Hulle het die geld gegee vir die ambagsmanne en vir die bouers om gekapte klippe te koop en ook hout vir die dak-kappe en balke. Hulle moes dit in die geboue sit, want die konings van Juda het nie die geboue opgepas en reggemaak nie. 12Die ambagsmanne het die werk gedoen wat hulle moes doen. Die Leviete wat moes kyk dat hulle die werk reg doen, was Jagat en Obadja van die Merari-familie, en Sagaria en Mesullam van die Kehat-familie. Elke Leviet wat geweet het hoe om die musiek-instrumente te speel, 13het ook gekyk dat die manne wat die goed moes dra, hulle werk doen, en hulle het gesê hoe die werkers al die werk moet doen. Party Leviete was sekretarisse en voormanne en poortwagte.
Die wetboek
(Kyk ook 2 Kon 22:3 – 23:1)
14Toe hulle die geld uithaal wat die mense na die tempel gebring het, het die hoëpriester Gilkija die wetboek gekry wat die Here vir Moses gegee het. 15Gilkija het toe vir Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.”
En Gilkija het die boek vir Safan gegee. 16Safan het die boek na die koning toe gebring, en hy het ook vir die koning gesê: “Jou mense is besig om al die werk te doen wat hulle moet doen. 17Hulle het al die geld uitgehaal wat hulle in die tempel kon kry en hulle het dit gegee vir die werkers en hulle hoofde.”
18Die sekretaris Safan het vir die koning vertel dat die priester Gilkija vir hom 'n boek gegee het en hy het vir die koning gelees wat daarin geskryf is. 19Toe die koning hoor wat in die wette geskryf is, het hy sy klere geskeur 20en hy het vir Gilkija en Agikam seun van Safan, en vir Abdon seun van Miga, en vir die sekretaris Safan en vir sy hoof-amptenaar Asaja gesê: 21“Julle moet vir die Here gaan vra om vir my en vir almal wat nog lewe in Israel en Juda, te sê wat sal gebeur. Vra vir die Here oor die dinge wat geskryf is in die boek wat ons gekry het. Ek dink die Here is baie kwaad vir ons omdat ons voorvaders nie alles gedoen het wat Hy in hierdie boek gesê het nie.”
22Gilkija en die ander manne wat saam met hom gegaan het, het na die profeet Gulda toe gegaan en hulle het vir haar gesê wat die koning gesê het. Gulda was getroud met Sallum seun van Tokhat seun van Gargas. Gulda se man het die klere in die klerekamer van die paleis opgepas en hulle het gewoon in die nuwe deel van Jerusalem. 23Die profeet het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Julle moet vir die man wat vir julle na My toe gestuur het, sê: 24Die Here sê: Ek sal dit sleg laat gaan met hierdie plek en met die mense wat hier woon. Ek sal alles laat gebeur wat geskryf is in die boek wat hulle vir die koning van Juda gelees het. 25Ek sal dit doen omdat hulle weggegaan het van My, hulle het ander gode gedien. Ek het kwaad geword oor al die dinge wat hulle gedoen het. Ek sal hierdie plek straf en Ek sal nie ophou nie. 26-27Die koning van Juda het vir julle gestuur om te vra wat die Here sê. Julle moet vir die koning gaan sê: Ek, die Here, het gesien dat jy jou voor My verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek gesê het. Ek het gesien dat jy jou klere geskeur het en Ek het gehoor hoe jy huil. 28Daarom sal dit goed gaan met jou totdat Ek jou laat sterf en jy begrawe is. Jy sal nie self sien wanneer Ek dit sleg laat gaan met hierdie plek nie.”
Gilkija en die ander mans het vir die koning gaan sê wat die profeet gesê het.
Die verbond
(Kyk ook 2 Kon 23:2-3)
29Toe het die koning gesê al die leiers van Juda en Jerusalem moet bymekaarkom. 30Die koning het na die tempel gegaan. Al die mense van Juda en Jerusalem het saamgegaan, die priesters en die Leviete en al die ander mense, die grootmense en kinders. En toe het hy vir hulle hard gelees wat in die verbondsboek geskryf is, die boek wat hulle in die tempel gekry het. 31Die koning het op sy plek gestaan en hy het 'n verbond gemaak voor die Here. Hy het belowe om die Here te volg en om gehoorsaam te wees aan alles wat die Here in sy wette gesê het. Hy het belowe om met sy hele hart en siel te doen wat die verbond sê wat in hierdie boek geskryf is. 32Die koning het gesê elke persoon in Jerusalem en in die Benjamin-stam moet belowe dat hy dit ook sal doen, en die mense van Jerusalem het gedoen soos die verbond van God, die God van hulle voorvaders, sê.
33Josia het al die goed wat die Here haat, laat wegvat uit die Israeliete se woonplekke. Hy het gesê almal in die land Israel moet hulle God die Here dien. Hulle het nie opgehou om die Here, die God van hulle voorvaders, te volg nie, so lank soos Josia gelewe het.

Tans Gekies:

2 Kronieke 34: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid