2 Kronieke 34:1-18

2 Kronieke 34:1-18 ABA

Josia was ag jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 31 jaar lank koning in Jerusalem. Josia het dinge gedoen waarvan die Here hou. Hy het gelewe presies soos sy voorvader Dawid. In die agste jaar nadat Josia koning geword het, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te dien. Josia was toe nog 'n jongman. In die twaalfde jaar nadat hy koning geword het, het hy begin om Juda en Jerusalem skoon te maak, hy het die offer-plekke, gewyde pale, beelde van hout en beelde van metaal afgebreek. Hy het gesê hulle moet die altare van die Baäls afbreek. Hy het ook die wierook-altare wat bo die altare was, stukkend laat slaan. Hy het die gewyde pale en die beelde van hout en van metaal stukkend laat breek en hy het dit in klein stukkies laat fynstamp. Toe het hy die stukkies laat gooi op die grafte van die mense wat vir die Baäls ge-offer het. Hy het die bene van die priesters van die Baäls laat verbrand op hulle eie altare. Hy het Juda en Jerusalem skoongemaak, daar was nie meer altare nie. Hy het gesê hulle moet goed soek in al die tempels in die stede van die stamme Manasse, Efraim en Simeon en tot by Naftali. Hy het gesê hulle moet al die altare afbreek, die gewyde pale en die beelde fynkap, en hulle moet die wierook-altare stukkend breek. Hy het dit gedoen in die hele land Israel en toe het hy teruggegaan na Jerusalem. In die agtiende jaar nadat Josia koning geword het, en nadat hy die land en die tempel skoongemaak het, het hy vir Safan seun van Asalja, en vir Maäseja die burgemeester, en vir Joag seun van Joahas, gestuur om die tempel van sy God die Here reg te maak. Joag was die hoof van die amptenare. Hulle het vir die hoëpriester Gilkija die geld gaan gee wat die Leviete bymekaargemaak het. Die Leviete het waggestaan by die deur van die tempel en hulle het die geld gekry van die mense van Manasse en Efraim en die ander stamme van Israel, en ook van die mense van die hele land Juda en Benjamin en van die mense van Jerusalem. Die amptenare en die hoëpriester het toe die geld gegee vir die mense wat moes kyk dat die werkers die tempel regmaak, en hierdie mense het die geld gebruik om die mense te betaal wat die tempel moes regmaak. Hulle het die geld gegee vir die ambagsmanne en vir die bouers om gekapte klippe te koop en ook hout vir die dak-kappe en balke. Hulle moes dit in die geboue sit, want die konings van Juda het nie die geboue opgepas en reggemaak nie. Die ambagsmanne het die werk gedoen wat hulle moes doen. Die Leviete wat moes kyk dat hulle die werk reg doen, was Jagat en Obadja van die Merari-familie, en Sagaria en Mesullam van die Kehat-familie. Elke Leviet wat geweet het hoe om die musiek-instrumente te speel, het ook gekyk dat die manne wat die goed moes dra, hulle werk doen, en hulle het gesê hoe die werkers al die werk moet doen. Party Leviete was sekretarisse en voormanne en poortwagte. Toe hulle die geld uithaal wat die mense na die tempel gebring het, het die hoëpriester Gilkija die wetboek gekry wat die Here vir Moses gegee het. Gilkija het toe vir Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.” En Gilkija het die boek vir Safan gegee. Safan het die boek na die koning toe gebring, en hy het ook vir die koning gesê: “Jou mense is besig om al die werk te doen wat hulle moet doen. Hulle het al die geld uitgehaal wat hulle in die tempel kon kry en hulle het dit gegee vir die werkers en hulle hoofde.” Die sekretaris Safan het vir die koning vertel dat die priester Gilkija vir hom 'n boek gegee het en hy het vir die koning gelees wat daarin geskryf is.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Kronieke 34:1-18