Psalms 41:1-13

Psalms 41:1-13 ABA

Vir die leier van die koor: 'n Psalm van Dawid. Dit gaan goed met die persoon wat bekommerd is oor 'n arm mens. Die Here sal so 'n persoon red wanneer dit sleg gaan met hom. Die Here sal hom beskerm en hom laat aanhou lewe, die Here sal hom 'n gelukkige mens maak in hierdie land. U sal hom nie vir sy vyande gee sodat hulle met hom kan doen wat hulle wil nie. Die Here sal hom help wanneer hy siek is en Hy sal hom weer gesond laat word. Ekself het gesê: Here, U moet genadig wees vir my, ek het sonde gedoen teen U, maar U moet my gesond maak. My vyande sê dat dit sleg sal gaan met my. Hulle vra: “Wanneer sterf hy, wanneer verdwyn sy naam?” En wanneer iemand kom kyk hoe dit gaan, dan sê hy mooi dinge, maar hy hoop dat dit nie gebeur nie. Hy kom kyk hoe sleg dit met my gaan en hy gaan vertel dit daar buite. Al die mense wat my haat, staan en fluister oor my, hulle hoop dat dit baie sleg sal gaan met my. Hulle sê: “Hierdie siekte sal hom laat sterf, hy sal nie weer opstaan van sy bed nie.” Ek het gedink 'n goeie vriend sal my help, hy het altyd saam met my geëet, maar hy het my verraai. En U, Here? U moet genadig wees vir my en U moet my laat opstaan, sodat ek aan hulle kan doen wat hulle aan my gedoen het. Ek weet U is lief vir my, want U sal my vyande nie laat juig omdat hulle dink hulle het gewen nie. En ek? Ek is onskuldig, daarom help U my en hou U my regop, U laat my voor U staan vir altyd.