Psalms 144:1-15

Psalms 144:1-15 ABA

Van Dawid. Ek wil die Here prys! Hy is my Rots. Hy leer vir my hande om te veg, Hy leer vir my vingers om oorlog te maak. Hy doen altyd wat Hy belowe het, Hy is vir my soos 'n veilige plek in die berge, Hy beskerm my en Hy maak my vry, Hy is vir my soos 'n skild, ek voel veilig by Hom. Hy maak my mense gehoorsaam aan my. Here, mense is nie belangrik nie. Hoekom kyk U na hulle? Hoekom dink U aan iemand wat net 'n mens is? Mense is soos wind, hulle lewe gaan verby soos 'n skaduwee wat verdwyn. Here, U moet die hemel buig en U moet afkom, U moet aan die berge raak, sodat daar rook uit hulle kom. U moet die weerlig laat blits en U moet die vyande na al die kante toe jaag, U moet u pyle skiet en U moet hulle laat vlug. U moet u hand uitsteek uit die hemel en U moet my wegruk, U moet my red van die baie water, U moet my red van ander volke. Hulle wil net een ding doen, en dit is om te lieg en te bedrieg. O God, ek wil vir U 'n nuwe lied sing, ek wil vir U musiek maak met die harp. Dit is U wat konings help om oorloë te wen, dit is U wat vir Dawid weggeruk het voor 'n wrede vyand. U moet my ook wegruk, U moet my red van die ander volke. Hulle wil net een ding doen, en dit is om te lieg en te bedrieg. Ons bid dat ons seuns sal wees soos plante wat groei en groot word terwyl hulle nog jonk is. Ons bid dat ons dogters sal wees soos die mooi pilare op die hoeke van die paleis. Ons bid dat ons stoorkamers vol sal wees, dat daar baie soorte kos sal wees. Ons bid dat ons skape en ons bokke op ons veld duisende, tienduisende lammers sal hê, en dat ons beeste baie kalwers sal hê. Ons bid dat vyande nie in ons stad sal kom en die mense sal wegvat nie, ons bid dat ons nie op die oop stukke grond sal moet staan en huil nie. Dit gaan goed met 'n volk wanneer dit so met hulle gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is.