Julle moet die Here prys.
Julle moet vir die Here dankie sê,
want Hy is goed,
ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.
Niemand kan sê hoe sterk die Here is nie,
niemand kan Hom reg prys nie.
Dit gaan goed met mense
wat aanhou om reg te oordeel,
met mense wat altyd reg doen.
Here, wanneer U goed is vir u volk,
dan moet U ook aan my dink.
Wanneer U hulle red,
dan moet U my nie vergeet nie.
Dan sal ek sien hoe goed gaan dit
met u mense, U het hulle gekies.
Ek sal bly wees wanneer u volk bly is,
ek sal juig saam met die mense wat aan U behoort.
Ons het sonde gedoen soos ons voorvaders,
ons het verkeerde dinge gedoen, ons is skuldig.
Ons voorvaders het in Egipte
nie u wonderwerke verstaan nie,
hulle het nie onthou dat U altyd
doen wat U belowe het nie.
Hulle was opstandig by die see, die Riet-see.
Maar Hy het hulle gered omdat Hy God is,
omdat Hy wou hê hulle moet weet
dat Hy sterk is.
Hy het hard gepraat met die Riet-see,
en die see het droog geword.
Hy het ons voorvaders laat deurloop
op die plek waar daar voorheen diep water was,
hulle het deurgeloop soos in 'n woestyn.
Hy het hulle gered van die mense
wat vir hulle gehaat het,
Hy het hulle vrygemaak van hulle vyande.
Die water het bo-oor hulle vyande gespoel,
nie een van hulle het aangehou lewe nie.
Toe het ons voorvaders geweet
dat die Here doen wat Hy sê,
hulle het gesing en Hom geprys.
Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het,
hulle het nie gewag totdat Hy vir hulle sê
wat hulle moet doen nie.
Hulle was honger vrate in die woestyn,
hulle het God getoets in die woestyn.
En Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het,
maar Hy het hulle ook siek gemaak en maer laat word.
Hulle was in die kamp baie kwaad vir Moses
en vir Aäron wat aan die Here gewy was.
Toe het die aarde oopgegaan en vir Datan ingesluk,
dit het toegegaan oor Abiram en sy vriende.
'n Vuur het hulle almal gebrand,
'n vlam het die mense verbrand
wat verkeerd gedoen het.
Hulle het by Horeb 'n kalfbeeld gemaak,
hulle het gebuig voor 'n beeld.
Hulle het hulle Koning gelos en hulle het 'n beeld aanbid,
'n beeld van 'n bul wat gras vreet.
Hulle het vir God vergeet, God wat vir hulle gered het,
God wat groot dinge gedoen het in Egipte,
wonderwerke in die land van Gam,
en dinge by die Riet-see, dit het die mense bang laat word.
Die Here het besluit om hulle almal te laat sterf,
en Hy sou dit gedoen het, maar Moses het vir Hom gesoebat
om dit nie te doen nie.
Die Here het voorheen vir Moses gekies,
en Moses het nou gekeer dat die Here
hulle nie almal doodmaak nie.
Die mense het gemaak of die mooi land niks beteken nie,
hulle het nie geglo dat die Here sal doen wat Hy gesê het nie.
Hulle het in hulle tente gesit en kla,
hulle wou nie luister na wat die Here sê nie.
Die Here het vas besluit dat Hy hulle sou laat sterf
in die woestyn,
dat Hy hulle nageslag sou laat sterf tussen heidene,
dat Hy hulle oral na ander lande sou jaag.
Hulle het vir Baäl-Peor begin dien,
hulle het vleis geëet wat die mense ge-offer het vir dooie afgode.
Hulle het die Here kwaad gemaak
omdat hulle verkeerde dinge gedoen het,
en hulle het baie siek geword.
Maar Pinehas het opgestaan
en hy het die mense gestraf wat skuldig was,
en toe het die mense nie meer siek geword nie.
Mense sal altyd en altyd onthou
dat Pinehas gedoen het wat reg was.
Die volk het die Here kwaad gemaak
by die Meriba-water,
en dit het sleg gegaan met Moses
omdat hulle dit gedoen het.
Hulle het Moses baie kwaad gemaak,
hy het nie gedink wat hy sê nie,
en hy het dinge gesê wat baie verkeerd was.
Die Here het vir die volk gesê
hulle moet die volke wat heidene was,
almal doodmaak,
maar hulle het dit nie gedoen nie.
Hulle het met heidene getrou
en hulle het geleer om te doen wat die heidene doen.
Hulle het die heidene se afgode begin dien,
en dit het hulle vasgevang
soos 'n vangstrik 'n voël vasvang.
Hulle het hulle seuns en hulle dogters
vir die veldgode ge-offer.
Hulle het onskuldige mense vermoor,
hulle het hulle eie seuns en dogters
ge-offer vir die afgode van Kanaän.
Hulle het die land vuil gemaak met bloed.
Hulle het onrein geword oor die dinge
wat hulle gedoen het,
hulle was ontrou aan God,
hulle het baie verkeerde dinge gedoen.
Die Here het baie kwaad geword vir sy volk,
Hy het nie meer gehou van die mense
wat aan Hom behoort nie.
Toe het Hy sy volk vir die heidene gegee,
sodat die heidene oor hulle kon regeer,
die heidene wat vir hulle gehaat het.
Die volk se vyande het hulle verdruk
en laat swaarkry.
Die Here het hulle baie maal gered,
maar hulle het besluit om opstandig te bly,
hulle het altyd meer verkeerde dinge gedoen.
Die Here het gesien dat dit sleg gaan met hulle
en Hy het gehoor hoe hulle soebat dat Hy hulle moet help.
Hy het toe gedink aan sy verbond met hulle
en Hy het dit beter laat gaan met hulle,
Hy het onthou dat hulle sý mense is.
Hy het hulle vyande se harte verander,
die vyande wat vir hulle gevang en weggevat het.
Die vyande was toe jammer vir die volk van die Here.
Ons God die Here, U moet ons red,
U moet ons bymekaarmaak tussen die volke,
sodat ons u heilige Naam kan sê
en vir U dankie kan sê,
sodat ons dit sal geniet om U te prys.
Almal moet die Here, die God van Israel, prys,
hulle moet Hom altyd en altyd prys.
En die hele volk moet sê: Amen.
Julle moet die Here prys!