PSALMS 106:1-48
PSALMS 106:1-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Halleluja! Prys die HERE, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde. Wie kan die magtige dade van die HERE verwoord, al sy lof verkondig? Gelukkig is hulle wat die reg onderhou, te alle tye geregtigheid handhaaf! Dink aan my, HERE, uit welwillendheid teenoor u volk; sien om na my tydens u verlossing, sodat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag ervaar, mag deel in die vreugde van u nasie, en saam met u erfdeel mag roem. Ons het saam met ons voorouers gesondig, ons het afgedwaal, goddeloos opgetree. Ons voorouers het in Egipte u wonders nie begryp nie, en u oorvloedige troue liefde nie onthou nie, maar in opstand gekom by die see, by die Rietsee. En tog het Hy hulle verlos ter wille van sy Naam, om sy mag bekend te maak. Hy het die Rietsee gedreig, en dit het droog geword; Hy het hulle deur die watermassa laat gaan asof deur 'n woestyn. Hy het hulle verlos uit die hand van haters, hulle vrygekoop uit die hand van vyande. Die water het hulle teenstanders bedek; nie een van hulle het oorgebly nie. Toe het hulle sy beloftes geglo; hulle het sy lof besing. Maar gou het hulle sy dade vergeet; hulle het nie sy raad afgewag nie. Hulle gulsigheid het hulle in die woestyn oorval; hulle het God uitgedaag in die wildernis. Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het 'n verterende siekte in hulle kele laat ontstaan. In die kamp was hulle jaloers op Moses, op Aäron, die gewyde van die HERE. Die aarde het oopgegaan en Datan verswelg, dit het toegegaan oor die bende van Abiram. 'n Vuur het onder hulle bende uitgebreek, vlamme het die goddeloses verskroei. Hulle het by Horeb 'n kalf gemaak, in aanbidding gebuig voor 'n gegote beeld. Hulle het hulle Majesteit verruil vir die afbeelding van 'n bees wat gras eet! Hulle het God wat hulle verlos, vergeet, Hy wat groot dade in Egipte gedoen het, wonders in die land van Gam, ontsagwekkende dade by die Rietsee. Hy het daaraan gedink om hulle uit te roei, as Moses, sy uitverkorene, nie by Hom in die bres getree het vir hulle om sy vernietigende toorn af te weer nie. Hulle het 'n kosbare land afgewys; hulle het nie sy woord geglo nie. Hulle het in hulle tente gemor en nie na die stem van die HERE geluister nie. Hy het met sy hand omhoog gesweer om hulle in die woestyn neer te vel, om hulle nageslag neer te vel onder die nasies, hulle te verstrooi in ander lande. Hulle het hulle ook aan Baäl-Peor verbind en offerandes aan dooies geëet. Hulle het Hom met hulle optrede getart, en 'n plaag het onder hulle uitgebreek. Pinehas het opgestaan, tussenbeide getree, en die plaag is gestuit. Dit is hom toegereken as 'n regverdige daad, van geslag tot geslag, vir altyd. By die water van Meriba het hulle Hom vertoornd gemaak en deur hulle toedoen het dit sleg afgeloop vir Moses – omdat hulle teen God se Gees in opstand was, het onbesonne woorde oor sy lippe gekom. Hulle het nie die volke uitgeroei wat die HERE vir hulle aangedui het nie. Hulle het met die nasies vermeng geraak en hulle gebruike aangeleer. Hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n valstrik geword. Hulle het hulle seuns en dogters aan demone geoffer en so onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en dogters wat hulle vir die afgode van Kanaän geoffer het. Die land is deur bloedskuld besoedel. Hulle het •onrein geword deur daardie gebruike; hulle het troubreuk gepleeg deur hulle dade. Die toorn van die HERE het teen sy volk ontbrand; Hy het 'n weersin gekry in sy erfdeel en hulle oorgegee in die hand van nasies, sodat hulle haters oor hulle geheers en hulle vyande hulle geteister het; hulle moes buig onder hulle hand. Baie kere het Hy hulle gered, maar hulle was doelbewus opstandig en het in hulle sondeskuld weggesink. Tog het Hy hulle nood raakgesien telkens wanneer Hy hulle klaagroep hoor. Om hulle ontwil het Hy aan sy verbond gedink, en Hy het hulle jammer gekry uit die oorvloed van sy troue liefde. Hy het gesorg dat daar ontferming is by almal wat hulle weggevoer het. Verlos ons, HERE ons God! Bring ons uit die nasies bymekaar sodat ons u •heilige Naam kan prys, sodat ons kan roem op die lof wat U toekom. Lofwaardig is die HERE, die God van Israel, van ewigheid af en vir ewig. Die hele volk moet sê: “•Amen! Halleluja!”
PSALMS 106:1-48 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet die Here prys. Julle moet vir die Here dankie sê, want Hy is goed, ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het. Niemand kan sê hoe sterk die Here is nie, niemand kan Hom reg prys nie. Dit gaan goed met mense wat aanhou om reg te oordeel, met mense wat altyd reg doen. Here, wanneer U goed is vir u volk, dan moet U ook aan my dink. Wanneer U hulle red, dan moet U my nie vergeet nie. Dan sal ek sien hoe goed gaan dit met u mense, U het hulle gekies. Ek sal bly wees wanneer u volk bly is, ek sal juig saam met die mense wat aan U behoort. Ons het sonde gedoen soos ons voorvaders, ons het verkeerde dinge gedoen, ons is skuldig. Ons voorvaders het in Egipte nie u wonderwerke verstaan nie, hulle het nie onthou dat U altyd doen wat U belowe het nie. Hulle was opstandig by die see, die Riet-see. Maar Hy het hulle gered omdat Hy God is, omdat Hy wou hê hulle moet weet dat Hy sterk is. Hy het hard gepraat met die Riet-see, en die see het droog geword. Hy het ons voorvaders laat deurloop op die plek waar daar voorheen diep water was, hulle het deurgeloop soos in 'n woestyn. Hy het hulle gered van die mense wat vir hulle gehaat het, Hy het hulle vrygemaak van hulle vyande. Die water het bo-oor hulle vyande gespoel, nie een van hulle het aangehou lewe nie. Toe het ons voorvaders geweet dat die Here doen wat Hy sê, hulle het gesing en Hom geprys. Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het, hulle het nie gewag totdat Hy vir hulle sê wat hulle moet doen nie. Hulle was honger vrate in die woestyn, hulle het God getoets in die woestyn. En Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het hulle ook siek gemaak en maer laat word. Hulle was in die kamp baie kwaad vir Moses en vir Aäron wat aan die Here gewy was. Toe het die aarde oopgegaan en vir Datan ingesluk, dit het toegegaan oor Abiram en sy vriende. 'n Vuur het hulle almal gebrand, 'n vlam het die mense verbrand wat verkeerd gedoen het. Hulle het by Horeb 'n kalfbeeld gemaak, hulle het gebuig voor 'n beeld. Hulle het hulle Koning gelos en hulle het 'n beeld aanbid, 'n beeld van 'n bul wat gras vreet. Hulle het vir God vergeet, God wat vir hulle gered het, God wat groot dinge gedoen het in Egipte, wonderwerke in die land van Gam, en dinge by die Riet-see, dit het die mense bang laat word. Die Here het besluit om hulle almal te laat sterf, en Hy sou dit gedoen het, maar Moses het vir Hom gesoebat om dit nie te doen nie. Die Here het voorheen vir Moses gekies, en Moses het nou gekeer dat die Here hulle nie almal doodmaak nie. Die mense het gemaak of die mooi land niks beteken nie, hulle het nie geglo dat die Here sal doen wat Hy gesê het nie. Hulle het in hulle tente gesit en kla, hulle wou nie luister na wat die Here sê nie. Die Here het vas besluit dat Hy hulle sou laat sterf in die woestyn, dat Hy hulle nageslag sou laat sterf tussen heidene, dat Hy hulle oral na ander lande sou jaag. Hulle het vir Baäl-Peor begin dien, hulle het vleis geëet wat die mense ge-offer het vir dooie afgode. Hulle het die Here kwaad gemaak omdat hulle verkeerde dinge gedoen het, en hulle het baie siek geword. Maar Pinehas het opgestaan en hy het die mense gestraf wat skuldig was, en toe het die mense nie meer siek geword nie. Mense sal altyd en altyd onthou dat Pinehas gedoen het wat reg was. Die volk het die Here kwaad gemaak by die Meriba-water, en dit het sleg gegaan met Moses omdat hulle dit gedoen het. Hulle het Moses baie kwaad gemaak, hy het nie gedink wat hy sê nie, en hy het dinge gesê wat baie verkeerd was. Die Here het vir die volk gesê hulle moet die volke wat heidene was, almal doodmaak, maar hulle het dit nie gedoen nie. Hulle het met heidene getrou en hulle het geleer om te doen wat die heidene doen. Hulle het die heidene se afgode begin dien, en dit het hulle vasgevang soos 'n vangstrik 'n voël vasvang. Hulle het hulle seuns en hulle dogters vir die veldgode ge-offer. Hulle het onskuldige mense vermoor, hulle het hulle eie seuns en dogters ge-offer vir die afgode van Kanaän. Hulle het die land vuil gemaak met bloed. Hulle het onrein geword oor die dinge wat hulle gedoen het, hulle was ontrou aan God, hulle het baie verkeerde dinge gedoen. Die Here het baie kwaad geword vir sy volk, Hy het nie meer gehou van die mense wat aan Hom behoort nie. Toe het Hy sy volk vir die heidene gegee, sodat die heidene oor hulle kon regeer, die heidene wat vir hulle gehaat het. Die volk se vyande het hulle verdruk en laat swaarkry. Die Here het hulle baie maal gered, maar hulle het besluit om opstandig te bly, hulle het altyd meer verkeerde dinge gedoen. Die Here het gesien dat dit sleg gaan met hulle en Hy het gehoor hoe hulle soebat dat Hy hulle moet help. Hy het toe gedink aan sy verbond met hulle en Hy het dit beter laat gaan met hulle, Hy het onthou dat hulle sý mense is. Hy het hulle vyande se harte verander, die vyande wat vir hulle gevang en weggevat het. Die vyande was toe jammer vir die volk van die Here. Ons God die Here, U moet ons red, U moet ons bymekaarmaak tussen die volke, sodat ons u heilige Naam kan sê en vir U dankie kan sê, sodat ons dit sal geniet om U te prys. Almal moet die Here, die God van Israel, prys, hulle moet Hom altyd en altyd prys. En die hele volk moet sê: Amen. Julle moet die Here prys!
PSALMS 106:1-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
HALLELUJA! Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Wie kan die magtige dade van die HERE uitspreek, al sy roem verkondig? Welgeluksalig is hulle wat die reg bewaar, die wat altyd geregtigheid doen. Dink aan my, o HERE, na die welbehae in u volk, besoek my met u heil, dat ek kan aanskou die geluk van u uitverkorenes, dat ek bly kan wees in die blydskap van u volk, my kan beroem met u erfdeel. Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het verkeerd gedoen, goddeloos gehandel. Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Skelfsee. Maar Hy het hulle verlos om sy Naam ontwil, om sy mag bekend te maak. En Hy het die Skelfsee gedreig, sodat dit opgedroog het, en hulle deur die watervloede laat gaan soos deur 'n woestyn. En Hy het hulle verlos uit die hand van die hater en hulle bevry uit die hand van die vyand. En die waters het hulle teëstanders oordek: nie een van hulle het oorgebly nie. Toe het hulle aan sy woorde geglo, hulle het sy lof gesing. Maar hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie. En hulle het baie begerig geword in die woestyn en God versoek in die wildernis. Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel 'n maerte gestuur. En hulle was in die laer afgunstig op Moses, op Aäron, die heilige van die HERE. Die aarde het oopgegaan en Datan verslind en die bende van Abíram oordek. En 'n vuur het gebrand onder hulle bende, 'n vlam die goddelose aan die brand gesteek. Hulle het by Horeb 'n kalf gemaak en gebuig voor 'n gegote beeld. En hulle het hul Heerlikheid verruil vir die afbeelding van 'n bees wat gras eet. Hulle het God vergeet, hulle Verlosser, wat groot dinge gedoen het in Egipte, wonders in die land van Gam, vreeslike dinge by die Skelfsee. Toe het Hy gesê dat Hy hulle sou verdelg, as Moses, sy uitverkorene, nie voor sy aangesig in die bres gaan staan het om sy grimmigheid af te keer, dat Hy nie sou vernietig nie. Hulle het ook die kosbare land versmaad, sy woord nie geglo nie; en hulle het gemurmureer in hul tente, na die stem van die HERE nie geluister nie. Toe het Hy sy hand teen hulle opgehef om hulle neer te slaan in die woestyn, en om hulle nageslag te versprei onder die nasies en hulle te verstrooi in die lande. Ook het hulle hul aan Baäl-Peor gekoppel en die offerandes aan die dooies geëet; en hulle het die HERE geterg deur hul dade, sodat 'n plaag onder hulle uitgebreek het. Toe het Pínehas opgetree en gerig geoefen, en die plaag het opgehou; en dit is hom gereken tot geregtigheid, van geslag tot geslag tot in ewigheid. Hulle het Hom ook vertoorn by die waters van Mériba, en dit het met Moses sleg gegaan om hulle ontwil; want hulle was wederstrewig teen sy Gees, sodat hy onverskillig gepraat het met sy lippe. Hulle het die volke nie verdelg soos die HERE aan hulle gesê het nie, maar hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer. En hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n strik geword. Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet — die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het — sodat die land deur bloedskuld ontheilig is. En hulle het onrein geword deur hul werke en gehoereer deur hul dade. Toe het die toorn van die HERE ontvlam teen sy volk, en Hy het 'n afsku gekry van sy erfdeel. En Hy het hulle in die hand van die heidene gegee, en hulle haters het oor hulle geheers; en hulle vyande het hulle verdruk, sodat hulle onder hul hand moes buig. Hy het hulle baiekeer gered; maar húlle was wederstrewig in hulle voorneme. So het hulle dan weggesink deur hul ongeregtigheid. Nogtans het Hy hulle benoudheid aangesien toe Hy hulle smeking gehoor het; en Hy het tot hulle beswil aan sy verbond gedink en berou gekry na die veelheid van sy goedertierenhede. En Hy het hulle medelyde laat vind by almal wat hulle as gevangenes weggevoer het. Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons uit die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof! Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!
PSALMS 106:1-48 Afrikaans 1983 (AFR83)
Prys die Here! Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring? Wie kan sy lof ten volle verkondig? Dit gaan goed met mense wat die reg handhaaf, wat by elke geleentheid geregtigheid doen. Dink aan my, Here, in u liefde vir u volk, sluit my ook in by u redding, dat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag aanskou en mag deel in die blydskap van u volk, my mag verheug saam met dié wat aan U behoort. Ons het gesondig, net soos ons voorvaders, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig. Ons voorvaders het in Egipte nie ag geslaan op u magtige dade nie, hulle het nie gedink aan al u dade van trou nie, hulle het teen U in verset gekom by die Rietsee. Maar Hy het hulle gered ter wille van die eer van sy Naam en om sy mag bekend te maak. Hy het die Rietsee aangespreek en dit het opgedroog, Hy het sy volk oor die seebodem laat trek soos oor droë grond. So het Hy hulle gered uit die hand van hulle haters, hulle bevry uit die mag van die vyand. Die waters het hulle teëstanders verswelg, nie één het oorgebly nie. Tóé het sy volk sy beloftes geglo en sy lof besing. Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het en nie op sy leiding gewag nie. Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn, daar in die barre wêreld het hulle die geduld van God beproef. Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar hulle van siekte laat wegteer. Langs die trekpad het hulle hulle in afguns teen Moses verset en teen Aäron wat aan die Here gewy was. Toe het die aarde geskeur en vir Datan verslind, dit het die bende van Abiram verswelg. 'n Vuur het hulle hele bende verteer, die goddelose het in die vlamme omgekom. By Horeb het hulle 'n kalf gemaak, voor 'n god van metaal gekniel. Hulle het die magtige teenwoordigheid van God verruil vir die beeld van 'n bees wat gras vreet. So het hulle vir God, hulle redder, vergeet, Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het, wonderdade in die land van Gam, magtige dade by die Rietsee. Die Here wou hulle verdelg, maar Moses, sy uitverkorene, het by Hom vir hulle in die bres getree om sy gramskap af te keer, sodat Hy hulle nie vernietig het nie. Hulle het 'n waardevolle land versmaai en die belofte van die Here nie geglo nie; hulle het in hulle tente gesit en mor en nie na die Here geluister nie. Toe het Hy 'n eed afgelê dat Hy hulle in die woestyn sou laat omkom, hulle nageslag sou laat sterf onder heidense nasies, hulle oor die wêreld sou verstrooi. Hulle het Baäl-Peor aangehang en geëet van wat aan die dooie afgode geoffer is. Hulle het die Here uitgetart met wat hulle gedoen het, en 'n plaag het onder hulle uitgebreek. Pinehas het opgetree en die skuldiges gestraf, en die plaag het opgehou. Dié optrede is deur al die geslagte heen vir Pinehas as 'n daad van geregtigheid toegereken. Die volk het die Here se toorn by die Meribawaters laat ontvlam, en Moses het die wrange vrugte van hulle optrede gepluk: hulle het hom so verbitterd laat raak dat hy onbesonne dinge gesê het. Hulle het nie die ander volke uitgeroei soos die Here hulle beveel het nie, maar hulle met die heidene vermeng en húlle praktyke aangeleer: hulle het die afgode van die heidene begin dien en daarin verstrik geraak. Hulle het hulle seuns en dogters aan veldduiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het. So is die land met bloed bevlek. Die volk het hulle verontreinig deur hulle optrede en het troubreuk gepleeg deur hulle dade. Die toorn van die Here het teen sy volk ontvlam, Hy het 'n weersin gekry in die volk wat aan Hom behoort en hulle aan heidene oorgegee, sodat hulle haters oor hulle geheers het. Hulle vyande het hulle verdruk en hulle onder hulle gesag laat buig. Talle kere het die Here sy volk gered, maar hulle het opstandig gebly en dieper in hulle sonde weggesink. Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood gesluit nie; Hy het hulle smeekgebede verhoor. Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink, en in sy groot liefde was Hy genadig. Hy het hulle medelye laat vind by dié wie se gevangenes hulle was. Red ons, Here ons God, maak ons bymekaar tussen die volke uit, dat ons u heilige Naam kan loof en ons in u lof kan verheug. Aan die Here die God van Israel kom die lof toe tot in die allerverste toekoms. Die hele volk moet sê: “Amen! Prys die Here!”
PSALMS 106:1-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Prys die HERE. Loof die HERE; want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Wie kan die magtige dade van die HERE verkondig? wie kan al sy lof verkondig? Geseënd is die wat die reg bewaar, en hy wat te alle tye geregtigheid doen. Dink aan my, o HERE, met die welbehae wat U aan u volk bewys; o besoek my met U heil; sodat ek die goeie van u uitverkorenes kan sien, dat ek my kan verbly in die blydskap van U nasie, dat ek my kan roem op U erfdeel. Ons het gesondig saam met ons vaders, ons het ongeregtigheid gedoen, ons het goddeloos gehandel. Ons vaders het U wonders in Egipte nie verstaan nie; aan die menigte van U barmhartighede het hulle nie gedink nie; maar hom geterg by die see, ook by die Skelfsee. Maar Hy het hulle gered ter wille van sy Naam, sodat Hy sy magtige krag bekend kon maak. Hy het ook die Skelfsee bestraf, en dit het opgedroog; en Hy het hulle deur die dieptes gelei, soos deur die woestyn. En Hy het hulle verlos uit die hand van die wat hulle haat, en hulle verlos uit die hand van die vyand. En die waters het hulle vyande bedek; daar het nie een van hulle oorgebly nie. Toe het hulle sy woorde geglo; hulle het sy lof besing. Hulle het gou sy werke vergeet; hulle het nie op sy raad gewag nie. Maar het baie begeer in die woestyn en God in die woestyn versoek. En hy het hulle versoek gegee; maar het maerheid in hulle siel gestuur. Hulle was ook afgunstig op Moses in die laer en op Aäron, die heilige van die HERE. Die aarde het oopgegaan en Datan ingesluk en die skare van Abiram bedek. En 'n vuur is aangesteek in hulle geselskap; die vlam het die goddelose verbrand. Hulle het 'n kalf op Horeb gemaak en die gegote beeld aanbid. So het hulle hul heerlikheid verander in die gelykenis van 'n bees wat gras eet. Hulle het God, hulle verlosser, vergeet, wat groot dinge in Egipte gedoen het; Wonderwerke in die land van Gam en verskriklike dinge by die Rooi See. Daarom het hy gesê dat hy hulle sou vernietig as Moses, sy uitverkorene, nie voor hom in die bres gestaan het nie, om sy toorn af te keer, dat hy hulle nie sou vernietig nie. Ja, hulle het die lieflike land verag, hulle het sy woord nie geglo nie. Maar hulle het in hulle tente gemurmureer en nie na die stem van die HERE geluister nie. Daarom het Hy sy hand teen hulle opgehef om hulle in die woestyn om te werp. Om ook hulle nageslag onder die nasies om te werp en hulle in die lande te verstrooi. Hulle het ook by Baäl-Peor aangesluit en die offers van die dooies geëet. So het hulle Hom tot toorn gemaak met hulle versinsels, en die plaag het op hulle uitgebreek. Toe het Pinehas opgestaan en oordeel voltrek, en so is die plaag opgehou. En dit is hom tot geregtigheid gereken van geslag tot geslag tot in ewigheid. Hulle het Hom ook kwaad gemaak oor die waters van twis, sodat dit met Moses siek gegaan het om hulle ontwil. Omdat hulle sy gees geterg het, sodat hy met sy lippe onverstandig gepraat het. Hulle het die nasies nie vernietig oor wie die HERE hulle beveel het nie. Maar hulle het onder die heidene vermeng en hulle werke geleer. En hulle het hul drekgode gedien, wat vir hulle 'n strik was. Ja, hulle het hulle seuns en hulle dogters aan duiwels geoffer, En het onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en van hulle dogters, wat hulle aan die drekgode van Kanaän geoffer het, en die land is met bloed besoedel. So is hulle dan met hul eie werke verontreinig en met hul eie versinsels gehoereer. Daarom het die toorn van die HERE teen Sy volk ontvlam, sodat Hy 'n afsku gehad het van sy eie erfdeel. En Hy het hulle in die hand van die heidene gegee; en die wat hulle haat, het oor hulle geheers. Hulle vyande het hulle ook verdruk, en hulle is onder hulle hand onderwerp. Hy het hulle baie keer verlos; maar hulle het hom geterg met hul raad en is verneder deur hul ongeregtigheid. Maar hy het hulle ellende gesien toe hy hulle geroep hoor: En Hy het vir hulle aan sy verbond gedink en hom bekeer volgens die grootheid van sy barmhartighede. Hy het hulle ook bejammer gemaak oor almal wat hulle as gevangenes weggevoer het. Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons onder die nasies, om U Heilige Naam te loof en te triomfeer in U lof. Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid, en laat die hele volk sê: Amen! Prys die HERE.
PSALMS 106:1-48 Die Boodskap (DB)
Prys die Here! Hy is goed. Sy goedheid hou net aan en aan, vir altyd! Wie op aarde het ooit genoeg woorde om te sê hoe groot en sterk die Here is? Wie kan sy Naam genoeg loof? God hou baie van elkeen wat doen wat reg is, wat elke kans aangryp om sy wil te doen. Hy laat dit goed gaan met sulke mense. Here, onthou my tog wanneer U vol vreugde is oor u kinders. Sluit my in wanneer U hulle help, sodat ek kan sien hoe almal wat U uitgekies het, oorloop van geluk. Ek wil bly wees saam met al u kinders. Ek wil feesvier saam met elkeen wat aan U behoort. Ons het baie verkeerde dinge gedoen, nes ons voorgeslagte. Ons het nie op die regte pad gestap nie. Ons het U elke keer in die steek gelaat. Daar in Egipte het ons voorouers hulle nie gesteur aan die groot dinge wat U gedoen het nie. Hulle het gou-gou vergeet hoe vol liefde en goedheid U is. Daarom was hulle so hardkoppig daar by die Rietsee. Maar die Here het hulle gered, om sy reputasie te beskerm. Hy wou vir hulle wys hoe groot Hy is. Hy het met die Rietsee gepraat, en in ’n oogwink was dit kurkdroog! Hy het hulle dwarsdeur die see laat stap asof dit ’n droë woestyn is. Hy het hulle gered uit die hand van hulle haters. Hulle is bevry uit die greep van die mense wat hulle laat swaarkry het. Die waters van die see het oor hulle vyande gespoel. Nie een het bly leef nie. Toe het die volk geglo dat die Here doen wat Hy sê. Hulle het Hom geloof en geprys! Maar hulle het gou-gou weer vergeet wat die Here gedoen het. Hulle was nie bereid om te wag totdat Hy vir hulle sê wat om te doen nie. Daar in die woestyn het hulle net aan hulleself gedink. Met hulle aanhoudende gekla het hulle God kwaad gemaak. Hulle het sy geduld beproef deur te eis dat Hy vir hulle kos gee. Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het hulle geestelik laat uithonger. Hulle het op ’n dag jaloers geraak op Moses en op Aäron, die een wat in die Here se diens gestaan het. Die aarde het toe oopgegaan en Datan ingesluk. Abiram se klomp handlangers is ook van die aardbol afgevee. ’n Vuur het onder hulle gebrand. Daar het niks van almal wat nie voor God wou buig oorgebly nie. By die berg Horeb het die volk ’n kalf van metaal gemaak, hulle eie handewerk aanbid. Hulle het die allerheiligste God verruil vir ’n dooie beeld, vir ’n beeld van ’n bul wat gras vreet. Hulle het heeltemal vergeet hoe God hulle gered het. Hulle het vergeet watter groot dinge Hy daar in Egipte gedoen het, sy magtige dade in die land van Gam en sy reusewonderwerk by die Rietsee. God se geduld met sy volk was op. Hy wou Israel vernietig, maar Moses, sy kneg, het Hom gesmeek om dit nie te doen nie. Hy het God se woede laat bedaar en gekeer dat die volk weggevee word. Die volk het die wonderlike land wat op hulle gewag het, deur hulle vingers laat glip; hulle het die Here nie op sy woord gevat nie. Al wat hulle gedoen het, was om in hulle woonplekke te sit en kla. Hulle het hulle ore toegedruk as die Here met hulle praat. Toe het God besluit: Genoeg is genoeg! Hy het gesê dat nie een van hulle die woestyn lewendig sou verlaat nie. Hulle kinders sou oor die aarde verstrooi word, hulle sou tussen ongelowiges gaan bly. Die volk het ook voor Baäl-Peor gebuig, hulle het kos geëet wat aan afgode wat dood is, geoffer is. Wat hulle gedoen het, het die Here baie kwaad gemaak; daarom dat ’n verskriklike siekte hulle getref het. Gelukkig het Pinehas ingegryp en die skuldiges gestraf. Toe het die siekte opgehou. Pinehas het gedoen wat reg is, sy nageslag sal dit altyd onthou. Daar by die fonteine van Meriba het die volk die Here weer kwaad gemaak, selfs Moses het gely onder hulle sonde. Omdat hulle vir die soveelste keer ongehoorsaam aan God was, het Moses kwaad geword en dinge gesê wat hy nie moes sê nie. Hulle het nie die goddelose volke uitgeroei soos die Here vir hulle gesê het om te doen nie, maar links en regs met ongelowiges begin trou. Kort voor lank het hulle net soos hierdie mense begin leef. Hulle het selfs hierdie mense se afgode aanbid en vasgevang geraak in afgodery. Hulle het hulle kinders geoffer op die altare van die duiwels. Hulle het onskuldige kindertjies doodgemaak, hulle eie seuns en dogters is aan Kanaän se dooie gode geoffer. Die hele land is met onskuldige bloed besoedel. Wat hulle gedoen het, het die Here gewalg. Soos sedelose vroue het hulle agter elke nuwe sonde op die mark aangehardloop. Toe het die Here baie kwaad geword vir sy volk. Hy wou niks meer met sy eie mense te doen hê nie. Hy het toegelaat dat hulle vyande bo-oor hulle loop, hulle is swaar verdruk deur hulle nuwe heersers. Hulle vyande het geen genade geken nie, hulle het Israel baie swaar laat ly. Keer op keer het God sy volk uit die gemors kom haal, maar hulle wou eenvoudig nie voor Hom buig nie, hulle het net al hoe dieper in hulle sonde weggesink. Maar God het gesien hoe swaar hulle kry, Hy het geluister as hulle Hom smeek om hulle te kom help. Hy het onthou dat Hy sy ooreenkoms met hulle gemaak het. Omdat sy hart oorloop van goedheid, het Hy sy hand weer na hulle toe uitgesteek. Hy het gemaak dat hulle verdrukkers hulle jammer gekry het. Ag, Here ons God, kom help ons tog! Kom haal ons hier tussen die nasies uit sodat ons u heilige Naam kan loof en bly kan wees oor al u goedheid! Die Here, die God van Israel, moet geloof word, nou en vir altyd. Laat die hele volk sê: “Amen! Dit is waar! Prys die Here!”
PSALMS 106:1-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Prys die HERE! Dank die HERE, want Hy is goed! Sy trou ken geen einde nie. Wie kan die magtige dade van die HERE beskryf, of sy lof ten volle bekendmaak? Gelukkig is hy wat geregtigheid laat geskied en wat altyd doen wat reg is. Dink aan my, HERE, wanneer U aan u volk guns bewys; kom my met u redding tot hulp sodat ek deel kan hê aan die voorspoed van u uitverkorenes, my verheug in die vreugde van u nasie, en U loof saam met u eie volk. Ons en ons voorouers het gesondig. Ons het oortree en is skuldig. In Egipte het ons voorouers die HERE se wonders gering geag, en sy baie dade van goedheid vergeet. By die Rietsee het hulle teen Hom in opstand gekom. Tog het Hy hulle gered ter wille van die eer van sy Naam, om sy mag bekend te maak. Op sy bevel het die Rietsee opgedroog sodat Israel op die seebodem kon trek. Dit was so droog soos ’n woestyn. Uit die vyand se mag het Hy hulle gered en hulle uit hulle teenstanders se mag verlos. Water het toe hulle vyande bedek. Nie een van hulle het dit oorleef nie. Toe eers het Israel sy beloftes geglo en het hulle sy lof besing. Tog het hulle gou sy dade vergeet en nie op sy leiding gewag nie. In die woestyn het hulle begeertes opgevlam. In die wildernis het hulle God se geduld beproef. Hy het gegee wat hulle gevra het, maar hulle ook getref met ’n siekte. In die kamp was hulle jaloers op Moses, en ook Aäron, wat aan die HERE gewy was. Die aarde het oopgegaan, Datan ingesluk, en Abiram en sy bende begrawe. Onder die bende het vuur gewoed, vlamme het die bose mense verteer. By Horeb het hulle ’n kalf gemaak, en ’n beeld van metaal aanbid. Hulle roemryke God het hulle verruil vir die beeld van ’n bees wat gras vreet. Hulle het God vergeet, hulle redder wat in Egipte groot dinge gedoen het: wonderlike dinge in die land Egipte, ontsagwekkende dade by die Rietsee. Hy het gesê Hy sou hulle vernietig, maar Moses, sy uitverkorene, het vir die volk in die bres getree en gepleit dat God hulle nie in sy toorn vernietig nie. Maar die volk het die vrugbare land verwerp, en nie sy beloftes geglo nie. Hulle het in hulle tente gekla en nie na die HERE geluister nie. Daarom het Hy ’n eed afgelê dat Hy hulle in die woestyn sal laat omkom, dat hulle nakomelinge onder die nasies sou sterf, en oor die aarde verstrooi sou word. Maar hulle het Baäl-Peor vereer en geëet van die offers wat aan dooie afgode gewy is. Met hulle dade het hulle Hom getart sodat ’n plaag hulle getref het. Maar Pinehas het tussenbeide getree, en so is die plaag gestuit. Hy is beskou as ’n regverdige man, geslag na geslag, vir altyd. By die waters van Meriba het hulle die HERE kwaad gemaak, en so het hulle vir Moses ernstige probleme besorg. Hulle het hom opstandig gemaak sodat hy onbesonne dinge gesê het. Israel het nie die nasies uitgeroei soos die HERE hulle beveel het nie en het eerder met die nasies vermeng en hulle bose gewoontes aangeleer. Hulle het die nasies se afgode vereer, en dit het vir hulle ’n strik geword. Hulle het hulle seuns en dogters aan demone geoffer. Hulle het onskuldige bloed vergiet, bloed van hulle seuns en dogters wat hulle geoffer het aan die afgodsbeelde van Kanaän, en so die land met bloed bevlek. Hierdie dade het hulle onrein gemaak, net soos iemand wat egbreuk pleeg. Die HERE se toorn het teen sy volk ontbrand, en Hy het sy eie volk verafsku. Hy het hulle oorgegee aan die nasies; hulle haters het oor hulle geheers. Hulle vyande het hulle verdruk en aan hulle mag onderwerp. Baie kere het Hy sy volk verlos, maar hulle het opstandig gebly en verder in hulle sondes weggesink. Tog het Hy hulle ellende raakgesien, en geluister na hulle hulpgeroep. Hy het gedink aan sy verbond met hulle, en Hy was genadig op grond van sy onfeilbare liefde. Hy het bewerk dat hulle veroweraars hulle met medelye behandel het. HERE ons God, red ons! Versamel ons weer uit die nasies sodat ons u heilige Naam kan prys, in U bly kan wees, en U kan loof. Geseënd is die HERE, God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! Laat die hele volk sê: “Amen!” Prys die HERE!